Pot soek ʼn deksel: Kies nou die maat vir wie jy wil skryf

Argieffoto (Foto: Kathrin Pienaar/Pixabay)

Selfs onder gewone omstandighede is dit soms moeilik om ʼn maat te kry. Die afsonderingsmaatreëls wat ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp, het dit selfs nog moeiliker gemaak om sosiaal te verkeer en dit gaan waarskynlik nog vir ʼn wyle só voortduur.

Maar dis mos waarom Maroela Media die lekkerste kuierplek op die internet is: Hier geld geen aandklokreël of inperkingsregulasies nie. Met ons “Pot soek ʼn deksel” wil ons jou help om in hierdie tyd ʼn maat te kry – of dit nou sommer net ʼn penvriend, ʼn platoniese vriend of vriendin, of ʼn lewensmaat is.

ʼn Paar van ons lesers het laat weet na wie hulle op soek is of van wie hulle graag wil hoor. Is jy dalk nou een van dié persone se pasmaats? Loer na wie hulle op soek is, besluit op wie se boodskap jy graag wil reageer en laat weet ons dan vir wie ons jou brief moet stuur.

Hoe werk dit?

  • Besluit op wie se boodskap jy graag wil reageer.
  • Voltooi dan die vorm onderaan waar jy jouself bekendstel aan die persoon in wie jy belangstel.
  • Maroela stuur dan (in ʼn privaat e-pos) jou brief en kontakbesonderhede aan die betrokke persoon en hulle kan kies om met jou kontak te maak of nie (jou kontakbesonderhede en brief word glad nie op Maroela gepubliseer nie).
  • Indien die persoon van jou brief hou, staan dit hulle dan vry om privaat met jou te begin korrespondeer.
  • Maroela het dan geen verdere betrokkenheid in julle korrespondensie nie en ons kan ook nie aanspreeklik gehou word as die betrokke persoon besluit om nie met jou kontak te maak nie.

Jy moet natuurlik enkellopend wees as jy belangstel om met iemand kontak te maak. Onthou dat alle reëls steeds geld vir enigiemand wat jy oor die internet ontmoet – wees versigtig en maak seker van iemand se ware identiteit voor jy inligting soos jou telefoonnommer of woonadres met iemand deel! Die sluitingsdatum om jou skrywe in te dien is 20 September 2020 om 23:45.

Waarvoor wag jy?

Kies nou jou pasmaat (let op dat jy eers ʼn Maroela-fonteiner moet wees as jy wil inskryf en dus op die “word deel”-knoppie moet klik – word gerus ʼn inwoner, jou verblyf is gratis! Sodra jy jou intrek geneem het, kan jy die vorm kom voltooi)

  • Lia (36) van Pretoria (enkellopende vrou)

Lia

Mense beskryf my as stil, sag en baie rustig. Ek stem saam, maar daar is meer aan my. My hart klop warm vir die see, bos en berge en om foto’s van die mooi te neem. Saam met my besige hond loop ons gereeld ʼn hondeparkie plat. (Hy hardloop!) Ek is ʼn Christen en my geloof is baie belangrik vir my. Baie mense weet nie dat ek ʼn nie-identiese tweelingsus het nie. Ons persoonlikhede verskil baie, maar ons ken mekaar goed. Ek het ook ʼn jonger en ouer sus. Ek soek ʼn maat wat die Here dien en met integriteit leef. Iemand saam met wie ek baie kan lag, diep dinge mee deel en by wie ek myself kan wees. Iemand wat ook lief is vir die natuur, mense en diere. Skryf aan my as jy in jou laat 30’s of vroeë 40’s is.


