Ontmoet Myrtle: Die moeder van Atteridgeville

Myrtle Atteridge (Foto: Verskaf)

Atteridgeville is in Augustus 1940 as ʼn model-township gevestig, die trots van Pretoria. Dit is een van die min ouer nedersettings in die land wat na ʼn mens vernoem is, en dít terwyl daardie persoon nog gelewe het. Boonop was hierdie geëerde persoon ʼn vrou: Myrtle Patricia Atteridge.

Atteridge was in 1939 die eerste vrou wat die posisie van adjunk-burgermeester van Pretoria beklee het. Sy was ook die voorsitter van die komitee wat gemoeid was met sake wat Asiate en Bantoes, soos swart mense destyds genoem is, aangaan, en het met haar onvermoeide ywer hul respek verdien.

Onderwyser, raadslid, kampvegter en vrou

Myrtle is in Queenstown in die destydse Kaapprovinsie gebore en as onderwyser opgelei. Sy was van jongs af ʼn kampvegter vir vroue- en kindersake, asook billikheid vir alle mense.

Die storie oor hoe Myrtle by munisipale sake betrokke geraak het, is baie interessant. Haar man, mnr. WH (William) Atteridge, wat toe hoof van die Hamilton-skool in Pretoria was, het vier keer as kandidaat vir die munisipale raad gestaan, maar is nooit verkies nie. Toe hy in Oktober 1933 die vyfde keer wou staan – en waarskynlik hierdie slag suksesvol sou wees – is hy nie deur die Transvaalse Onderwysdepartement toegelaat nie.

Op 2 Oktober 1933 skryf Myrtle aan Wyk 5, van Sunnyside, dat sy besluit het om vir die stadsraad te staan omdat haar man verbied is om dit te doen. Sy het geglo dit is absoluut noodsaaklik dat daar een of twee vroue op die stadsraad dien. As onderwyser van beroep is sy bekend met kwessies oor openbare gesondheid en kinderwelsyn, wat sy as essensiële vrouewerk beskou, en noem dat dit dikwels afgeskeep word.

‘n Foto van Atteridgeville se stadsraad. (Foto: Verskaf)

Myrtle wen die verkiesing met die meeste stemme wat ʼn vrou nog in die Transvaal behaal het, teen dr. Theol Wassenaar, ʼn prominente Nasionalis. Sy was slegs die derde vrou wat op Pretoria se munisipale raad gedien het.

Die Atteridge-egpaar en hul twee seuns, Raymond en William, het in daardie stadium reeds vir 25 jaar in Pretoria gewoon en was bekende inwoners. Myrtle is aangestel as lid van die komitees oor gesondheid, naturellesake en aanstellings van Pretoria se stadsraad. Sy het ook ʼn prominente rol in die hoofstad se maatskaplike sake gespeel as sekretaresse van die Guild of Loyal Women, lid van die Home for Friendless Women, ʼn stigterslid van die Pretoria vroueklub, lid van die Nasionale Raad vir Vroue, en lid van die Civic Society, wat barmhartigheidswerk gedoen het. Die vroue in haar wyk, “beide Hollands en Brits”, was baie entoesiasties om haar te help.

Myrtle het geglo dat ʼn goed gebalanseerde stedelike opinie vereis dat daar vroue in die plaaslike bestuur moet wees. “Die vrou veg vir die huis, gesondheid, geluk en vrede. Sy sal altyd ʼn besadigde invloed op die stedelike beleid uitoefen. Net soos in die huisgesin, so moet mans en vroue saam regeer in stedelike sake.”

Die vestiging van Atteridgeville

Een van die prestasies waarvoor sy onthou word, is die plasing van Atteridgeville naby aan Pretoria se werksgeleenthede en winkels, eerder as op die plaas Elandsfontein 352 JR waar dit oorspronklik beplan is, maar wat verder uit die stad uit was.

‘n Koerantknipsel in verkiesingstyd. (Foto: Verskaf)

As een van die raadslede bemoei met die besluit oor waar die stad se swart mense van Marabastad, Newclare, Bantule, Lady Selborne en Hove’s Ground heen geskuif moet word, het sy baie kritiek en teenstand beleef. Sy het egter die oneffektiwiteit van die migrantewerkerstelsel uitgewys en daarom die plasing van Atteridgeville nader aan die stad versoek. Met haar argumente het sy daarin geslaag dat dit van die middestad na die weste, naby die nuwe staalwerke, geskuif word.

