Sjefs skenk derduisende liter sop aan behoeftiges

Sjefs hard aan die werk vir die Chefs with Compassion-projek (Foto: Verskaf)

Meer as 300 sjefs uit 10 stede het saamgespan om 77 455 liter sop te maak om aan behoeftiges reg oor die land te skenk, ten spyte van die verlammende uitwerking wat die Covid-19-pandemie tans op die gasvryheidsbedryf het.

Die Chefs with Compassion-projek, wat sjefs van restaurante, kookskole, spysenier-maatskappye en hotelle betrek het, het beoog om 67 000 liter sop vir Mandeladag te maak, maar met vol harte en ʼn passie vir die saak het hulle dit reggekry om meer as 10 000 liter sop ekstra gemaak.

Altesaam 309 820 koppies voedsame sop kon uiteindelik op 18 Julie uitgedeel word aan behoeftige mense in Johannesburg, Kaapstad, Pretoria, Durban, Bloemfontein, Mokopane, Rustenburg, Vereeniging, Port Elizabeth en Nelspruit.

Derduisende liters sop is gemaak om behoeftiges te voed (Foto: Verskaf)

Chefs with Compassion, in samewerking met SA Harvest, glo in die filosofie dat oorskietkos gebruik kan word en herverpak kan word om behoeftige mense te help.

“Die sukses van hierdie inisiatief kom deur die samewerking tussen groepe; ons verwelkom enige geleentheid om saam met ander soortgelyke organisasies te werk,” sê Ozzy Nel, bestuurshoof van SA Harvest.

“Met die kollektiewe betrokkenheid van die twee liefdadigheidsorganisasies, het meer as 300 sjefs, ten minste 20 vennote en meer as 80 begunstigde organisasies, die oorspronklike teiken ver oorskry.”

Sjef Coo Pillay, die nasionale projekbestuurder van Chefs with Compassion, vertel dat daar ʼn kompeterende atmosfeer was tussen die verskillende stede om te sien wie die meeste sop in die gegewe tyd kon maak.

Johannesburg was die stad wat die meeste sop gemaak het, met 22 092 liter wat daarvandaan gekom het. Kaapstad het 18 850 liter sop gemaak en Pretoria 14 838 liter.

Vir meer inligting oor Chefs with Compassion, besoek hul webtuiste hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leonard ·

Dankie aan ALMAL wat help om HONGERSNOOD te probeer VOORKOM
AMEN

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.