  • Hoopvolle dromer (35) van Pretoria, Gauteng (ongetroude vrou)

Ek was nog nooit getroud nie en het geen kinders nie. Ek is ʼn Christen met goeie waardes en normes wat nog hoopvol is en aanhou droom dat my spesiale lewensmaat iewers vir my wag. Ek is baie lief vir kinders en sal graag eendag kinders wil hê. Ek is ʼn eerlike meisie wat graag my drome, ideale en passie sal wil deel met ʼn spesiale lewensmaat. Ek hou van lees, kuier saam met vriende, die buitelug, om kreatief te wees en om voluit te lewe. Mans tussen 35 en 40 jaar oud, verkieslik in die Pretoria-omgewing, maar mans van ander provinsies kan ook vir my skryf. Ek is op soek na ʼn vriend met wie ek lekker kan gesels en iemand wat ek beter kan leer ken en dat dinge dan later dalk op ‘n romantiese verhouding kan uitloop. Ek wil graag hoof van mans met goeie gewoontes, waardes en ambisies wat ook voluit lewe en die lewe geniet.


  • Bloudolfyntjie (52) (geskeide vrou)

Bloudolfyntjie

Die tyd is reg vir ʼn nuwe avontuur om saam met iemand te gaan stap en die land plat te toer met ʼn tentjie. Ek hou van die platteland en die natuur en kan nog nie besluit of die see of die bos die mooiste is nie. Die lekkerste van ʼn roadtrip is om mooi natuurtonele of museums of interessante plekkies te besoek. Ek kies altyd the road less travelled and that makes all the difference. Ek is ʼn onderwyseres. Ek glo daar is ruimte vir almal se verskille en is lief vir God en kinders. Skryf vir my as jy ʼn man van God is wat hou van die dinge van die natuur en net so min hou van inkopies doen as ek. Ek glo dat ouderdom relatief is tot mens se denke, maar ʼn te groot ouderdomsverskil lei tot ‘n generasiegaping.


  • Dina (laat 20’s) (enkellopende vrou)

Ek is ʼn Christelike vrou in my laat 20’s. Ek het grootgeword op ʼn melkplaas met vars lug en die wekker van ʼn melkstal. Ek is baie lief vir diere en die plaaslewe, ten spyte van die feit dat ek in die stad woon. Om te lees en rustig te wees is een van my gunstelingtydverdrywe. My gunstelingskrywers sluit in Brandon Sanderson en Francine Rivers. Ek is ook mal daaroor om te gaan stap en die natuur in te drink (nie dat ek verskriklik fiks is nie). My vriende beskryf my as bedagsaam. Mans tussen die ouderdom van 29 en 35 is welkom om vir my te skryf. Dit is belangrik dat hy die Here eer en volgens Sy wil leef. ʼn Liefde vir diere en die natuur is ʼn moet, ʼn liefde vir lees is ʼn bonus. Ek is op soek na ʼn platoniese verhouding wat dalk kan opbou na ʼn romantiese verbintenis.


  • Drakie (22) (enkellopende vrou)

Drakie

Ek is ʼn student en studeer kriminologie deur Unisa. Ek geniet dit om te swem, boek te lees en tyd saam met my familie te spandeer. Ek is ook mal oor diere. Ek gee baie om oor my studies en spandeer baie tyd daaraan. Familie is vir my baie belangrik. Skryf vir my as jy vriendelik en lojaal is en weet hoe om te lag en my te maak lag. Familie moet vir jou belangrik wees en jou werk of studies moet ook belangrik wees vir jou. Ek is op soek na iemand met wie ek kan gesels maar by wie ek ook net in stilte bymekaar kan wees.


  • Lucky Luke (33) van Sasolburg, Vrystaat (enkellopende man)

Ek is ʼn 33-jarige enkellopende en selfversorgende man. Ek het geen kinders nie. Ek is ʼn nie-roker maar geniet wel my drankie. Ek hou van sosiaal verkeer saam met vriende en familie en hou ook van musiek en sport. Ek glo ek beskik oor ‘n goeie sin vir humor en is ʼn lojale vriend. Ek ag vertroue baie hoog, asook opreg wees. Net soos wat ek hou van skerts en laf wees, hou ek van wonder oor die diepere dinge in die lewe. Ek is op soek na vriendskap wat dalk kan lei tot iets meer later. Dames tussen die ouderdom van 25 tot 40 wat dieselfde waardes deel as wat ek genoem het en dieselfde belangstellings as ek het, kan vir my skryf. Ek hoor graag van eerlike, opregte plat-op-die-aarde mense wat weet wat hulle wil hê in die lewe en my onvoorwaardelik sal aanvaar.


