Sonneblomkind

(Foto: Matti Johnson/Unsplash)

Met die aanbreek van die nuwe jaar het ek vol hoop weggespring. Noudat ek uit die blokke is, vra ek vir die Here dat Hy my sal lei deur die hoogte- en laagtepunte wat in die jaar voorlê. Dít is ʼn besondere jaar vir my by Solidariteit Helpende Hand, naamlik die viering van my sewejaardiens by ʼn instelling wat glo in saamwerk, saamstaan én saambou.

Die taal wat ons by Helpende Hand én die Solidariteit Beweging gebruik, is natuurlik Afrikaans. Maar deel van ons daaglikse woordeskat is woorde soos gemeenskap, roeping en geloof. Een woord wat jy baie hoor en spreek, is die woord BOU.

Een van die projekte wat my baie na aan die hart lê, is die Bemagtig ʼn Kind-projek. Met ons eerste paneelbespreking vir die jaar sit ons met 28 kinders vir wie ʼn bruggie tot ʼn beter toekoms gebou moet word: 28 name, 28 gesiggies en 28 lewens wat stukkie vir stukkie uitmekaar geval het en wat net ʼn kans nodig het.

(Argieffoto: pixabay)

Tydens die bespreking oor die aansoeke, sit en kyk ek vir een van die aansoeke voor my. Op hierdie aansoek staan ʼn dogtertjie se naam. Haar naam val sag en gaan rus in een van die plekkies in my hart wat ek reserveer vir die Helpende Hand-kinders. Haar naam bly in my gedagtes lank nadat ek reeds tuis is en self my eie dogtertjie die aand neerlê in haar bedjie. Haar naam sit doodstil in hierdie gereserveerde plekkie, kruisbeen in ʼn hoekie met trane in die oë.

Ek sien weer voor my die aansoek. Die kind met die mooi naam, maar haar storie is een van ondenkbare dinge wat in haar lewe plaasgevind het. Van fisieke tot emosionele mishandeling, uitmekaar geruk deur volwassenes. Maar tussendeur die woorde gevul met trane skyn daar ʼn dowwe liggie. Hierdie liggie is ʼn ander volwassene in haar lewe wat wel gesien en gehoor het en wat wil help. Met die aansoek wat ingedien is, word daar gesmeek om hulp vir die kind. Ek noem haar sonneblomkind.

Die BOU van ʼn bruggie

Kinders is ʼn kwesbare deel van ons samelewing – hulle kies nie in watter huis of in watter omstandighede hulle grootword nie. Soms verg dit net ʼn klein bydrae tot kinders se lewe om vir hulle ʼn brug te bou na beter omstandighede, byvoorbeeld koshuisgeld, vervoer na en van die skool, remediërende onderrig of terapie.

helpende-bemagtig-kind-pixabay-05.jpg

Foto: pixabay.com

Elke aansoek om hulp word deur ʼn paneel bespreek en op meriete beoordeel. Elke kind se individuele behoeftes word in ag geneem wanneer die aansoeke oorweeg word.

Die administrasie en finansies van suksesvolle aansoeke word deur Helpende Hand se maatskaplike en finansiële afdelings behartig en geen betalings word direk aan ouers gemaak nie; alle gelde word aan die betrokke instansie self oorbetaal.

Die geld wat vir die Bemagtig ʼn Kind-projek aangewend word, vorm deel van die JD Kestell-gedenkfonds. Dié fonds is vernoem na dr. John Daniel Kestell, oftewel Vader Kestell soos hy bekend gestaan het, een van die merkwaardigste figure in Afrikaanse geledere. Vader Kestell is in sy eerste bedieningsjare as predikant só geraak deur die verarming van die Afrikaner dat hy besluit het om sy lewe daaraan te wy om verarmde Afrikaners geestelik, kultureel en maatskaplik op te hef. Vir Vader Kestell was onderrig die sleutel tot die verbreking van die armoedekringloop. Solidariteit Helpende Hand volg ook, soos Kestell, ʼn benadering van opheffing deur opleiding om die armoedesiklus te verbreek.

Ons sal aanhou streef om hierdie brug te wees, hierdie struktuur tussen twee punte van die lewe.

