Die Universiteitskoor van Stellenbosch was die groot wenner by die agtste Internasionale Koorspele in Rusland wat Saterdag ten einde geloop het.
Martin Viljoen, woordvoerder van die universiteit, het gesê die US-koor, onder leiding van André van der Merwe, het eerste plekke en goue medaljes in drie kategorieë verower.
“In die kategorie gewyde á capella het hulle 92% behaal, in die kategorie vir geestelike liedere 94% en in die afdeling vir kontemporêre musiek 98%. Dit is die hoogste punt toegeken in enige van die 27 kategorieë waarin die afgelope 10 dae meegeding is. Met hierdie prestasie behou die US Koor hul eerste plek op die Interkultur-ranglys vir beste internasionale nie-professionele kore, ʼn posisie wat hulle reeds sedert 2012 beklee.”
Viljoen het gesê as verdere bonus, het die US-koor ook ʼn spesiale CD-kontrak losgeslaan in die gesogte Choirs of the World-reeks.
Die Internasionale Koorspele word tweejaarliks aangebied en vanjaar het meer as 300 kore uit 36 lande deelgeneem. Dit is die grootste koorkompetisie ter wêreld. Interkultur het vroeër aangekondig die negende Internasionale Koorspele sal in 2018 in Pretoria, Suid-Afrika, gehou word.
Die US-koor bestaan uit 120 studente en Van der Merwe is reeds die afgelope 12 jaar die dirigent.
Die koor sal in twee groepe na Suid-Afrika terugkeer. Die eerste groep word op Dinsdag by die Kaapstadse Internasionale-lughawe verwag en die tweede groep Vrydag.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
7 Kommentare
Wonder in watter tale mag daar gesing word?
Welgedaan aan die jongmense!
Mooi so Stellenbosch!!!
Ook aan dirigent Van der Merwe en almal betrokke. Besondere prestasie.
Jul maak ons “geen-nootvas-ouens” se harte warm klop van bewondering.?
Skitterend, Maties! Skitterend André van der Merwe! Jou pa is nie meer vandag daar nie, maar hy sou baie trots gewees het op jou! Baie geluk ook aan die ander kore wat goed gepresteer het. Ons wag almal vir daardie CD.
Watse tale mag hulle sing wonder ek ? Is daar ook groot issues met dit ?