  • Britney (28) van Valsbaai, Wes-Kaap (ongetroude vrou)

Britney

Valsbaai is die mooiste plek in Suid Afrika en dis waar ek woon saam met my ma en worshond. Ons bestuur saam ons gastehuis wat uitkyk oor die see. My gunstelingtydverdryf is om met ons worshond te gaan stap op die strand. Op ander tye, as ek nie werk nie, kyk ek graag flieks en speel games op my selfoon. Ek luister graag na musiek en my gunstelinge in die stadium is Billie Eilish en Alexis Ffrench. Ek is ook baie lief vir klasieke musiek. Ek is ʼn Christen en gaan gereeld kerk toe. Ek sal hou van iemand wat romanties en ordentlik is. Iemand wat my soos ‘n koningin laat voel en vir wie ek soos ‘n koning sal behandel. Asseblief nie ‘n roker of iemand wat drugs gebruik nie, verkieslik ook ‘n Christen.


  • Ammie (59) van Stellenbosch, Wes-Kaap (geskeide vrou)

Ammie

Ek is selfversorgend, lief vir kuier, maar ook gemaklik met myself en my eie tyd. Ek hou van lees en ek het gereeld gim toe gegaan voor lockdown. Ek het veral gereeld geswem. Ek werk deesdae aanlyn vir myself, skryf ‘n bietjie en is eintlik bietjie van ʼn tegnologie-“junkie”. Ek was vir baie jare ʼn rekenaarprogrammeerder. Ek bly in ʼn huisie op ʼn plaas buite Stellenbosch en wil nog die wêreld gaan reis so gou ons weer kan. Ek hoor graag van mans tussen 50 en 70, wat selfversorgend en gesond is. Ek weet almal soek ʼn eerlike man, maar ek soek REGTIG iemand wat eerlik is, wat ʼn intelligente vrou kan waardeer en sommer net ‘n lekker mens is. Op ons ouderdom het ons almal bagasie, maar dalk kan ons die bagasie agter los en net bietjie die lewe geniet. Ek is nie op soek na ʼn ryk man nie, maar ek gaan beslis nie vir ʼn man sorg nie. Solank ons elkeen net vir onsself kan sorg.


  • Rian (40) (geskeide man)

Ek is geskei van ʼn vrou wat groener weivelde gaan soek het. Ek is eintlik baie stil en teruggetrokke tot ek jou beter leer ken het. Ek soek net eerlikheid en opregtheid. Ek sal sê ek is iemand wat per geleentheid sal drink maar ek rook wel. Eerste in my lewe is my dogter. Dames wat vriendskap en geselskap soek en verkieslik in dieselfde ouderdomgroep as ek is, maar nie jonger as 30 nie, is welkom om vir my te skryf.


  • Nicoléne (40) van Randburg, Gauteng (ongetroude vrou)

Nicoléne

Ek het ʼn stil en rustige geaardheid wat ʼn rukkie vat om te ontdooi, maar in die regte geselskap kan ek gemaklik gesels oor baie dinge. Ek hou daarvan om te stap, tyd saam met my familie en vriende deur te bring, asook om series te kyk. Ek hou van die see omdat die water vir my ʼn kalmerende effek het. Ek kom ook goed oor die weg met almal rondom my en werk tans in die landbousektor. Ek hoor graag van enige manspersoon wat op soek is na vriendskap met die moontlikheid dat die vriendskap in iets meer kan ontwikkel. Die persoon moet verkieslik ʼn nie-roker wees. Eienskappe wat vir my belangrik is, is eerlikheid, integriteit, kameraadskap, hardwerkendheid en lojaliteit, asook ʼn goeie sin vir humor. Ek wil graag hoor van iemand met wie ek my beste ervaringe kan deel, asook iemand wat daar sal wees in krisistye en met wie ek die mooiste herinneringe kan maak.


