Só gaan Witbank-man ‘Secret Sound’-wengeld bestee

'n Skermgreep uit die video wat vir Willem Visagie gehelp het om die Secret Sound te ontsyfer.

‘n Skermgreep uit die video wat vir Willem Visagie gehelp het om die Secret Sound te ontsyfer.

Willem Visagie van eMalahleni (Witbank) het nie gedink Martin Bester van die JacarandaFM-ontbytprogram gaan hom bel toe hy vir die soveelste keer ʼn SMS stuur om sy antwoord vir die Secret Sound-kompetisie te gee nie.

Tog het sy selfoon Dinsdagoggend gelui en ʼn paar minute later was hy R100 000 ryker.

Visagie vertel aan Maroela Media hy maak al ʼn geruime tyd “sy gesin mal” met die Secret Sound-kompetisie op JacarandaFM.

“Dit het destyds begin met die Consol-houer wat deel was van die kompetisie. Ek het een gaan koop en hom getoets en geslaan om die klank te probeer kry. Ek het ʼn paar SMS’e gestuur, maar niemand het my gebel nie.”

Daarna het hy weer ʼn kans gewaag met die motor se handrem wat deel gevorm het van dié gewilde kompetisie op JacarandaFM, maar weer eens het niemand hom geskakel nie.

“Ek het gedink as dit nie vir jou bedoel is nie, dan is dit nie vir jou bedoel nie. Toe die babastoeltjie-klank vir die eerste keer begin speel, het ek eers besluit om nie in te skryf nie, maar toe ek Martin se eerste wenk op die Facebook-blad sien, het die gogga weer gebyt,” vertel Visagie.

Hy vertel hy het begin navorsing doen oor verskillende babastoeltjies en het op Google op die Bumbo-babastoeltjie afgekom. “Ek het daarna ʼn draai gaan maak by ʼn babawinkel en ook by Game, waar ek vir die winkelassistente gevra het ek wil na die stoeltjie kyk. Ek het aan die gordel en die skinkbord gepluk om die klank op die radio na te boots en toe ek die skinkbord pluk het ek geweet dit is die Secret Sound.”

Visagie skerts dat hy vir sy vrou, Samantha, grappenderwys gesê het as hy die R100 000 wen, gaan hy die kontant trek en met sy onderbroek aan in die tuin rondhardloop. “Dit is baie senutergend as jy met Martin op die foon is en ek het toe sommer dié grappie oor die lug ook gemaak.”

Hy sê hy beplan om sy seun, wat graag arbeidsreg wil studeer, se studies te betaal met die geld. “Ons was nie seker waar die geld vir my seun se studie vandaan gaan kom nie, so dit sal beslis ons eerste prioriteit wees. Ek weet nie of daar iets sal oorbly nie, maar as daar ietsie is, sal ek iets lekker saam met my vrou wil doen.”

Nadat hy die geld gewen het, het hy oproepe van heinde en verre gekry. “Almal wat my ken het my gebel. My foon het mal gegaan! Ek het selfs oproepe vanuit Amerika en Australië gekry. Ek is nog geskok dat ek gewen het, ek dink dit sink nog in.

“Ek probeer my jonger seun van kleins af leer dat jy altyd iets opreg en tot die beste van jou vermoë moet doen. Al verloor jy, probeer weer. Ek het nou drie keer gespeel en verskriklik baie SMS’e gestuur.

“Al is daar negatiewe kommentaar op sosiale media van ander mense wat glo hulle het die geld verdien, bly die feit van die saak dat ek dié ding hard gespeel het en elke leidraad ondersoek het. Dit is ʼn seën van bo dat Martin my uiteindelik gebel het.”

Hier is die video met die leidraad wat vir Willem Visagie R100 000 help losslaan het:

Another Secret Sound Alert! This new video will help you! #JacaBreakfast

Posted by Breakfast with Martin Bester on Monday, April 29, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fran ·

Baie baie geluk!! Ek is so bly jy het dit gewen. Daai “sound” was afgesaag en het regtig te lank gevat om gewen te word.

Andre Stander ·

Is daar regtig mense wat dink hulle verdien eerder om te wen / verdien die geld meer..?!? Oh wow….

Bly vir jou Willem! Geniet jou $$

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.