Sonneblomkinders

Die Bemagtig ʼn Kind-projek kon hierdie meisie help met wat sy nodig gehad het. Daar word in ʼn wye spektrum van behoeftes voorsien van kleuterskool-, laerskool- en hoërskoolleerders, insluitend die volgende:

  • Ekstra klasse
  • Naskoolgelde
  • Terapie (spel-, spraak- en arbeidsterapie)
  • Vervoer na en vanaf die skool
  • Koshuisgelde
sonneblom-veld-bemagtig-n-kind-gilles-seguin.jpg

Foto: unsplash.com/gilles-seguin.jpg

In 2023 het Ons Sentrum ook deel geword van Bemagtig ʼn Kind. Solidariteit Helpende Hand se Ons Sentrum bied terapie aan kinders wat trauma soos emosionele, fisieke of seksuele mishandeling, verwaarlosing, die dood van ʼn geliefde, egskeiding, aanhoudende konflik tussen ouers, gesinsgeweld, afknouery en gedragsuitdagings beleef het. Ons primêre begunstigdes is kinders en gesinne wat hierdie dienste nie elders kan bekostig nie.

seun-lees-bemagtig-n-kind-pixabay.jpg

Foto: StockSnap/pixabay

Dis ʼn hartsaak om dié kinders te help om hul trauma te verwerk sodat hulle beter kan konsentreer op skool en hul potensiaal kan verwesenlik. Ons Sentrum word gesubsidieer uit die Bemagtig ʼn Kind-fonds. Die meeste ouers kan glad nie betaal vir die dienste wat Ons Sentrum lewer nie, en ʼn paar kan slegs ʼn klein bedraggie bekostig.

Die sonneblomkind kon ek help, want ek het ʼn instelling soos Helpende Hand aan my sy. Weereens weerklink die taal en woorde van die Solidariteit Beweging in my ore, “saam is ons sterker”, en weereens besef ek dit opnuut soos ek hier sit en skryf. Wanneer mens saamstaan as gemeenskap is mens inderdaad sterker en kan vorentoe beweeg om elke sonneblomkind se bruggie te bou.

Sewe jaar

Sewe jaar gelede het ek nog gesoek na my roeping, nou leef ek dit al vir sewe volle jare, sewe jaar van die gawe om te gee, sewe jaar van hartseer verhale, maar dan begin daardie dowwe liggie weer skyn en dan sien ons sonneblomkinders die lig, hulle tel weer hul koppe op.

Die getal sewe is ʼn Bybelse getal. Drie verwys na God en vier na die vier windstreke. God is dus in alles, oral om ons.

Mag daar nog sewe jaar wees waarin hierdie sonneblomkinders bedien kan word saam met ons bekwame en roepingsgedrewe personeel, saam met die gemeenskap wat hande vat en saam met ons Hemelse Vader.

Word deel

Ons nooi jou om ʼn bydrae tot die JD Kestell-gedenkfonds te maak sodat meer kinders deur die Bemagtig ʼn Kind-projek bygestaan kan word. Besoek gerus https://helpendehand.co.za/bemagtig-n-kind/ en maak ʼn bydrae of kontak [email protected]

 seun-sonneblomme-bemagtig-kind-evelina-photography-unsplash.jpg

Foto: unsplash.com/evelina-photography.jpg

Hoe kon jy
Sonneblomkind
My onskuld
Vir altyd
In een oomblik
My ontneem?
 
“Verf vir my ʼn sonneblom, Juffrou”
En daarmee was my onskuld
Vir altyd weg
 
Stil in onkruid het jy gestaan
Voete vuil
hare broos
Krinkels en draaie
deel van jou bestaan
Tussendeur die vuil
jou wange wat bloos
 
Waar in die Noordwes is jy vandag?
Sonneblomkind

Waar tussen die armoede lê jou lag?
Jy is ʼn straatstorie
onder die hemel
Jy kruip weg
vir onheil wat wriemel
 
“Verf vir my ʼn sonneblom, Juffrou”
Sal ek jou gesiggie ooit kan vergeet?
Sou ek jou in vryheid kon toevou?
En rykdom kon bied?
Ek weet
God het jou gebruik
Om my bruikbaar te maak
Al het jy
Met jou sonneblomvraag
My onskuld vir altyd weggevat

Rene Roux – adjunk- uitvoerende hoof, Solidariteit Helpende Hand

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.