  • Meermin (53) (geskeide vrou)

Meermin

Meermin het min of meer genoeg gehad van alleen wees, min of meer moet daar seker iewers ‘n meerman daar buite wees, wat ook min of meer moeg is vir sy eie geselskap. Ek is die trotse mamma van drie klein yorkies, my lewe draai om die drie. Ek is 53, 1,63 meter, nie rietskraal nie, maar ook nie duidelik sigbaar nie, net reg! Ek besit my eie plekkie, sorg vir myself, die meerman wat in hierdie meermin belangstel, moet in die eerste plek my drie yorkies aanvaar! Ek is op soek na ʼn Christen-man, hy moet God eerste stel. Hy moet lief wees vir die natuur, buitelug, my liefielyfies aanvaar, hy moet 54 of ouer maar nie ouer as 60 wees nie. ʼn Man wat nie skaam is om oor sy geloof te praat nie. Geen tweegesigte nie, want as een wegdraai sien jy sommer ‘n masker man, nee dankie. Verkieslik nie rokers en drinkers nie, maar rook kan nog gaan, mits hy nie soos skoorsteen rook nie. Iemand wat netjies, skoon en eerlik is.


  • Lafenis (56) van die Waterberge, Limpopo (enkellopende vrou)

Lafenis van die Waterberge

“Ek loop die pad alleen, my Lam”, sing Amanda Strydom. Ek ook – vir 27 jaar al. ʼn Klompie reisgenote het al met tye by my ingeval, maar à la The road not taken (Robert Frost), het ons afdraaie telkens verskil. Nou is ek ʼn rype 56 jaar; liefdevol, lewenslustig en amper gereed om uit my voltydse beroep te tree. My twee kinders is volwasse. Deel gerus ʼn nuwe padkaart met my: deur bosse, berge, langs die see of rondom ‘n vuur… met musiek en prosa naby en ons bloed steeds bruisend!   Manlike reisgenote van 48 – 62 jaar binne kuierafstand kan vir my skryf. Geen bagasie verlang. Spontane, sorgvrye geselskap – oor alles onder die son. Ek is op soek na iemand wat finansieel verstandig en intellektueel wakker is. Hy moet lief wees vir musiek, taal en kommunikeer. Hy moet gesond en energiek wees en polities gematig. Iemand wat vry is om te kom en gaan saam met my. Is jy waagmoedig, blymoedig, vrymoedig en bereid om jou ou padkaarte diep weg te bêre? Skryf vir my as jy altyd dankbaar is vir genade ontvang en opgewonde kan raak oor ‘n toekoms saam met my onder die Afrika-son.


  • Japonika (amper 30) van Noordwes (enkellopende vrou)

Japonika

Ek is kort met bruin hare en groen oë. Ek hou daarvan om kreatief te wees. Ek bak en brou, so spandeer heelwat tyd in die kombuis. Ek luister ook graag musiek. Ek hou van die natuur en veral om foto’s daarvan te neem. Ek is amper 30 en woon in Noordwes. Ek was nog nie getroud nie, het nie kinders nie (behalwe vir my viervoetiges), ek rook en drink ook nie. Ek geniet dit om saam met vriende te kuier maar ʼn rustige aand met popcorn en ʼn fliek is net so lekker.   Mans tussen die ouderdom van 31 en 36 is welkom om vir my te skryf, verkieslik in die Noordwes-omgewing. Vriendskap is altyd welkom – dit sal lekker wees indien dit meer in ʼn romantiese rigting gaan.


  • Mel (41) (geskeide vrou)

Mel

Ek is 41 jaar oud en ses jaar geskei. Ek het nie kinders nie. Ek is passievol oor ʼn gesonde leefstyl en oefen gereeld in die gim. Ek’s ʼn familiemens en ek geniet dans, kamp, motorfietse, musiek en om Netflix te kyk. Ek het ‘n sterk maar liefdevolle persoonlikheid, is onafhanklik en doelgerig. Ek is ʼn diereliefhebber en hou van lekker lag en die lewe geniet met positiewe denke. Ek sal graag mans (38 – 45) met dieselfde eienskappe en ʼn lus vir die lewe, liefde vir ‘n gesonde leefstyl en oefen wil leer ken.


