Stem en wen: Help kies Maroela se Lentebruid

Dis ʼn groot voorreg om die liefde van jou lewe te ontmoet – en ʼn groter voorreg as julle trou aan mekaar kan beloof.

Maroela Media het met elke seisoen ʼn seisoenebruid aankondig en binnekort gaan ons lesers die geleentheid kry om die Bruid van die Jaar uit dié vier seisoenebruide aan te wys.

In samewerking met Dream Hotels & Resorts is daar boonop groot pryse op die spel.

Paartjies wat tussen September 2022 en November 2022 getrou het, het vir die Lentebruid in aanmerking gekom. Ons het reeds ʼn Somerbruid, ʼn Herfsbruid en ʼn Winterbruid aangewys.

Uit honderde inskrywings moes ʼn beoordelaarspaneel behoorlik kopkrap – dis duidelik dat Afrikaanse meisies die mooiste bruide maak! Ons het die top-10 Lentebruide saamgestel en nou wil ons by julle, ons lesers, hoor watter een van dié mooie bruide moet as die Lentebruid aangewys word en uiteindelik deurdring na die finale ronde as Maroela se Bruid van die Jaar.

Stem en wen

As jy deelneem aan die stemmery vir die Lentebruid, staan jy die kans om ʼn heerlike Tupperware-geskenkpak te wen. Laat weet ons voor 12 Desember 2022 wie jóú gunsteling is uit die top-10 Lentebruide.

Jy kan tydens die stemproses van elke seisoenebruid in aanmerking kom vir ʼn Tupperware-geskenkpak ter waarde van R5 500.

Dié wonderlike geskenkpak sluit in ʼn mikrogolf- vinnige koker (ter waarde van R1 999), ʼn kruieknipper (R459), ʼn “Signature Line”-stel (vier verskillende groottes) (R1 686), ʼn VentSmart High-stel (R499), ʼn “Click Series”-stel (R500) en ʼn geskenkbewys wat jy aanlyn in Tupperware se winkel kan gebruik ter waarde van R500.

Hier is die top-10 Lentebruide

Die uiteindelike wenner van ons Lentebruid-kompetisie wen en twee nagte vir twee persone wat deel by die Little Switzerland Resort aan die voet van die noordelike Drakensberge in KwaZulu-Natal met die komplimente van Dream Hotels and Resorts.

Rudiné van Tonder

Rudiné van Tonder

Rudiné en André van Tonder van Potchefstroom het op 10 September 2022 by Ourief Troulandgoed getrou.

ʼn Hart word ʼn huis
Van vanaand af is een plus een, een
Met jou langs my, voel ek verewig tuis

Met dié uittreksel van die hartroerende gedig het my man sy toespraak by ons troue afgesluit. Ons troudag was real, authentic en eie aan ons. Dit was ʼn intieme troue met ons naaste familie en vriende wat dit bygewoon het. Tog was daar ʼn oorvloed van liefde en vreugde reg deur die dag. Ons fotosessie is afgesluit deur ons beloftes aan mekaar voor te lees. Dit was ʼn onvergeetlike oomblik wat niks minder as perfek was nie. Met ons eerste dans het ons die dansvloer met die liedjie “Growing old with you” geopen – die lirieke weerspieël woord vir woord ons verhouding. ʼn Romantiese eerste dans onder die sterre, vonkstokkies en vreugdevure reg rondom, het die feesvieringe afgeskop. Ons het lekker gelag, gehuil, gedans, gesoen en gekuier. Ek koester elke herinnering. Op ʼn mooi dag! And so together they built a life that they loved…

Nicaile Oosthuizen

Nicaile Oosthuizen

Nicaile en Amand Oosthuizen van Jeffreysbaai het op 24 November 2022 by Lombardini in Jeffreysbaai getrou.

“Vandat ek ʼn klein dogtertjie was, droom ek al van my groot troudag. My asemrowende man en ons spesiale dag het my verwagtinge oortref! Ons dag was so geseënd, die liefde was in oorvloed en ons gaste het saam met ons gejubel! Ek sal nooit my liefde teenoor my man, ons gaste en die spesiale tyd van dans saam met familie en vriende vir enige iets verruil nie. Ek voel skatryk! Ek het my eie wonderlike gesin en nou is ek ook deel van ʼn nuwe gesin van 12. Ek sal vir altyd ons spesiale herinneringe van ons troufees koester.”

Michelle Odendaal

Michelle Odendaal

Michelle en Leon Odendaal van Centurion het op 17 September 2022 by Gourikwa-reservaat in Gouritz in die Wes-Kaap getrou.

