Stem en wen: Help kies Maroela se Herfsbruid

Afrikaanse meisies maak die mooiste bruide – dis nou maar gewis!

Maroela Media gaan met elke seisoen ʼn seisoenebruid aankondig en aan die einde van die jaar gaan ons lesers ook die geleentheid kry om die Bruid van die Jaar aan te wys.

Ons het vanjaar reeds ʼn Somerbruid aangewys.

Paartjies wat tussen Maart en Mei 2023 getrou het, het vir die Herfsbruid in aanmerking gekom.

Uit honderde inskrywings moes ʼn beoordelaarspaneel behoorlik kopkrap! Ons het die top-10 Somerbruide saamgestel en nou wil ons by julle, ons lesers, hoor watter een van dié mooie bruide as die Herfsbruid aangewys moet word en uiteindelik deurdring na die finale ronde as Maroela se Bruid van die Jaar.

Ons gaan deur die loop van die jaar ook ʼn Winterbruid (troues in Junie – Augustus 2023) en Lentebruid (September – November 2023) aanwys. Hou dus Maroela dop as jy wil seker maak jy skryf vir dié opwindende kompetisie in!

Wat kan jy wen?

As jy deelneem aan die stemmery vir die Herfsbruid, staan jy die kans om een van 10 gelukkige lesers te wees wat elkeen ʼn baie spesiale bottel Tapputi-parfuumolie wen. Maak dus seker jou inskrywing bereik ons voor 2 Julie 2023.

Wat is Tapputi?

Vroue reg oor Suid-Afrika is gaande oor die splinternuwe Egiptiese parfuumolie-reeks, Tapputi. Hierdie luukse reeks is in November 2022 bekendgestel en word ondersteun deur bekende gesigte soos Margit Meyer-Rodenbëck, Chané Grobler, Rozanne McKenzie, Vourne Kgosinkwe en Danelle Liebenberg ElFar.

Vriendinne koop dit vir mekaar, pa’s koop dit vir hulle dogters, ma’s vir hulself of dogters, dogters vir hul ma’s, mans vir hul vrouens, besighede vir hul werknemers, bruide vir hul strooimeisies en so gaan die lys aan.

Tapputi is ’n unieke luukse parfuumolie-reeks wat sag is op die vel, tot en met agt ure hou en direk vanaf Egipte ingevoer word. Dié reeks parfuumolies is A-graad, onverdun, vry van enige alkohol en chemikalieë en bestaan uit 14 geure. Die kersie op die koek, natuurlik, is die beeldskone antieke botteltjies waarin hierdie wonderlik parfuumolies aangebied word.

Die naam, Tapputi, is geïnspireer deur Tapputi Belatekallim wat beskou word as die wêreld se eerste amptelike vroulike chemikus – ’n parfuummaker wat op ’n antieke spykerskriftablet genoem word. Argeoloë het bewyse van haar werk gevind op ’n Assiriese spykerskriftablet wat uit 1200 v.C. dateer in Babiloniese Mesopotamië.

As koninklike parfuummaker, was Tapputi nie net die hoof van haar eie huishouding (wat is wat  “Belatekallim” beteken) nie; maar word ook beskou as ’n kenner in haar veld en die amptelike hoof van die parfuumaanleg by die paleis.

Tapputi is tans slegs aanlyn of by uitgesoekte boetiekwinkels beskikbaar, maar sal na verwagting voor die einde van 2023 in nog meer boetiekwinkels, landswyd, beskikbaar wees.

Klik hier om die webwerf te besoek, of sluit aan op Facebook, Instagram en TikTok.

Hier is die top-10 Herfsbruide

Die uiteindelike wenner van ons Herfsbruid-kompetisie  wen twee nagte vir twee persone wat deel by die Tala Collection-wildreservaat (insluitend ontbyt) in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal met die komplimente van Dream Hotels and Resorts.

Chanéll Naudé

Chanéll en Eduan Naudé van Centurion het op 18 Maart 2023 by die Stable View Venue in Hekpoort getrou.