  • Elize (46) van die Wesrand (geskeide vrou)

Elize

Ek is glo ʼn regte nar, maar lag is vir my die beste terapie ooit. Ek is my Pa se Boskind, lief vir die natuur, dit is waar ek vrede vind en rustig kan wees. Ek is al byna 17 jaar geskei met twee kinders en ‘n bederfde hond wat ook in die pakket ingesluit is. Ek hou baie van rugby en die Blou Bulle is my span. Ek het ook ʼn ernstige kant en praat verskriklik baie. My passie is musiek en lees en koffie is my gunstelingdrankie. Vat ‘n kans! Ek dink ek is nogal ʼn goeie “catch” (ha-ha)! Ek hoor graag van enkellopende mans tussen die ouderdom van 46 – 53 wat in die Wesrand-omgewing woon, maar dit is nie ‘n vereiste nie. As daar ‘n boer daar buite is, nog beter. Hy moet min of meer my belangstellings deel en moet nie probleme hê met kinders of honde nie. Hy moet ʼn familiemens wees wat nou bande met hulle het. Hy moet eerlik en opreg wees, nie ‘n kansvatter nie. Hoe hy lyk en wat sy finansiële posisie is, is nie vir my belangrik nie.


  • Plaasjapie (geskeide man)

Plaasjapie

Ek is al amper 12 jaar alleen. Ek het geen kinders by my nie, behalwe Snowy en Jock. Ek geniet die buitelewe en die natuur en kampeer graag. Ek geniet kosmaak om iemand met ietsie spesiaal te bederf. Ek is lief vir vliegtuie. Ek is ook betrokke in die plaaslike gemeenskap, dit hou my kop skoon. Ek rook nie, maar gebruik so nou en dan ‘n ietsie om die keel nat te hou. Dames tussen 43 en 56 is welkom om van hulle te laat hoor. Verkieslik nierokers.


  • Ekwagvirhaar (73) van Vanderbijlpark, Gauteng (wewenaar)

Ek is ʼn 73-jarige wewenaar van Vanderbijlpark wat by my dogter woon. Ek het ʼn pragtige kleinseun van so 17 maande. Ek is al sedert Februarie 2012 op pensioen. Ek soek ‘n maat om saam met my die lewenspad verder te loop. Vroue tussen 50 en 70 is welkom om vir my te skryf. Solank sy in Suid-Afrika bly, sal ek happy wees.


  • Koos (74) van Memel, Vrystaat (wewenaar)

Ek hou van reis in Suid-Afrika en my stokperdjie is modeltreine. Ek rook of drink nie. Ek is 74 jaar gesond en werk nog self met my diere. Ek is ʼn afgetrede begrafnisondernemer wat my eie besigheid was. Weduwees tussen 50 en 65 jaar, wat nie rook of drink nie, kan vir my skryf. Ek is op soek na iemand wat hou van diere en naby aan Memel bly, met die oog op ʼn toekomstige lewensmaat. Ek is op soek na iemand wat ook ernstig is oor gesonde en goeie lewensjare.


  • Meerkat (enkellopende man)

Ek is ʼn rustige stadsjapie wat op ‘n plaas tussen niks en nêrens opgegroei het. Ek hou van lees en om met mense te werk. Ek kan kosmaak en bak, maar kan nie braai nie. Ek verkies pap en sous saam met braaivleis. Ek is ʼn bietjie skaam buite die werkplek en maak nie maklik vriende nie. Ek hoor graag van dames tussen 25 en 35 met tradisionele waardes, wat nie bang is om dinge stadig te vat nie.