“Ons weet almal moes vêr ry om ons te sien vry … Maak ʼn naweek daarvan en vergeet van die kleinspan! Twee families kom saam, dit vat meer as net een maan. So, vir almal om te meng en mekaar te leer ken: Ons het die Vrydagaand al begin kuier en Saterdag was die groot dag waarvoor ons almal gewag het.”

Meisies, rokkies reg, hare gevleg.
Manne, dasse aan, dis tyd om te gaan.
Dis Michelle se groot dag, moet nie laat sy vir jou wag!
Sondag wil ons groet met almal in ʼn kort broek.
ʼn Lekker ontbyt voor ons sê, fluit-fluit die naweekvieringe is uit!

“Ons dag was alles en meer! Ons het met die see en walvisse in die agtergrond getrou met al ons geliefdes teenwoordig. ʼn Onvergeetlike naweek!”

Charmoné Matthys

Charmoné Matthys

Charmoné en Etienne Matthys van Pretoria het op 23 September 2022 by Memoire Wedding and Function Venue getrou.

“Ons troudag was die mees perfekte prentjie van ʼn sprokiestroue ooit. Alles waarvan ons ooit kon droom, het daardie dag perfek bymekaar gekom. Die heel beste begin vir ʼn perfekte en volmaakte huwelik!”

Alicia Venter

Alicia Venter

Alicia en Jabus Venter van Muldersdrift het op 17 September 2022 by Ground in Muldersdrift getrou.

Dit was ʼn sonnige lentemiddag toe Alicia en Jabus trou aan mekaar beloof het. Lucretia’s Country Flair het gesorg vir die blomme en dekor en Lucretia het laat weet sy is geïnspireer deur die bruid se “tydlose fyn gelaat en skoonheid”. Die troue se tema was haarfyn beplan, omrede die bruid ‘n fyn en elegante gevoel regdeur die troue wou hê. Die kleurskema was goud, wit en swart om die elegansie te weerspieël met foto’s wat lig en sag vertoon het. Alicia het haar Milla Nova-ontwerpersrok gedra waarvan sy nog altyd gedroom het en het werklik soos ‘n prinses gevoel! Alicia sê: “Ek het as klein dogtertjie al gedroom van my troue eendag. Vandag kyk ek terug met ʼn warm hart na foto’s wat boekdele spreek. Ek dink ʼn bruid moet haarself wees en haar eie unieke styl uitleef op haar troudag, in my geval was ek nog altyd mal oor ʼn prinses en het werklik soos een gevoel op my groot dag.”

Jessica Malherbe

Jessica Malherbe

Jessica en SJ Malherbe van Hertzogville het op 1 November 2022 by Bundu Game Lodge getrou.

“Ek weet dit is ʼn cliché om te sê dit was die perfekte dag, maar ek kan met alle eerlikheid sê dit was die mooiste dag van albei ons lewens. Dit het die jare se gewag en afstand die moeite werd gemaak. Alles was perfek van die kerkliedjie tot die eerste dans. Dit was ʼn dag waar ons voor ons familie en naaste vriende trou aan mekaar kon belowe en ʼn nuwe hoofstuk saam kon begin voor die mense wat ons lief het. Ek het met die liefde van my lewe getrou en daar is absoluut niks wat ek sou verander nie.”

Jesse Groepe

Jesse Groepe

Jesse Groepe en James Moritz van Johannesburg het op 22 Oktober 2022 by Waterfall Cove River Edge Venue getrou.

“Ons troudag was absoluut perfek. Ons sou niks daaraan wou verander nie. Dit was soos iets uit ʼn sprokiesverhaal. Toe ek na die kapel moes loop, het dit katte en honde gereën, maar dit het my nie gekeer om by die kapel uit te kom nie! Een van die strooijonkers het my met sy kar kom haal saam met my strooimeisies, van die plek waar ons reggemaak het en ons het daarna die mooiste dag met die mooiste weer gehad. Ons het tot die volgende oggend nog lekker gedans en gekuier. Ek en my man praat nou nog oor of ‘enige iets skeefgeloop het’ en ek sê toe vir hom ‘liefie, as iets skeefgeloop het, sou ek hoop ek as die bruid sou dit weet!’ Ons tweetjies lag nou nog oor daardie kommentaar van my. Ons het die mooiste dag met al ons geliefdes gehad en hoop om die res van ons ‘vir ewig’ ten volle te geniet.”

Zanmari Schoeman

Zanmari Schoeman

Zanmari en Peet Schoeman van Pretoria het op 8 Oktober 2022 by die Altyd Goed-landgoed getrou.

