Spesiale aflewering: Matriekafskeid toe in ’n koerierboks!

Johan en Ronaldo gesels oor die logistiek van sy versoek. (Foto: Skermgreep/Facebook/The Courier Guy)

Ronaldo Joubert, ʼn gr. 12-leerder aan die Hoërskool Garsfontein in Pretoria, se vervoerkeuse na sy matriekafskeid het nuwe betekenis aan die term “spesiale aflewering” gegee.

Waar baie matrieks spogmotors, roomyskarretjies of self helikopters verkies, het Ronaldo se buite-die-boks-denke het hom binne-in ʼn boks laat beland – spesifiek een van die koerierdiens, The Courier Guy.

Ronaldo het sosiale media aan die gons gehad met sy besluit om nes ʼn pakkie by sy matriekafskeid afgelewer te word.

“Toe ons die oproep met dié vreemde versoek kry, was die eerste vraag wat die grootte van die ‘pakkie’ gaan wees,” vertel Johan Meyer, Gauteng-area bestuurder vir The Courier Guy, skertsend in ʼn video wat die maatskappy op Facebook gedeel het.

Lanie Claassen, Ronaldo se ma, vertel in dié video dat die man aan die ander kant van die lyn verbaas was toe sy aanvanklik die oproep gemaak het.

Lanie help om die boks met die nodige hulpmiddels toe te rus. (Foto: Skermgreep/Facebook/The Courier Guy)

“Julle wil wat presies doen?” vertel sy laggend oor die reaksie op die gesin se versoek.

Soos daar gesien word in hul skreeusnaakse advertensies met Leo Prinsloo, die sekuriteitswag wat verlede jaar oornag ʼn Suid-Afrikaanse held geword het toe hy ʼn bende transitorowers in Pretoria met sy bestuursvernuf gefnuik het – blyk humor en pret deel van The Courier Guy se beleid te wees.

Toe hoofkantoor die groenlig vir Ronaldo gegee het, is daar geweeg en gemeet om ʼn boks spesiaal uit palette te ontwerp waarin hy sou pas.

Omdat hy “oornag” afgelewer is, het Lanie ook voorsiening gemaak en die boks toegerus met die nodige toiletware en natuurlik Ronaldo se uitrusting.

Een van Ronaldo se onderwysers moes selfs vir hom ‘teken’. (Foto: Skermgreep/Facebook/The Courier Guy)

“Do not return to sender” het selfs buite op die boks gepronk.

Die video wys verder hoe Johan in die boks regmaak en met ʼn groot toejuiging van sy skoolmaats by die matriekafskeid deur twee wagte “afgelewer” word.

“Op die einde van die dag was dit baie pret en ons het die hele ervaring geniet,” het Johan oor Ronaldo se spesiale aflewering gesê.

Volgens Ronaldo is sy vervoermiddel as die uniekste bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.