“Ek is ʼn lewende getuienis van Spreuke 30:18-19. Van dag een af het ek ʼn liefde gevoel by Eduan wat ek nog nooit tevore gevoel het nie. En om eerlik te wees, verstaan ek sy liefde vir my nog steeds nie, soos vers 19 sê. Ons dag was sprokiesmooi. Dit het elke element gehad wat ons passies en gunstelinge saam so mooi uit beeld. Die gemak, opwinding en avontuur van ons naweektroue was die mooiste toonbeeld van ons verhouding.

“Met Jesus as ons middelpunt het ons ons huwelik in getree met nagmaal, om Hom te erken as leier van ons huwelik en lewe.

“Die dag was gevul met rou, ware, mooi emosies. Die drome van ʼn perfekte troue as ʼn kind lyk nou so vaal teenoor dit wat ons ervaar het in die hartjie van Hekpoort. Maar om eerlik te wees, al was die dag vol donderstorms, winde of selfs dalk ʼn verlore trourok… maak nie saak wat sou kom nie, hierdie dag sou die mooiste gebly het. Want al wat daardie dag vir ons kon saak maak, is ek en hy. Sy aan sy.”

Lumé Strydom

Lumé en Johan Strydom van Heilbron het op 1 April 2023 by die Lezar Opstal in Heidelberg getrou.

“Dis ʼn dag wat niemand presies kan beskryf nie. Nie net omdat mens jare lank wag nie, maar omdat dit ʼn dag is wat só kosbaar is. Elke oomblik wat gekoester word tot in die diepste diep gedeeltes van jou hart. Daar waar net warm liefde gevoel kan word. Al jou geliefdes wat by mekaar kom om die groot dag te deel, gesigte wat straal en oë wat praat. Waar een se glimlag witter lyk as die vorige. Harte wat saam klop op die maat van opwinding in die stilte soos almal aandagtig wag.

“Dit is beslis ʼn bruilof wat aan die gebeur is! Elke uur wat soos sekondes hardloop. Toe ons weer ons oë knip, is dit geliefdes wat groet. ʼn Besonderse dag wat net te vinnig verby is. Wel so klink ʼn perfekte troue, maar tog het almal die dele wat nie genoem mag word nie. Daar was ʼn ongeluk op die snelweg en het gemaak dat ons grimeer- en haarmeisies eers om 13:30 arriveer. Toe waai die kwaste en borsels want 15:00 moet ons trou! Die gaste was al in die kerk en weer uit die kerk. Gelukkig kon ons sê “April fool!”

Bianca Holtzhausen

Bianca en Cronjé Holtzhausen van Somerset-Wes het op 7 April 2023 by Kleinbergskloof Olive Estate in Stilbaai getrou.

“Op 7 April 2023 het my lewe verander. Ek, Bianca Jonker, en Cronjé Holtzhausen het op dié dag ʼn belofte aan mekaar en vir die Here gemaak. Ons het beloof dat ons mekaar sal lief hê en bystaan tot in ewigheid.

“Goeie Vrydag. Wat ʼn onaardse dag om ʼn troudatum te kies! Goeie Vrydag is vir Christene ʼn dag van rou en hartseer. Maar dit is juis een van die redes hoekom ek dié dag gekies het: Goeie Vrydag is ʼn dag wat eintlik ʼn dag van hoop en nuwe lewe moet wees omrede Jesus vir ons sondes gesterf het.

“Die dag was een van die ongelooflikste ervaringe van my lewe. Nie net omdat ek getrou het nie, maar ook omdat ek die Here se teenwoordigheid in ʼn groot mate daai dag kon beleef het. Om die kersie op die koek te sit, was ons dag ook net so spesiaal omdat ons deur Cronjé se broer, ps. Louis Holtzhausen van CRC getroud is.

“Ons dag was vol liefde, geluk en ʼn groot samekoms van mense wat van ver af gekom het net om ons te vier. Ons venue was simplisties, elegant en suiwer en een vir die boeke.”

Melene Kleynhans

Melene en Morné Kleynhans van Hertzogville het op 1 April 2023 by die Oewerkuier-venue in Christiana getrou.

