Rekordgetal atlete span saam vir borskanker

Kranige fiksheidsfanatici het in Oktober saamgespan om duisende rand in te samel wat sal help om mammogramme vir vroue te borg. (Foto: Verskaf)

Kranige fiksheidsfanatici het in Oktober saamgespan om duisende rand in te samel wat sal help om mammogramme vir vroue te borg.

Die organiseerders van die Warrior Games, ʼn borskankerbewusmakingsorganisasie wat vroue help om mammogramme te bekostig, het vanjaar landwyd 500 atlete bymekaar gemaak om aan die uitdaging deel te neem.

“Dit word geraam dat een uit elke 26 vroue in Suid-Afrika in hul leeftyd met borskanker gediagnoseer word. Borsondersoeke speel ʼn belangrike rol in die opsporing, voorkoming en behandeling van borskanker. Ons hou dus jaarliks die Warrior Games om bewusmaking te bevorder, maar dan ook om vroue by te staan wat nie ʼn mammogram kan bekostig nie.

“Hierdie is ʼn jaarlikse geleentheid wat oor die afgelope twee jaar omtrent uit sy nate gebars het,” sê Rosa-Marie Cox-Cronjé, een van die Warrior Games se organiseerders.

Die dag is in drie vlakke ingedeel wat ook op die borskankerreis sinspeel:

Vlak een was “Die onbekende”. Dit staan ​​vir die aanvanklike diagnose en die feit dat jy onseker is oor wat om te verwag. Vlak twee was “Die uitdaging”. Dit verteenwoordig die behandeling wat vroue ontvang. Laaste was vlak drie, “Die oorwinning”. Dit staan ​​vir die triomf en viering by die voltooiing van die genesingsproses en die verloop van terapie.

Suid-Afrikaanse atlete is toegelaat om by hul plaaslike gimnasiums deel te neem, wat daarvan getuig dat baie mense by die stryd teen borskanker betrokke is. ’n Span van vier moes R1 200 betaal om deel te neem.

Cox-Cronjé wou ’n geleentheid aanbied waar almal aktief betrokke is eerder as om net geld in te samel.

“Ons weet dat fisieke gesondheid belangrik is vir algemene welstand. Daarom het ons besluit om ʼn geleentheid te skep waar atlete saam in spanne kon deelneem, hulle daaglikse oefening inkry en terselfdertyd ʼn goeie doel ondersteun. Hierdie jaar het ons meer as R160 000 ingesamel.”

Mede-organiseerder Monice Cox-Cronjé sê ʼn baie persoonlike ondervinding met borskanker het hulle gemotiveer om die geleentheid van stapel te stuur.

“Ek is sowat twee jaar gelede met borskanker gediagnoseer nadat ek ʼn klein knoppie gevoel het toe ek ʼn selfondersoek gedoen het. Natuurlik was dit ʼn groot skok aangesien my familie nie ʼn geskiedenis van borskanker het nie en ek nog nie 30 jaar oud was nie.”

Weens haar eie diagnose het sy ʼn passie om ander met haar lewensverhaal te inspireer.

“Een manier is natuurlik die bewusmaking wat ons oor borskanker skep met geleenthede soos hierdie. Alle geld wat ingesamel word, gaan vir mammogramme en borsskanderings wat aangewend word deur middel van ons NPO Screen Her Save Her.”

Die #ScreenHerSaveHer-beweging poog om vroue bewus te maak van die waarde van roetine‑mammogramme en ‑selfondersoeke. Die primêre doelwit is om vroue se toegang tot mammogramme in Suid-Afrika te verhoog.

Besoek gerus die Facebook bladsy hier: https://www.facebook.com/shshnpo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.