Storiewerf soek jóú haasbek- en bangmaakstories

Argieffoto (Foto: congerdesign/Pixabay)

Weet jy hoe om grilstories te skryf wat koue rillings oor ʼn mens se lyf jaag? Miskien ken jy dalk ʼn leerder, klasmaat of iemand in jou vriendekring wat ʼn bobaas storieverteller is. Dan behoort jy verder te lees óf onmiddellik Storiewerf se goeie nuus met die spookstorieskrywer te deel.

Storiewerf, ʼn webtuiste vir die bevordering van kinder- en jeugliteratuur en jong skryftalent, is vanjaar 21 jaar oud.

As deel van Storiewerf se feesviering vanjaar word ʼn skryfkompetisie in samewerking met die vakgroep Skryfkuns van die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) aangebied.

Stories wat vir die kompetisie ingeskryf word, moet in Afrikaans wees en inpas by Storiewerf se Haasbekkies- en Grilgrot-afdelings. Inskrywings moet ook vergesel word van oorspronklike illustrasies wat by die storie pas. Deelnemers kan vir een van drie kategorieë inskryf: laerskool- en hoërskoolleerders en volwassenes.

Het jy ʼn hupstoot nodig om aan die gang te kom? Storiewerf deel ʼn paar riglyne met aspirantskrywers:

Wenke vir stories:

  • Kies ʼn titel wat ʼn leser se aandag sal trek.
  • Maak seker dat die storie ʼn duidelike begin, middel en einde het.
  • Laat iemand anders die storie lees en vir jou kommentaar gee.
  • Gebruik ʼn speltoetser en gaan jou storie goed na om onnodige foute uit te skakel.
  • Herskryf die storie ʼn paar keer. Elke probeerslag maak jou storie beter.
  • Lees die kompetisiereëls mooi deur en volg die instruksies sorgvuldig.
  • Klik op Skryfgeheime vir nog wenke oor hoe om spookstories en grilstories te skryf, ʼn sterk begin vir jou storie te skryf, riglyne vir kleinstories en ander skryfwenke.

Wenke vir illustrasies:

  • Die illustrasies kan in enige medium of styl wees.
  • Mens kan baie kreatief te werk gaan en oulike illustrasies vir jou storie maak.
  • Kyk gerus na die illustrasies by die volgende stories op Storiewerf: Diereresies in die agtertuin, Lappies se donkiekar avontuur, Boksom en die bende, Vreemde dinge in die nag en Willemien en die hê-monster.

Prysgeld van R10 000 word deur die FAK geborg en deelnemers sal ʼn Storiewerf-FAK-sertifikaat ontvang.

Besoek Storiewerf se webwerf vir meer besonderhede oor die kompetisie of stuur ʼn e-pos na Franci Greyling by [email protected]. Die sluitingsdatum is Donderdag 15 Julie en inskrywings kan per e-pos gestuur word na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marianna ·

Hi Franci, ek kan nie glo Storiewerf is al 21 jaar oud nie! Ek was daar toe Storiewerf gebore is. Groete en voorspoed. Marianna Brandt

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.