Parel Vallei behaal driekuns by ATKV-Tienertoneel

‘n Toneel uit die produksie “Wegwêreld”. (Foto: Nardus Engelbrecht)

“Die suksesresep, as jy my vra, is iemand wat die span bymekaarbring, en dit is wat Darryl Spijkers regkry. Hy is absoluut die voorloper wat die fondament skep waarop ʼn mens kan voortbou.”

Só sê Lindie Strydom, wie se kroos vanjaar weer deel van die uitblinkers by die 59ste ATKV-Tienertoneel is. Strydom se drie tieners, Paul, Hugo en Nina, is in Hoërskool Parel Vallei en sy was tot in Mei by die skool se bemarking betrokke.

Dié skool is Vrydag vir die derde agtereenvolgende jaar as die nasionale wenner van die ATKV-Tienertoneelkompetisie bekroon met die produksie Wegwêreld. Hulle ontvang R30 000 prysgeld, die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee en ʼn speelvak by die Toyota US Woordfees op 14 en 15 Oktober.

Die toekennings is tydens ʼn spoggeleentheid by die Lyric-teater by Gold Reef City in Johannesburg oorhandig.

Hoërskool Parel Vallei is vanjaar ook as die naaswenner aangewys en ontvang R20 000 prysgeld vir 23 kg. Hoërskool Martin Oosthuizen se Bulldozer het in die derde plek geëindig en die produksie ontvang R10 000 prysgeld.

Benewens Wegwêreld en Slaansak, het Hoërskool Parel Vallei ʼn derde produksie 23 kg onder Spijkers se leiding aangebied. Volgens Strydom is Wegwêreld een van die grootste produksies wat die skool tot dusver aangebied het met meer as 40 leerders wat betrokke was.

Dit is ook die tweede keer dat Strydom se seun, Paul, die prys vir beste akteur in ʼn hoofrol wen. In 2022 is hy bekroon vir sy rol as Paul in mAaNmAaTs en vanjaar vir sy rol as Tomie in Wegwêreld.

Strydom vertel aan Maroela Media dat pryse en erkenning egter net een van die redes is waarom sy trots op haar kinders en die skool se prestasie is. Sy sê dit gaan vir haar meer oor die proses en die groei wat plaasvind, en die manier waarop die skoolgemeenskap byeenkom.

“Ek is trots op die vriendskappe wat gevorm is, op die kameraderie, op wie ons tieners in die proses word soos wat hulle op hierdie reis gaan. Darryl is altyd die eerste een om ons te herinner dat wen nie ʼn trofee is nie. Dit is ʼn gevoel.

‘n Toneel uit die Tjokkertoneel-produksie “Agt”. (Foto: Nardus Engelbrecht)

“Tienertoneel is ook ʼn groot spanpoging. Leerders repeteer en werk hard om woorde te leer, en as ouers en skoolgemeenskap bly jy nie net ʼn toeskouer nie. Almal word deel van die proses, die ontwikkeling van die produksie en die toneelervaring. Daar is ouers wat inspring om te help klere maak, en ander sit weer ʼn hand by met die stel.”

Meer as 3 000 tieners van reg oor Suid-Afrika het vanjaar aan die ATKV-Tienertoneelkompetisie deelgeneem. Dit is ook die derde jaar wat die ATKV-Tjokkertoneel plaasvind en hierdie jaar het 628 kinders hulle stories op die verhoog vertel.

Die tien top-ATKV-Tienertoneelproduksies, waaronder die eerste twee produksies in die slegs-leerderskategorie, en die ses top-ATKV-Tjokkertoneelproduksies, het van 3 tot 6 Oktober meegeding in die eindronde wat by die Lyric-teater by Gold Reef City in Johannesburg plaasgevind het.

Kenners uit die bedryf wat in die beoordelaarstoele was, is Solomon Cupido, Lindsey Cele, Marlo Minnaar, Marié-Heleen Coetzee, Jacques Bessenger, Mari Molefe van Heerden, Wilhelm van der Walt en André Lotter.

Die gehoor is tydens die toekenningsgeleentheid met verskeie items deur verskillende dansers vermaak en die akteur en komediant Solomon Cupido was die pittige seremoniemeester by die geleentheid.

“As die sinkdakke kon skree”. (Foto verskaf)

Die beste jong toneeltalent is tydens ʼn spogprysuitdeling op 6 Oktober aangewys. Hier volg ʼn volledige lys met wenners in vanjaar se ATKV-Tienertoneelkompetisie:

  • Beste verhoogbestuurder: Ella Pennikof van Hoërskool Parel Vallei met 23 kg.
  • Beste klankoperateur: Owen van der Linde van Hoërskool Jan van Riebeeck met Praat gou weer.
  • Beste beligtingsoperateur: Danielle van der Watt van Hoërskool Noordheuwel met As die sinkdakke kon skree.
  • Beste hantering van tegniese aspekte: Hoërskool Parel Vallei met Wegwêreld.
  • Mees belowende spel in ʼn rol: Darren Cloete van Hoërskool Jan van Riebeeck as Daniël Meyer in Praat gou weer.
  • Beste akteur in ʼn ondersteunende rol: Joshua Simone van Hoërskool Parel Vallei as Brumilda Brummel in Wegwêreld.
  • Beste aktrise in ʼn ondersteunende rol: Jana du Piesanie van Hoërskool Durbanville as Olivia in Die S-effek.
  • Beste akteur in ʼn hoofrol: Paul Strydom van Hoërskool Parel Vallei as Tomie in Wegwêreld.
  • Beste aktrise in ʼn hoofrol: Danelle Jacobs van Hoërskool Martin Oosthuizen as William in Bulldozer.
  • Beste ensemblewerk: Hoërskool Parel Vallei met Wegwêreld.
  • Beste regisseur: Darryl Spijkers van Hoërskool Parel Vallei met Wegwêreld.
  • Beste media-en-bemarkingsportefeulje tydens die ATKV-Tienertoneelkompetisie vir 2023, wat ʼn kontantprys van R5 000 ontvang: Hoërskool Parel Vallei met Wegwêreld.
  • Beste slegs-leerdersproduksie, wat ʼn kontantprys van R10 000 ontvang: Hoërskool Parel Vallei met Slaansak.

‘n Toneel uit die produksie “Woudwonde”. (Foto verskaf)

Toekennings vir individuele presteerders op nasionale vlak is vanjaar ook aan die ATKV-Tjokkertoneelproduksies oorhandig. Die wenners in hierdie kategorieë is:

  • Beste hantering van tegniese aspekte: Laerskool Roodekrans met Woudwonde.
  • Beste ensemblewerk: Curro Durbanville (Laerskool) met Agt.
  • Beste aktrise in ʼn hoofrol: Judi Hattingh van Curro Durbanville (Laerskool) as Julia in Agt.
  • Beste akteur in ʼn hoofrol: Hanru Meyer van Laerskool Roodekrans as Basjan in Woudwonde.
  • Beste regisseur: Cecilia Wesson van Curro Durbanville (Laerskool) met Agt.

Curro Durbanville (Laerskool) is as die nasionale wenner van die ATKV-Tjokkertoneelkompetisie gekroon met die produksie Agt.

“Praat gou weer”. (Foto: Nardus Engelbrecht)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.