Na die verskuiwing het sy haar beywer vir verpligte laerskoolonderrig in die nedersetting, sportgronde, sosiale klubs en biblioteke vir swart mense sodat hulle hul tyd goed kan benut. Ek lees in ʼn koerantknipsel die lys van haar planne en strewes: “Die geleentheid vir swart mense om hul eie huise te koop. Gratis mediese dienste en hospitalisasie vir swart mense, so ver moontlik onder die sorg van gekwalifiseerde swart dokters en verpleegsters. Vrye toelating van swart mense tot universiteite, sodat hulle professioneel kan kwalifiseer. Die verwydering van die kleurgrens in die Uniegrondwet en in besighede.”

In Atteridgeville het die inwoners baksteenhuise, beligting en spoeltoilette gehad. Die nedersetting is later ook per trein met Pretoria se middestad verbind om hul lewensomstandighede sodoende verder te verbeter. Skole, kleuterskole, klinieke en meer is mettertyd daar gebou en uitgebrei.

Uit dank en eerbetoon vir al haar harde werk, het die inwoners van die nuwe nedersetting self gevra dat dit Atteridgeville genoem word, eerder as die oorspronklike voorstel van “Motse Mogolo”. Hulle het haar ook die eretitel van “MaBatho” gegee – die moeder van die mense.

Haar politieke en maatskaplike ywer

“As julle my die eer gee om as jul verteenwoordiger in die stadsraad te dien, sal ek altyd daarna streef om julle goed en getrou te dien.”

Haar aanstelling as stadsraadslid. (Foto: Verskaf)

Dít was ʼn strewe waaraan Myrtle Atteridge gestand gedoen het in haar jare op die stadsraad van Pretoria. In ag genome die moeilike ekonomiese tye waarin sy as raadslid gedien het, in die jare van die Tweede Wêreldoorlog en daarna, was Myrtle ten gunste daarvan dat die munisipaliteit openbare werke doen wat verligting aan die werkloses bring.

Haar wyk, wat Sunnyside en Brooklyn ingesluit het, is oor die jare heen afgeskeep en daar was talle onvoltooide paaie in die wyk. Sy het aan kiesers belowe dat sy die stelsel wat bepaal watter paaie gebou moet word en waar geld toegeken word, sal help verander. Sy het ook geglo dat die belastingbetaler nie verder onder druk geplaas kan word nie, maar dat belasting eerder verlig moet word. Verder was die vervoerbeleid van die stad oneffektief, met baie geld wat verlore gegaan het danksy die trems en busse. Sy wou ook ʼn swembad vir die oostelike deel van Pretoria laat bou.

Myrtle het uitgewys dat die stadsraad baie wins maak op water- en ligterekeninge en dat sy daarvoor sal veg dat die prys moet verlaag. Ook dat alle aanstellings en bevorderings binne die munisipale diens net op meriete moet geskied. Volgens haar is die stadsraad ʼn groot besigheid wat volgens sakebeginsels bestuur moet word.

Vir die stadsraadverkiesing van Oktober 1945 vertel ʼn koerantknipsel wat sy alles vir die buurt Nu-Muckleneuk tussen die jare 1933 en 1945 gedoen het. Sy beskryf dit as ʼn buurt wat nie hoef terug te staan vir enige voorstad van Pretoria nie – “en dit so goed as deur my inspanning alleen”. Haar inspanning het gesorg vir die aanlê van strate, oopgrawings en gate wat die buurt ontsier het is opgevul, ʼn kinderpark is daargestel, en ʼn waterrioolstelsel is geïmplementeer.

Sy het ook die soldate wat in die Tweede Wêreldoorlog gaan veg het se belange bevorder en gevra dat daar twintig huise uitgehou word in die nuwe behuisingskema vir soldate wat “onbekwaam” geword het in die oorlog.

Haar nalatenskap

Die ouer Myrtle. (Foto: Verskaf)

Benewens haar stadsraadwerk was Myrtle lid van die dranklisensieraad en trustee van die staatsbiblioteek, die Rooikruisvereniging, die Jeugraad, Volkswelsyn, en die Transvaalmuseum. Sy het ook haar gewig agter die Nasionale Vroueraad, die Women’s League of Voters en verskeie liefdadigheidsorganisasies ingegooi.

Koerante beskryf haar belangrikste prestasies egter as dié wat sy op die maatskaplike terrein behaal het, veral die sopkombuise wat sy begin het.

In ʼn koerantberig oor Myrtle wat ek in Pretoria se biblioteek opspoor, beskryf die joernalis haar as ʼn vrou wat “deeply and sincerely earnest” is oor die openbare diens waartoe sy geroep is en wat die welstand van haar wyk – Europees en nie-Europees – ter harte neem. Vir hierdie hart het Atteridgeville en Sunnyside haar vandag veel te danke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Susanna ·

Dit grief my net ongelooflik. Want orals hoor jy van mense wat opstaan vir regte van ander, maar dan sal hulle sleg gesê word. As die artikel in die verkeerde hande beland, gaan hulle seker Atteridgeville se naam dadelik verander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.