  • Meisie (20’s) van Pretoria, Gauteng (enkellopende vrou)

Meisie van Pretoria

Ek studeer somatologie, dit is die studie van die gesondheid van die gesig en lyf. Dit is vir my ʼn groot passie om met ander mense te werk en meer oor hul vel se gesondheid te leer en dit te behandel. Ek het ʼn passie vir die Here, daarom is dit belangrik om iemand soortgelyks te vind. Ek is ʼn groot familiemens en familie is vir my baie belangrik. Honde het ʼn verskriklike sagte plek in my hart. Ek is op soek na ʼn man wat my ouderdom is en iemand wat in Pretoria bly, ek is nie mal oor langafstande nie. Dit moet definitief iemand wees wat ʼn passie vir die Here het, dit is vir my baie belangrik.


  • Piper (72) van die Oos-Kaap (wewenaar)

Ek is 72 en nog fiks en gesond. Ek hou van die buitelewe soos 4×4-ritte en speel gereeld gholf. Ek rook nie, maar hou van my droë witwyn. Ek is nie ʼn chef nie, maar probeer so nou en dan ietsie aanmekaar slaan. Ek werk nog deeltyds en doen my huiswerk self. Skryf vir my as jy in die Oos-Kaap bly. Geen drugs nie.


  • JP (34) van Mpumalanga (geskeide man)

JP

Ek is ʼn enkelpappa van 2 kiddies (3 jaar en 6 jaar). Ek het ʼn droë sin vir humor maar is vol pret as jy my eers ken. Ek sukkel baie om op WhatsApp te chat, maar as jy my eers gekry het om spontaan te chat, bid jy dat ek kan stil bly. Ek werk vir myself so dinge gaan moeilik, maar as jy by my staan gaan dit met ons al twee goed gaan wanner dinge beter gaan. Ek hou van die bosveld en bly in ʼn klein dorpie in Mpumalanga. Ek is sowat 1,83 m lank en goed gebou, maar nee, ek is nie ʼn spiertier nie. Ek sal hou van iemand wat saam met my ʼn toekoms wil bou, iemand wat van die bos/plaaslewe hou en my kids aanvaar. Sy moet verkieslik korter en jonger wees as ek en langhare hê. Sy moet nie bang wees om vuil te word nie, maar ook ʼn mooi aandrok kan dra. Verkieslik gemiddelde lyfbou, maar as jy die regte deksel is, maak dit nie saak hoe jy is, lyk of doen nie. So as jy voel jy is die een, maak nie saak of jy by die bogenoemde pas nie, kan jy ook maar van jou laat hoor.


  • PlaasYuppie (38) van Pretoria, Gauteng (ongetroude vrou)

PlaasYuppie

Ek is op soek na ʼn romantiese vriendskap. Ek is ‘n vriendelike/aangename vrou met ‘n baie groot hart wat omgee en lief is vir almal om my. Ek is baie gelukkig om te kan sê dat my werk absoluut my passie is en dat ek elke dag die geleentheid het om ‘n impak te hê op vandag se jeug. Ek geniet komedies en kan lekker saam lag. Ek kan ook lekker bak en kook. Ek hou ook baie daarvan om in die natuur te gaan stap. Ek het nie my eie kinders nie, maar sal graag wil hê. Ek is ʼn lang meisie, so sal graag ʼn man wil ontmoet wat ook langer as 1,8 m is. Skryf vir my as jy tussen die ouderdom van 35 en 45 jaar oud is. Ek sal hou van iemand wat hou van lag en nie skrik vir ‘n uitdaging nie. ‘n Man wat in geloof lewe en Jesus lief het. Iemand wat asseblief my kar se band sal kan ruil en soms skottelgoed was :)


  • Seabiscuit (47) van Bloemfontein, Vrystaat (ongetroude man)

Seabiscuit

Ek was nog nooit getroud nie. Ek bly in Bloemfontein en het op Kovsies studeer. Ek hou van die buitelewe, maar my stokperdjies is ook waterverf skilder. Hoewel ek dit lanklaas gedoen het, sal ek dit graag weer wil aanpak. Ek hou ook van vleisbraai en sal graag wil leer kook. Skryf vir my as jy tussen 35 en 45 jaar oud is. Ek is op soek na iemand wat opreg is in haar persoonlikheid en aantreklik en ‘n Christen is. Sy moet hou van kosmaak en moet haar eie kop kan volg.


