Skool bou eie robotika-sentrum sonder staatshulp

Leerders van Laerskool Kruinsig in Kemptonpark geniet hul nuwe robotika-sentrum. (Foto: Laerskool Kruinsig/Facebook)

Die skoolgemeenskap van Laerskool Kruinsig in Kempton Park het opnuut bewys dat selfdoen die boublokke van sukses is, deur ʼn spoggerige robotika-sentrum sonder staatshulp op te rig en hul leerders se tegnologiese vaardighede vroeg-vroeg te begin slyp.

Hierdie robotika-sentrum het in Februarie vanjaar sy deure oopgemaak en is toegerus om kinders van grondslag tot seniorfase met basiese terme en vaardighede in kodering en programmering vertroud te maak.

Maroela Media het vroeër berig dat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, reeds in 2020 tydens die bekendstelling van die 2019- nasionale matriekuitslae aangekondig het dat robotika en kodering as vakke by uitgesoekte openbare skole in werking gestel sal word.

Volgens Motshekga is die einddoel om dit uiteindelik by die nasionale skoolkurrikulum te integreer, maar die onderwysdepartement se 2019-prestasieplan het daarop gedui dat slegs 64% van die land se skole ʼn vorm van internetverbinding gehad het. Dít kan alles van net een werkbare rekenaar op die perseel tot ʼn volwaardige rekenaarsentrum insluit.

Jana van Niekerk, ʼn ouer en voorsitter van Laerskool Kruinsig se beheerliggaam, sê dié skoolgemeenskap wou daarom juis nie hul kinders se toekoms alleenlik in die departement se hande laat nie en het besluit om self skouer aan die wiel gesit.

Die beheerliggaam van Laerskool Kruinsig. (Foto: Verskaf)

“Artikel 21 van die skolewet gee ʼn skool se beheerliggaam vryheid om verrykingsvakke by skole op eie koste in te voeg volgens die skool en die gemeenskap se behoeftes. Die robotikasentrum is dus nie net vir Kruinie-leerders nie, maar ook beskikbaar vir die groter gemeenskap in klubverband ná skoolure,” verduidelik sy.

“Covid-19 het veral uitdagings veroorsaak want ouers het gesukkel met skoolgelde en met hulle kinders by die huis gesit. Hulle was negatief en gefrustreerd oor die situasie en ons wou iets doen om hulle op te beur, maar ook bewys wat ons kan bemagtig as ons deeglike planne maak en uitreik na die breër gemeenskap,” meen Roelof Janse van Vuren, tesourier van die skool se beheerliggaam.

Roelof, wat ʼn finansiële agtergrond het, het met die skool se reserwes ʼn plan beraam om ʼn tegnologiese opgradering van die skool te doen, wat goeie internetverbinding en gratis Wi-Fi vir die leerders, skootrekenaars vir die onderwysers asook Eduboards (digitale ‘swart borde’) insluit om tydens gedeeltelike inperkings te verseker dat klasse ongehinderd met tuisonderrig kon voortgaan.

“Dit het ons ouers positief begin maak oor die idee van vernuwing en verbetering. Toe hulle sien wat gedoen kan word as ons self in ons skool herbelê, het die invordering van skoolgeld ook beter geraak.”

Die beheerliggaam, wat sedert 2020 dien, vertel dat die robotika-sentrum egter groot gemeenskapsinspanning te midde van verskeie terugslae geverg het.

“Ons hoof is enkele dae voor die opening van ons splinternuwe graad R-sentrum weens Covid-19 oorlede en natuurlik het die impak daarvan en van die pandemie ʼn blywende indruk op almal gelaat. Daarom wou ons juis iets doen om mense bymekaar te bring en positief te maak. Die doel van ʼn skool as ʼn gemeenskapsinstansie is immers nie net om vir kinders die bes moontlik ontwikkeling en opvoeding te bied nie, maar ook om gemeenskappe byeen te bring en te dien,” meen Roelof.

Volgens die beheerliggaam is die nuwe hoof, Nico Loggenberg, se passie vir die vernuwing en vooruitgang van die skool en gemeenskap “aansteeklik”.

Laerskool Kruinsig is ook een van vele Afrikaanse skole wat bykomende druk weens plattelandse ontvolking ervaar en juis daarom is dit volgens hulle belangrik om vooruit te dink.

“Ons het besluit om die skool weer in die kollig te sit en so te posisioneer dat mense rede het om hier te bly en hulle kinders na goeie gehalte Afrikaanse laerskole in die omgewing te stuur. Dis ook al hoe mens Afrikaanse hoërskole in dié omgewings se toekoms gaan verseker,” voeg Roelof by.

Só het die liggie vir ʼn robotika-sentrum aangegaan, en in November 2022 is die eerste sooi vir die sentrum gespit en in Februarie vanjaar is sy uiters moderne deure geopen.