“Ses weke voor my troue het ek gedink 1 April gaan sowaar ʼn “April fools”-dag wees. Die venue waar ons trou het verspoel en was kniediep onder modderwater. Maar met harde werk en seën van Bo, het die dag aangebreek as ʼn windstil, pragtige, warm sonskyndag. Die gras was mooi groen en my wens om in die buitelug, langs die rivier te trou, kon bewaarheid word.

“My troudag was ʼn droomtroue. Dit het gevoel of ek en my man in ons eie bubble is. Volgens my was alles perfek, ten spyte van ʼn hiccup hier en daar. Ek het by baie mense die raad gekry om elke oomblik van jou troue in te neem, want dit gaan so vinnig verby.  Dit is baie waar woorde, want die aand was regtig in ʼn oogwink verby.  Maar soos hulle sê: “Time flies when you’re having fun!”

Jaylee Gertse-January

Jaylee en Nathaniël January van Stellenbosch het op 22 April 2023 by Graceland in die Paarl getrou.

“Seëninge het neergestort en die paadjie benat waarop ons moes wandel tot voor die altaar. Die grysheid van die dag kon nie die warmte van God se heilige teenwoordigheid oorskadu nie.

“Noodgedwonge moes ons ons tuintroue verskuif na die onthaalsaal en die bruid – wat reeds 30 minute voor die seremonie buite in die motor moes begin sit en wag het, moes toe nóg ʼn rukkie lank wag vir dinge om rondgeskuif te word.

“Die bruidegom en al ons geliefdes het op die laaste minuut ingespring sodat alles op tyd kon geskied, sommige familie het op hemelhoë hakke rondgehardloop en meubels rondgeskuif sodat ons in die middel van die onthaalsaal ʼn seremonie-area en altaar kon bou. ʼn Ou wynvat was die kansel en sommer so om die tafel het ons geliefdes gerieflik toegekyk hoe ons ewig trou beloof voor God en aan mekaar.

“Net ná die konfetti gestrooi is, is daar aangekondig die potjiekos is gereed. Met die reën wat musiek maak op die dak het ons kuier-kuier ons aand met vreugde afgesluit.”

Twané Lutman

Twané en Dylan Lutman van Krugersdorp het op 27 April 2023 by Stable View in Krugersdorp getrou.

“Die Lutman-bruilof was alles en nog meer waarvan ek gedroom het. My strooimeisies, ma en skoonma het elke sekonde saam gedeel in die opwinding van die dag. Ek onthou almal se geklets en gegiggel terwyl grimering en hare gedoen word nog so goed. My ma en hoofstrooimeisie het my gehelp om my rok aan te trek. ʼn Oomblik wat ek vir altyd sal koester, was die onthulling wat ek vir my strooimeisies, pa en boetie gedoen het.

“My pa se reaksie was genoeg om my soos ʼn ware prinses te laat voel. Dit is tyd vir die seremonie om te begin!

“Nadat die gevolg ingeloop het, is die deure toegemaak. Ek het by my pa ingehak en die vlinders in my maag het omtrent bollemakiesie geslaan!

“Soos die deure ʼn laaste keer oopgaan, sien ek my prins daar voor staan. Die res van die aand was ʼn ware sprokiesverhaal. Ons eerste dans as Meneer en Mevrou Lutman was ʼn showstopper. Die wit sponskoek met Belgiese sjokoladeversiering was hemels. Die melktertjies op die tafels was ook ʼn wenner gewees. Die gaste het hul gate uit geniet!”

Luzanne Strydom

Luzanne en Dwayne Strydom van Pretoria het op 10 Maart 2023 by Inimitable in Muldersdrift getrou.

“ʼn Regte perfekte mooi dag van die oggend tot alles verby was… Die mooiste venue in Muldersdrift en ʼn sonskyn dag met geen wolke nie. Ons tema was wit en swart (soos ʼn skaakspel), because the King needs the Queen to win this game!

“Al ons gaste het formele black only-drag gedra wat ons laat uitstaan het, en wie hou nou nie van ʼn bietjie opdress met ʼn swart nommertjie nie?!

