Oor ʼn krulkopdigter en die Spar-strokie-gedig

Die 17-jarige Danica Meiring is ‘n aspirantdigter van Witbank in Mpumalanga. (Foto: Ries-O-Graphy)

ʼn Spar-strokie, iets om mee te skryf en moles oor ʼn kan melk. Dít is al wat Danica Meiring eenslag nodig gehad het om ʼn gedig te skryf, al sou sy later tot haar ergernis hoor dat haar ma die strokie onwetend in die vullis gegooi het.

“Ek het in die supermark se rakke gestaan en dagdroom, terwyl my ma ʼn bohaai oor die prys van ʼn 4 liter-kan melk gemaak het. Haar woede oor iets eenvoudigs het my so geïnspireer dat ek (ná ons uiteindelik betaal het) inderhaas by die kar moes uitkom,” onthou Danica.

“Al wat ek in die hande kon kry, was ʼn pen en die strokie wat ek uit die sak moes grou. Dit het my natuurlik niks gehelp nie, want toe ek my ‘goue strokie’ soek, het Moeder hom onbewus in die vullis gegooi.”

Dit was waarskynlik die vreemdste ding waarop sy al ʼn gedig neergeskryf het, vertel Danica, en voeg by dat dit wel nie haar eerste kennismaking met digkuns was nie.

“My vroegste herinnering van poësie was in die Afrikaansklas, en ek het dit gehaat,” verklap dié 17-jarige krulkop. “Ek het mettertyd agtergekom dat ek aanklank daarby vind en dat dit vir my makliker is om probleme, kommer en frustrasies op papier te verwoord.”

Danica, ʼn boorling van Witbank in Mpumalanga en ʼn matrikulant aan Hoërskool Generaal Hertzog, het haar eerste gedig in 2016, toe sy graad sewe was, geskryf.

“Ek het in die wiskundeklas gesit en geen benul van die werk gehad nie. Die juffrou het vir ons ʼn som gegee om uit te werk en ek moes toe maar iets anders kry om te doen sodat dit ten minste lyk of ek besig is om te werk,” skerts sy.

Danica se liefde vir skryfkuns en woorde het algaande gedy. Sy het alles wat daarmee geassosieer word gelate aanvaar – selfs die welige haardos wat dikwels as ʼn “kroeskop” beskryf word.

Danica Meiring saam met juffrou Chinay Nel. (Foto: Verskaf)

“Soos baie ander skrywers is my hare altyd in een of ander snaakse styl bo-op my kop vasgemaak, my skryfruimte is deurmekaar en my notaboekies lê die hele wêreld vol,” vertel Danica. “Maar wanneer my skoolwerk betrokke is, is ek uiters perfeksionisties.”

Om ʼn digter op skool te wees, moet ʼn mens waarskynlik senuwees van staal hê. Veral as jou krulhare wolhaarstories ontlok.

“Mense spot my gedurig oor my hare. Hulle is só lief daarvoor om my ʼn ‘kroeskop’ te noem. Party mense glo selfs dat ek net kan skryf omdat my hare my kop deurmekaar maak. Nietemin hou ek steeds aan met my skryfwerk en gebruik hul kommentaar as brandstof om myself aan te spoor om meer te skryf.”

Twee van Danica se onderwysers speel ʼn enorme rol in die ontwikkeling van haar skryfwerk. Eerstens, juffrou Stephane Botha wat haar aanspoor om risiko’s te neem, en tweedens juffrou Chinay Nel wat groot belangstelling in haar werk toon en daardeur al talle deure vir Danica oopgemaak het.

“Juffrou Stephane sê altyd vir my: ‘Doen elke dag iets wat jy nooit gedink het jy kan nie doen nie. Jou sukses is die somtotaal van al die kleiner dinge wat jy daagliks doen’, en ‘Hoe meer risiko’s jy neem, hoe meer selfvertroue kry jy en hoe makliker word dit om nuwe uitdagings aan te pak’.”

Buiten dié twee onderwysers het Danica nie regtig ander rolmodelle in die digwêreld nie omdat sy glo elke persoon ʼn storie het om te vertel en daardeur op verskillende maniere haar lewe verryk. Sy voeg vinnig by as daar één digter is wat haar mond laat oophang, is dit Ingrid Jonker.

“Om op die ouderdom van ses te begin dig, inspireer my om nie terug te staan wanneer ouer skrywers of suurknolle op my neerkyk omdat ek jonk is nie,” sê Danica.

Haar raad aan ander jong skrywers is om nietemin na meer ervare digters, selfs skrywers, en kenners te luister en bereid te wees om kritiek te aanvaar.

“Soms is dit regtig moeilik om jou eie kreatiewe pogings te evalueer.  Terugvoer help ons om beter te verstaan.”

Danica Meiring saam met juffrou Stephane Botha. (Foto: Verskaf)

Danica het in 2020 by twee geleenthede erkenning vir haar skryfwerk ontvang. Sy het Kreatio se Komieklike Kortverhale-skryfkompetisie gewen, asook tweede plek in die Ingrid Jonker: L’Art Poétique-kompetisie behaal.

Ons liefde was soos die
kort lont van ‘n bom. Soos ‘n
koronêre vatafsluiting,
fataal, verval in ‘n koma.
Al was dit in die
harteenheid, sou ons
steeds niks daaraan kon
doen nie. Danica Meiring

Sy beskou dit as ʼn groot prestasie en meen dit is ongelooflik om te weet dat haar werk raakgesien word.

“Om op so ʼn jong ouderdom só baie te kan bereik, is ongelooflik. Ek is opgewonde om te sien wat die komende jaar vir my inhou.”

ʼn Bekende Afrikaanse rockgroep het ook glo reeds vir Danica genader oor die moontlikheid om lirieke vir hulle te skryf. Daar kan in die stadium nie veel hieroor gerep word nie, behalwe dat sy hopelik teen die einde van 2022 al by die groep musikante sou kon aansluit en ʼn hele paar liedjies saam met verskeie kunstenaars kon skryf.

Intussen maak sy solank ander planne vir verdere studie en haar loopbaan. Danica gee te kenne dat sy na skool joernalistiek gaan studeer, ongeag haar jarelange droom om ʼn loopbaan in medies te volg.

“Hoewel ek nog altyd graag in ʼn mediese rigting wou studeer, dink ek my skryfwerk sal my verder neem. My langtermyndoelwit is om op 25 ten minste vyf digbundels op die mark te hê,” vertel Danica.

Dié krulkopdigter leef vreesloos haar passie vir woorde en skryfkuns uit. Wanneer sy nie besig is om te skryf nie, sit sy met haar neus in ʼn boek, of sy doen moeite om taalskatte (soos idiome, uitdrukkings of nuwe woorde) te ontdek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Stof

Woordsmokkelaars inspireer my. Elke berig wat nog ‘n woordkunstenaar bekendstel, gee my soveel hoop vir soveel ander talentvolles wat onseker is wat om met hulle talent te maak. Om te griffel, en veral op so ‘n wyse dat dit ander inspireer en heel, of hulle selfs net laat verkneukel in ‘n sosiale situasie, is ‘n gawe.
Mag Danica, haar werk en die besondere wyse hoe sy Vader eer deur hierdie Godgegewe talent so toelaat om te blom, vir haar ‘n ewige sterretjie op haar voorkop besorg.