Rugsakkies vol seer – wanneer grootmense hul kinders in die steek laat

Foto ter illustrasie. (Foto: Artur Aldyrkhanov/Unsplash.)

Moenie dat die verlede jou toekoms steel nie.

Sulke wyse woorde wat uit so ’n jong mens se mond kom. Sy het pragtige bruin hare en sproetjies oor haar neus. Sy is skaam en teruggetrokke en kruis haar arms oor haar skoot. Maar sy kyk dapper en reguit in die kamera wanneer sy sê sy hoop dat haar storie vir ander kinders hoop sal gee.  Nanette is ‘n pleegkind. Sy het onlangs haar persoonlike ervaring met ‘n plaasaanval en die genesingsproses wat gevolg het met GLOmedia.tv gedeel.

Hierdie brief is geskryf in reaksie op haar verhaal.

Liewe Nanette,

Dankie vir jou ongelooflike dapperheid om jou storie van hoop te deel. Jou storie sal hoop bring. En begrip. Begrip dat pleegsorg en aannemings gelyktydig ’n wonderwerk en ’n tragedie is. Gelyktydig ’n troos en ’n trauma. ’n Geskenk en ’n verlies. Want jy kry skielik ’n huisgesin met ’n mamma en pappa wat lief is vir jou. Sussies wat jou nie alleen laat nie. Maar jy verloor alles wat vir jou bekend was. Jy is verlos uit ’n geskiedenis van trauma, maar die proses om te ontsnap, is self traumaties. Ek is trots op jou Nanette. Jy het die tragedie oorleef. Jy het die wonderwerk wat God in jou lewe kom doen het, omhels en die geskenk van sy liefde ervaar.

Jy sien, ek is ’n mamma met drie pragtige dogtertjies. Die Here het twee van hulle deur pleegsorg by ons geplaas. En die derde een was ’n mediese wonderwerk daarna. Hul koms was vir ons ’n reusevreugde, want ons was kinderloos. Mense kyk graag na daardie kant van ons verhaal. Die vreugde daarvan. Die wonderwerk dat ons uiteindelik ouers geword het. Maar wat hulle miskyk, is dat daar ’n storie en ’n tragedie en ’n seerkry voor hul aankoms in ons lewe was. ’n Mens kan dit nie ontken nie en mens kan nie die leemte wat dit gelaat het, vol maak nie.

Hul stories is, soos joune, gevul met onsekerheid oor hul verlede en trauma as gevolg daarvan. Hulle ervaar by ons onvoorwaardelike liefde en aanvaarding, maar dit beklemtoon in hul onderbewuste (en later sommer bewustelik) die verwerping van hul vorige lewe. Hulle worstel met ’n diep, diep skuldgevoel. Want hulle is lief vir hulle nuwe pappa en mamma, maar wonder steeds oor die ouers uit wie hulle in die wêreld gekom het.

Daar is ’n vraag wat elke hartjiemamma vrees: “Mamma? Was my magiemamma ’n goeie mens of ’n slegte mens?”

Hoe antwoord ’n mens ooit daardie vraag?

My kind, die Here het ’n plan met alle mense. Hy het jou in jou magiemamma laat groei omdat hy geweet het my lyf kan nie ’n babatjie maak nie. Hy het nog altyd beplan dat jy in ons gesin moet wees. Dit maak nie nou meer saak wat jou magiemamma reg of verkeerd gedoen het nie. Sy het jou gedra. En dit is wonderlik.

Ek glo regtig dat die Here my kinders vir my gestuur het. En dat hy onvolmaakte mense gebruik het daarvoor. Daarvoor is ek dankbaar. Maar ek is ook kwaad. Kwaad dat mense in hul sonde soveel skade aan onskuldige kinders kan doen.

Is my antwoord dus waar? Ja. Maar dit is gewoonlik net die eerste in ’n hele string uiteenlopende vrae, want my kinders se stories verskil.

My een dogtertjie vra: “Kan ons nie uitvind waar is my magiemamma nie? Hoekom soek sy my nie? Leef sy nog?”

My ander dogter, wat nog kontak het met haar magiemamma, vra weer: “Hoe kon sy toelaat dat gevaarlike mense met my alleen in die kar wegry? Gebruik sy nog steeds dwelms? Hoekom soek sy nie hulp nie?”

Jy is reg, Nanette. Elkeen het sy rugsakkie vol seer.

Die waarheid is dat ek party dae glad nie ’n antwoord het nie. Ons is almal al deurmekaar gedink. My jongste – biologies gebore – bars sommer nou die dag in trane uit: “Mamma, dis unfair. Hoekom het ek dan net een mamma en hulle het twee?”

Al waaraan ek kan vashou, is die wete dat ons liewe Vader se liefde uiteindelik alles sal oorwin. Ook ons rugsakkies.

Liewe Nanette, ek is so bly jy het ’n wonderlik maatskaplike werker wat jou met hierdie vrae kon ondersteun. Sterkte vir jou paadjie vorentoe. Jou biologiese ouers se pad is nie jou pad nie. Jy is vry. Jou pad is die een wat jy saam met die Here stap. Ek hoop ek kan jou eendag ontmoet sodat my meisiekinders jou as ’n rolmodel kan kry. Dat hulle kan sien daar is ’n lewe ná al die vrae. Dat hulle ook tot die besef sal kom dat ware vrede nie in die verlede gevind word nie, maar in die hand van die Here.

Ek is so trots op jou.

Liefde,
’n Hartjiemamma

  • GLOmedia.tv se stories van hoop is ’n reeks waarin mense hul stories deel. Elkeen se pyn is anders, maar almal het een vashouplek, en dit is hul geloof. Hulle getuig hoe hulle bo omstandighede kon uitstyg en sterk kon word danksy die Here se ingryping en nabyheid in hul lewens.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Goeie nuus, Ouerskap, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Antoinette ·

Hallo Hartjiemamma. Baie dankie vir jou mooi storie. Jy is voorwaar geseende met n hart van goud. Baie dankie dat jy daardie dogterjies in jou hart geneem het. My kleindogter bly by my en elke dag moet ek sulke vrae antwoord, Baie dae het ek nie antwoorde nie en dan vra ek net vir die Here antwoorde. Geseend is jy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.