Só steun SA kletsbot diabeteslyers

Volgens prof. David Segal, mediese hoof van Guidepost, is ’n diabetesopvoeder ’n integrale deel van die diabetessorgspan. (Foto verskaf)

Kunsmatige intelligensie (KI) en kletsbotte is die afgelope tyd op almal se lippe. Soos die koms van enige vernuwing of verandering aanvanklik vrees inboesem en selfs sommige se hare laat rys, is die sneltrajek van KI en kletsbotte opnuut ’n voorbeeld van onbekend maak onbemind. Vir Jan Alleman is dié ontwikkelings ontwrigtend en omstrede, terwyl ander – wat dit ontdek en omarm – die ongelooflike en opwindende moontlikhede al meer bespreek én ontsluit.

Dié tegnologie is nie iets wat tot onlangs sommerso in dieselfde sinsnede as persoonlike welstand of gesondheid gebruik sou word nie. Mens en masjien is mos twee verskillende wêrelde, of hoe? Die Suid-Afrikaanse diabetestegnologiemaatskappy, Guidepost, versinnebeeld egter dat vooruitgang deur versoening mét tegnologie nie net moontlik is nie, maar het deur sy innoverende kletsbot reeds die lewens van duisende Suid-Afrikaners met diabetes verander.

Met een uit nege volwassenes wat deur diabetes geraak word, het Suid-Afrika volgens die Internasionale Diabetesfederasie die hoogste voorkoms van diabetes in Afrika. Dit is die voorste oorsaak van sterftes onder vroue en op een na die grootste oorsaak van sterftes in Suid-Afrika. Diegene met onbeheerde of onbestuurde diabetes het boonop aansienlik meer mediese komplikasies.

Deur diabeteslyers met ’n persoonlike diabetesverpleegkundige (ook genoem diabetesopvoeders) in verbinding te plaas, oorbrug Guidepost se gevorderde tegnologie die gaping in diabetessorg en stel individue in staat om dié chroniese siekte doeltreffender te bestuur.

Die kletsbot het reeds groot lof van gesogte wêreldwye programme soos die WhatsApp-geborgde Chat for Impact en die International Finance Corporation se Global Innovation Showcase ontvang.

Guidepost is in 2012 op die been gebring om die lewensgehalte van mense met diabetes te verbeter. Onder leiding van ’n span mediese dokters, wetenskaplikes en KI-spesialiste, is Guidepost daartoe verbind om soveel diabeteslyers moontlik te help en diabetesbestuur totaal en al te herdefinieer.

Hoewel daar groot spronge gegee word in die behandeling van diabetes, insluitend nuwe toestelle, tegnologie en advies, bly diabetes grootliks ’n siekte wat selfbestuur vereis. Om ’n gesonder lewe te lei en hospitalisering te verminder, moet mense wat met diabetes leef baie aandag aan hul dieet en leefstyl skenk. Dit vereis aansienlike aanpassings, wat moeilik sonder deurlopende ondersteuning bereikbaar en volhoubaar is. Dít is ’n leemte wat Guidepost aanpak danksy persoonlike en professionele skakeling, aangevuur deur KI.

Persoonlike konsultasies

Guidepost se WhatsApp-kletsbot verbind mense met diabetes, wie se mediese fonds hiervoor voorsiening maak, met hul eie persoonlike en kundige opvoeder, wat hulle help om dié chroniese siekte deur selfbestuur en ondersteuning te hanteer. Talle mediese fondse bied reeds hierdie voordeel as deel van hul lys voorgeskrewe minimum voordele (ook genoem PMB’s), insluitend Discovery Health en Bankmed.

Volgens prof. David Segal, mediese hoof van Guidepost, is ’n diabetesopvoeder ’n integrale deel van die diabetessorgspan. “Om die verwoestende gevolge van die siekte te beperk, is daaglikse selfbestuur van kritieke belang. Tog sukkel baie Suid-Afrikaners om die siekte te hanteer omdat hulle gebrekkige toegang tot kennis en ondersteuning het.”

Volgens Nontsikelelo Nkomo, ’n verpleegkundige en een van die Guidepost-opvoeders, is dit ’n wonderlike program. “Die pasiënte is gretig om te leer, hulle praat vrylik oor hul toestand, en vra baie vrae.”

Angela Reddy is ’n diabeteslyer wat meen die program voeg besondere waarde toe. “Die kundiges is baie behulpsaam en vriendelik. Ek het nie net meer oor insulien en medikasie geleer nie, maar ook raad ontvang oor kos – wat om te eet en wat om te vermy – en meer oor my bloedsuikerlesing te wete gekom.”

Professionele erkenning

(Skermskoot van die kletsbot.)

Graham Rowe, uitvoerende hoof van Guidepost, verduidelik dat diabetesverpleging ’n gespesialiseerde vaardigheid is wat tot nou toe nog nie voldoende erkenning gekry het nie.

“Hierdie netwerk beteken dat verpleegkundiges hulself professioneel kan ontwikkel terwyl hulle op diabetessorg fokus. Om ’n voordeel soos die Diabetes Educator Consultation beskikbaar te hê, maak ’n reuseverskil in die lewe van pasiënte. Dit bied aan hulle die geleentheid om hul soort diabetes te verstaan, asook om die risiko’s, vordering van die siekte en moontlike komplikasies te bestuur.

“Die kompleksiteit van diabetes maak dit moeilik om te bestuur, selfs met toegang tot die beste medisyne, toestelle en advies. Ons het gevind dat ons verhoudingsbenadering persone met diabetes inspireer om selfbestuur op volhoubare maniere te verbeter, wat eindelik hul lewensgehalte verbeter. Verpleegster vir verpleegster en pasiënt vir pasiënt: dít is hoe ons die diabetesstryd wen,” het Rowe gesê.

Segal meen die vennootskap met duisende dokters versterk hul netwerk. “Ons bou enersyds ’n netwerk van professionele verpleegkundiges wat as diabetesopvoeders opgelei is om pasiënte toe te rus om die siekte daagliks te bestuur, en andersyds bemagtig ons diegene met diabetes met die hulp en ondersteuning wat hulle verdien.”

  • Sluit gratis aan by Guidepost se Education to Protect Tomorrow (EPTO)-program deur ’n Whatsapp na 087 551 7928 te stuur of op hierdie skakel te klik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.