  • Hennie (38) van Worcester, Wes-Kaap (ongetroude man)

Hennie

Ek is doof gebore en later op tienjarige ouderdom blind geraak toe ek in ʼn motor vasgeloop het. Ek sal jou meer hieroor vertel. Ek is ‘n gesonde man. Ek werk elke dag op ʼn skootrekenaar wat gekoppel is met braille display, dit is wonderlik. Ek hou van stap, braai, ens. Ek is liefdevol en romanties. Ek is op soek na my lewensmaatjie. Ek is al twee jaar eensaam en alleen. Ek sukkel om die regte vrou te kry. Ek bid elke dag. Vra my enige iets! Ek is op soek na iemand wat netjies is en my sal ondersteun en bystaan. Iemand wat nie vir my sal jok nie en my nie sal bedrieg of iets wegsteek nie – ook nie iemand wat geld soek nie! Sy moet my oë en ore wees. Sy moet kan kos maak. Vroue tussen 34 en 52 jaar oud is baie welkom om vir my te skryf. Sy moet naby Worcester in die Wes-Kaap wees of Paarl. Ek wag om van haar te hoor.


  • Oppies (20) van Port Elizabeth, Oos-Kaap (enkellopende man)

Oppies

Ek is baie geïnteresseerd en hou van tegnologie, rekenaars, natuur, die hemelruimte (space) en enige iets wat my interesseer. Ek hou daarvan om te kamp of te kuier en ʼn lekker tyd te hê. Ek hou ook daarvan om navorsing te doen oor onderwerpe wat my interesseer. Een van my stokperdjies wat ek baie geniet is om video games te speel, ek doen dit gereeld in my aftyd of as ek verveeld is. Skryf vir my as jy tussen 19 en 21 jaar oud is, in Port Elizabeth bly en oop is vir ‘n romantiese vriendskap.


  • d1989 (30) van Bloemfontein, Vrystaat (enkellopende vrou)

Ek is baie lief vir die buitelewe. Ek is baie lief vir diere, daar is altyd plek vir nog een :-)! My stokperdjies is om tyd te spandeer met my diere en perd te ry of in die natuur te wees! Ek was nog nooit getroud nie en het geen kinders nie!        Ek sal graag ʼn oulike boerseun wil ontmoet wat ek graag beter sal wil leer ken. Ek is op soek na ʼn man met ambisie en wat weet wat hy soek in die lewe.


  • Sessa (47) (geskeide vrou)

Sessa

Ek is ʼn skaam introvert, maar met ‘n sin vir humor. Ek hou van lag en gesels saam met mense waar ek veilig en gemaklik voel. Soms is rustige uitstappies en kuiers saam met vriende heerlik. Ek sal graag ‘n vriend wil hê saam met wie ek kan lag en gesels. As jy tussen 47 en 52 jaar oud is, nie rook of sterk drank gebruik nie en Christelike norme en waardes het, hoor ek graag van jou!


  • Potgooi (49) van Warmbad, Limpopo (ongetroude man)

Ek het geen afhanklikes nie, slegs ‘n aantal honde. Ek hou van die natuur, lees, tuinmaak, versamel en musiek, veral klassiek. Ek is konserwatief realisties georiënteer. Ek rook nie, maar is ʼn sosiale drinker. Ek het ʼn nagraadse kwalifikasie. Ek hoor graag van dames wat hou van die natuur en nie enige afhanklikes het nie. Geen rokers of gewoontedrinkers nie. Skryf vir my as jy tussen 39 en 45 jaar oud is, intelligent en realisties is, en finansieel en emosioneel stabiel is.


  • Ellané (21) (enkellopende vrou)

Ek is amper 22. Ek is 1,60 m lank en het lang heuningblonde hare en bruin oë. Ek is lief vir kinders en het al oorsee au pair. Ek is baie lief vir vlieg en hou daarvan om te reis. Ek wil graag ʼn lugwaardin word. Ek is sportief en lief vir die buitelewe. Ek oefen graag en probeer altyd nuwe dinge en uitdagings. My droom is om eendag op ʼn plaas te bly. Manspersone tussen die ouderdom 24 en 30 met goeie en opregte bedoelings kan van hulle laat hoor.