“Elke dame droom van hul perfekte dag en al loop alles nie perfek nie, was ons dag meer as perfek! Van my rok tot my skoene (al het ek wel in gemaklike tekkies getrou) tot die oomblik toe ek afstap na my man, was alles prentjiemooi. Ons eerste dans as man en vrou het nie gebeur soos ons geoefen het nie, maar die lekkerte daarvan is dat ons oor die klein goedjies kan lag wat nie presies gebeur het soos dit moes nie. Ons dekor op die tafels was eenvoudig, maar verby mooi en perfek. Die krokodilrivier op die venue is wat finaal ons harte gesteel het. Ons is so dankbaar om die dag te kon vier saam met ons geliefdes en hartsmense, maar waarvoor ons die meeste dankbaar is, is dat al twee ons ouers kon sien hoe ek en Peet een word. My raad aan enige toekomstige bruid, is om elke oomblik in te neem, al is dit goed of sleg – dit is die klein dingetjies wat ʼn mens sal onthou en later oor gaan lag. Die dag gaan oor jou en jou man – en onthou om ʼn oomblik te vat net vir julle twee.”

Maryke van Aardt

Maryke van Aardt

Maryke en Corné van Aardt van Pretoria-Oos het op 3 September 2022 by Diamond Hill getrou.

“Twee woorde wat ek sal gebruik om ons dag mee te beskryf is elegant en klassiek. Die dag was gevul met baie liefde en vreugde. Alles waaroor ons al ooit gedroom het vir die perfekte troudag het realiteit geword voor ons oë, maar die dag het nie gegaan oor die mooi dekor en blomme en lekker kos nie. Dit het gegaan oor die keuse wat ek en my man gemaak het om ons lewens aan mekaar te beloof en ʼn belofte voor die Here te maak. Ons twee het lank gewag vir die dag van hoërskoolliefde ná ʼn leeftyd saam en die lang wag was definitief die moeite werd en ons verwagtinge vir die dag was oortref. Ons onthaal was ook een van ons hoogtepunte van die dag omdat ons die meeste van die dekor self gedoen het. Al die blomme op die tafels is deur my skoonfamilie rangskik en dit is wat dit so spesiaal vir ons gemaak het. Dit was die beste dag van ons lewe om ons belofte aan mekaar met ons familie en vriende te deel.”

Tanya Pretorius

Tanya Pretorius

Tanya en Ignus Pretorius van Hopetown in die Noord-Kaap het op 3 September 2022 by Pepper Tree in Bloemfontein getrou.

“Die dag het vinniger aangebreek as wat ek gedink het. Die reëlings van die troue het van die begin af uitgewerk en absoluut glad verloop. Op die dag van die troue was ek en my twee strooimeisies so kalm. Niks was ʼn gejaag nie en ek kon elke oomblik inneem soos die tyd verloop. Toe ek my rok aangetrek het, het ek besef dat dit die ideale prentjie was waaroor ek al van kleintyd gedroom het. Ons dag was so geseënd met kosbare familie en goeie vriende. Die weer was die hele week voor die troue koud en winderig, maar op ons spesiale dag was dit ʼn windstil dag met die son wat deur die bloeisels bak. Waaroor kan ʼn mens meer tevrede wees? Toe ek vir Ignus by die kansel sien staan, kon ek my emosies nie terughou nie en ʼn traan van dankbaarheid het oor my wang gerol. Pienk en sagte groen kleure was deel van ons lentetroue. Net soos die bloeisels die nuwe begin van lente aangedui het, was ons harte vol bloeisels oor ons nuwe seisoen in ons twee se lewe.”

Stem nou

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die sluitingsdatum om vir die Lentebruid te stem is 12 Desember 2022 om 23:45.
  • Die wenner van die Tupperware-geskenkpak sal lukraak uit alle stemme gekies word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • As jy aan die stemmery deelneem, stem jy in dat jou naam op Maroela Media se webwerf bekendgemaak mag word indien jy as een die wenner van die Tupperware-geskenkpak aangewys word.
  • Maroela Media kan nie aanspreeklikheid aanvaar as jou inskrywing vir een of ander tegniese rede ons nie betyds bereik nie.
  • Die prys(e) kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Maroela Media sal die wenner kontak en jou fisiese adres bekom sodat die geskenkpak aan jou gestuur kan word.
  • Maroela Media en Tupperware kan nie aanspreeklikheid aanvaar vir enige skade of verlies wat jy mag ly wanneer jy van die geskenkpak gebruik maak nie.
  • Die stemmery vir die bruid van die jaar sal na verwagting op 13 Desember 2022 begin. Jy kan ook die Kompetisie-afdeling dophou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.