“Die kos was nie net prentjiemooi nie maar smullekker en al ons gaste praat nou nog van die fine dining-ervaring wat hulle gehad het

“Maar die lekkerste oomblik was toe ek in die kerk instap en Dwayne nie sy trane kon terug hou nie. Om ons huwelik te kan begin met ʼn verbintenis voor God, ons familie en spesiale vriende … Wat meer kan jy voor vra?”

Melissa Kleynhans

Melissa en Lourens Kleynhans van Bloemfontein het op 29 April 2023 by die Monte Bello Estate getrou.

“Dit was ʼn perfekte somersherfsdag, alles was in klassieke swart en wit getooi. Tot die seuntjies elkeen in hul perfekte tux en die popkassies in hul wit rokkies met swart linte styf om die middeltjies gebind.

“Die bruidegom in sy tydlose swart pak getooi en die blommemeisies, ʼn prentjie in hul swart rokkies, elkeen met ʼn strik op die skouer.

“Die bruid het in haar elegante swart Mercedes aangekom, en ingehak by haar pa op die maat van “What a Beautiful Name it is” van Hillsong ingestap.

“Almal was in die wolke met die pragtige preek van ons getroue dominee van Doxa Deo Noord in Bloemfontein.

“Daarna het ons behoorlik makietie gehou tot in die vroeë oggendure, en almal was op die dansvloer toe oom Ian “Jerusalema” gekoördineer het. Almal was pap gelag vir die dansmoves wat daaruit gekom het.

“Alles is te danke aan ons Skepper!

“Ja, dit is cliché, maar regtig uit die diepte van ons hart, kon ons nie vir ʼn méér perfekte dag gevra het nie.”

Elana Pieters

Elana en Ryno Pieters van Centurion het op 21 Maart 2023 by die Greenhouse Café in Rosemary Hill getrou.

“Dit was waarlik die perfekte dag – sonnig met ʼn lekker windjie om almal af te koel. Ek wou nog altyd in Maart getrou het. Ons troue se kleurskema was herfsgeïnspireerd: kleure van room, goud, en wynrooi, met subtiele groen ingemeng; proteas, grasse en vetplante, en ander aardse rangskikkings.

“Ons was bevoorreg om ons naaste vriende en familie daar te hê om die groot dag saam met ons te vier (baie het selfs van oorsee gereis!).

“Daar was net ʼn kalmte in die lug – ʼn atmosfeer van geluk, vrede en liefde natuurlik! Die kos, die verrigtinge, en die musiek het foutloos verloop. Die seremonie was spesiaal – die boodskap so gepas vir ons. Ons het albei lank gewag vir mekaar, maar dit was absoluut die wag werd.”

Janelle du Preez

Janelle en Gerhard du Preez van ʼn plaas tussen Morgenzon en Standerton, het op 4 Maart 2023 by die Grasslands Conference and Wedding Venue in Bethal getrou.

“Ons mooi dag was werklik ʼn kinderdroom wat waar geword het. Dit was ʼn besonderse dag vol onvergeetlike herinneringe saam met al ons spesiale vriende en familie.”

Stem nou vir jou gunsteling-Herfsbruid

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die sluitingsdatum om vir die Herfsbruid te stem is 2 Julie 2023 om 23:45.
  • Die tien wenners van die Tapputi-parfuumolies sal lukraak uit alle stemme gekies word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • As jy aan die stemmery deelneem, stem jy in dat jou naam op Maroela Media se webwerf bekendgemaak mag word indien jy as een van die wenners van die Tapputi-parfuumolie aangewys word.
  • Maroela Media kan nie aanspreeklikheid aanvaar as jou inskrywing vir een of ander tegniese rede ons nie betyds bereik nie.
  • Die prys(e) kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Maroela Media sal elkeen van die wenners kontak.
  • Inskrywings vir die Winterbruid sal plaasvind tussen Junie en Augustus 2023, en inskrywings vir die Lentebruid sal plaasvind tussen September en November 2023. Inligting en inskrywingsvorms hiervoor sal deur die loop van die jaar op Maroela Media bekendgemaak word. Jy kan ook Maroela Media se Bruid van die Jaar-blad dophou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.