Regsman pak Comrades lees-lees vir boekveldtog aan

Advokaat Maru Moremogolo. Foto: verskaf.

Vergeet van drink en bestuur. As jy advokaat Maru Moremogolo is, dan draf en lees jy eerder!

“Omdat ek mal is oor lees, het ek verlede jaar ’n weddenskap aanvaar dat ek die Comradas sal voltooi terwyl ek ’n boek lees,” het Moremogolo aan Maroela Media gesê.

Die atleet van Fat Cats‑atletiekklub het terstond daad by woord gevoeg en op Nelson Mandela se Prison Letters besluit om sy wedloop mee aan te pak en op dié manier die voormalige president se geboortejaar in 1918 te herdenk.

“Ek het baie positiewe terugvoer op sosiale media gekry en besluit om die draf-en-lees-idee te gebruik om geletterdheid te bevorder. Terselfdertyd het ek ook ’n veldtog van stapel gestuur waar mense boeke aan biblioteke in behoeftige gemeenskappe kan skenk.”

Is dit nie moeilik om te lees terwyl jy draf nie?

“Nee, darem nie,” is sy laggende antwoord. “Omdat die Twee Oseane-, Loskop- en Comrades-marathons se paaie vir verkeer gesluit is, help dit baie wat my veiligheid op die pad betref. Dan hardloop ek in hoofstukke – wanneer ek moeg word, stap en lees ek.”

Duidelik beïnvloed die leeswerk ook nie sy draftye nie. Hy het vanjaar se Twee Oseane-marathon in ’n tyd van 6:13 uur voltooi – ses minute vinniger as sy vorige beste tyd.

“Die mense van Kaapstad was baie ontvanklik vir die idee – party het baie verbaas na my gestaar, maar die meeste was baie entoesiasties oor die idee.”

Advokaat Moremogolo gaan nou op 9 Junie die tweede helfte van die Comrades-marathon óók al lesend aandurf. In die proses gaan hy poog om 600 (hoofsaaklik) kinderboeke vir die Nasionale Boekweek in Septembermaand in te samel.

Jy kan sy veldtog onder meer deur sosiale media ondersteun deur van die volgende hutsmerke te gebruik: #ReadingRunner, #BeyondLiterature, #ReadingIsCool.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

KS ·

ag asb, met hoeveel ander goed gaan mense voorendag kom vir aandag!

Leandra ·

dis super cool! dankie vir die brokkie positiwiteit MM.

Proudly South African.

Willie ·

Nee wat, ek dink ek sal see siek raak op die eerste bladsy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.