“Dit lyk werklik of die sentrum uit ʼn futuristiese film in Silicon Valley kon wees,” sê Herman Burger, ook ʼn lid van die beheerliggaam, breëbors.

Tans word robotika en programmering as skool én buitemuurse vak aangebied en al kan sowat 17% van dié skool se leerders nie skoolgeld betaal nie, word hul danksy subsidiëring nie van dié nuwe geriewe en vaardighede ontneem nie.

“Robotika en kodering is die intreeslag in die wêreld van inligtingstegnologie. Ons kinders leef in ʼn era waar hulle veel meer as net Microsoft Excel en Word moet verstaan,” sê Izelle van Kraayenburg, wat bemarking namens die beheerliggaam behartig.

Sy benadruk dat deeglike kommunikasie tussen ouers en skole kernbelangrik is om só projek suksesvol te takel.

“My ma was ʼn onderwyseres en ek weet eerstehands dat kommunikasie tussen ouers en skole nie altyd soomloos is nie, maar daar is altyd ouers wat bereidwillig is om ʼn verskil te maak, hulle moet net ingetrek en deel van die proses gemaak word. Ouers wat dit kan bekostig se beursies is nou danksy daardie kommunikasie altyd oop as daar groot projekte is.

“Maar dié sentrum behoort aan almal in die skool, want almal moes op ʼn manier saamtrek om dit te laat realiseer.”

As ouers sien die beheerliggaamlede reeds eerstehands watter uitwerking dié vakgebied op hul eie woelwaters het.

“Hulle leer hoe om krities en logies oor goed te dink en staar nie net na ʼn skerm nie. Dit is skermtyd met ʼn doelwit. Dit gee hulle die blootstelling vir waarheen die wêreld op pad is,” voeg Roelof by.

Die robotikasentrum is nie net vir Kruinie-leerders nie, maar ook vir die groter gemeenskap in klubverband ná skoolure beskikbaar. (Foto: Laerskool Kruinsig/Facebook)

Die beheerliggaam se hoop is dat Laerskool Kruinsig ander laerskole kan bemoedig om self die bul by die horings te pak en ʼn plan te beraam om hul kinders se opvoeding te verbeter, ongeag hul ligging of finansiële struikelblokke.

Nico voel ongelooflik trots dat hierdie skool se droom bewaarheid kon word en boonop geleenthede skep vir kinders in die Kempton Park-omgewing wat dit andersins nie sou gehad het nie.

“Ons kinders het in hierdie kort tyd baie meer tegnologies ingestel geword as vantevore en hul kreatiewe denke is ook baie meer geprikkel. Boonop sien ons onderwysers ook nou ʼn geleentheid raak om hul professionele ontwikkeling te verbreed met die aanbied van hierdie klasse.”

Hy sê voorts dat die onderwysdepartement robotika in 2025 amptelik by skole in werking wil begin stel regoor die land en is hulle skool dus gerat sou dié planne realiseer.

“Ons doel is nie om besluite tot onderwys in eie hand te neem nie, maar om eerder ʼn verskil in die breër gemeenskap se behoeftes te maak.”

Hoekom Robotika as vak ondersteun?

Celeste Labuschagne, hoof van die robotika-vereniging by die Skole Ondersteuningsentrum (SOS), sê dié vak behels veel meer as net blokkies bou of met robotte speel.

Hier word vakke soos wetenskap, wiskunde en rekenaarprogrammering byeengebring sodat leerders hulle kennis op ʼn praktiese, innoverende wyse moet toepas.

“Leerders kry dikwels in ʼn robotika-klas ‘n probleem om op te los en skryf dan ‘n algoritme of ʼn  eenvoudige oplossing in eenvoudige woorde om dit op te los. Kleiner kinders sal byvoorbeeld pyltjies om ʼn paadjie vir ʼn ‘robot’ maak om van een punt na ʼn ander te beweeg.”

“Daarmee saam moet hulle kreatief wees en leer om goed te kommunikeer.

“Leerders leer ook hoe om die ontwerpproses toe te pas om self robotte te ontwerp en selfs daarvoor hoef daar nie duur toerusting of materiaal gebruik te word nie,” meen Celeste.

“Basiese koderingsvaardighede kan ingeoefen word op vele maniere wat nie geld kos nie. Leerders kan byvoorbeeld algoritmes skryf om persone op ‘n spesifieke plek op ‘n ‘grid’ te kry. Ons noem dit lyfkodering.”

Suid-Afrika neem ook sedert 2010  aan die Wêreld Robotika Olimpiade (WRO) deel. Maroela Media het vroeër berig dat jongmense jaarliks hier bymekaargebring word om hul kreatiwiteit, ontwerp- en probleemoplossingsvaardighede te ontwikkel deur opvoedkundige robotuitdagings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.