  • Oubout (75) (wewenaar)

Ouboet

Ek is 75 jaar oud en ʼn diabeet. Ek rook nie en drink ook nie. Ek hou van fotografie en fotoredigering op ʼn rekenaar. Ek lees graag en doen dit op ʼn Kindle-e-leser. Ek is ook lief vir skets, maar sukkel om werklik te sê ek kan skets. Ek stel nogal belang in die sake van die dag. Ek hou van reis alhoewel dit deesdae nie maklik is nie as gevolg van my beweeglikheid wat nie is wat dit was nie. Ek was 47 jaar met my vrou getroud voordat sy in 2017 oorlede is. Ek woon in ʼn woonstel op my seun sê eiendom. Ek hoor graag van dames wat soortgelyke belangstelling deel. Ek hou van musiek, maar ek dans nie. Ek sou ook graag met dames wil gesels wat nie te ernstig is oor dinge nie. ʼn Goeie sin vir humor is welkom. Ek sal graag ʼn goeie vriendin wil hê. Meer as dit is nie nou ʼn opsie nie.


Deur in te skryf, aanvaar jy die volgende bepalings en voorwaardes:

  • As jy die vorm invul, stem jy in dat ons jou e-posadres bekendmaak aan die persoon vir wie jy gekies het om te skryf.
  • As jy die vorm invul, stem jy ook in dat ons jou brief vir die betrokke persoon kan stuur vir wie jy gekies het om te skryf.
  • Die sluitingsdatum om jou brief te stuur, is jou skrywe in te dien, is 20 September 2020.
  • Maroela Media kan nie verantwoordelik gehou word indien jy nie enige reaksie kry van die persoon vir wie jy geskryf het nie.
  • Maroela Media aanvaar nie verantwoordelikheid vir enige korrespondensie tussen twee partye nadat die eerste kontak by Maroela bewerkstellig is nie, en ons sal nie betrokke raak by enige van hierdie korrespondensie nie.
  • Indien jy kies om jou persoonlike kontakbesonderhede met iemand te deel nadat ons die aanvanklike korrespondensie aangestuur het, is dit jou eie keuse waarvoor Maroela Media nie verantwoordelikheid kan aanvaar nie.
  • Maroela Media het, so ver dit vir ons moontlik is, probeer om die egtheid van inskrywings te verifieer, maar deur in te skryf, vrywaar jy Maroela Media onvoorwaardelik van enige skade, beserings of verliese wat mag voortspruit uit jou kontak met enige derdeparty.

Let op:

  • Alle reëls wat normaalweg van toepassing is wanneer jy iemand op die internet ontmoet, geld steeds.
  • Maak seker dat jy eers goed navorsing doen om seker te maak die persoon is wie hy of sy sê hulle is.
  • Maak seker dat die persoon jou nie om die bos lei en jy hulle nie finansieel of op enige ander manier help of ondersteun voor jy nie bevestiging het dat die persoon wel betroubaar is en wel is wie hy/sy sê hulle is nie.
  • As jy iemand vir die eerste keer ontmoet, maak seker dit is in ʼn openbare ruimte; neem verkieslik ʼn vriend of vriendin saam en maak seker dat iemand anders, wat nie die ontmoeting bywoon nie, ook weet wie jy van plan is om te ontmoet, waar jy die persoon gaan ontmoet, watter korrespondensie jy al met die persoon gehad het en hoe laat jy verwag om te laat weet jy is veilig terug by die huis.
  • Dit is ʼn goeie idee dat iemand jou sommer ook gereeld kontak terwyl jy ʼn nuwe persoon ontmoet, sodat hulle deurlopend bewus kan wees van jou beweging.
  • As jy nie iemand by die ontmoeting wil hê nie, maak seker dat hulle dan ten minste net binne sigbare afstand is om seker te maak die ontmoeting verloop vlot.

Skryf nou in

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.