Sy ry vrou-alleen van Kaap tot Kaïro

Julita Kok by haar eindbestemming in Alexandria, Egipte. (Foto verskaf)

Rotte en muise op sosatiestokkies, leeus wat om jou daktent brul en onbegaanbare paaie waarop dit agt uur neem om net 212 km ver te ry. Dit was alles deel van Julita Kok (57) van Kleinmond se avonture toe sy ses maande lank stoksielalleen vanaf Kaap Agulhas tot Kaïro gereis het.

Julita, ʼn bekende in musiekkringe wat 12 jaar gelede haar eie musiekmaatskappy Nuelight gestig het wat kunstenaars bemark, musiekfeeste reël en na kunstenaars se intellektuele eiendom omsien, se beroepslewe is soos in die geval van talle ander, tydens die pandemie tot stilstand geruk. Skielik het sy meer tyd gehad.

Nadat sy begin wonder het hoe sy ʼn bydrae kon lewer in so ʼn moeilike tyd, ontvang sy ʼn “opdrag van Bo” om hoop aan die mense van Afrika te bring en om hulle stories te vertel, waarna sy altesame 26 500 km per voertuig afgelê het.

Julita vertel dat sy eendag in 2021 opgestaan het en ʼn boodskap ontvang het dat sy die boere in droogtegeteisterde gebiede moet gaan besoek waarna reën daarheen sou volg. Dit was na agt jaar van droogte.

“Ek het in my motor geklim en nie geweet waarheen ek moet ry nie, maar die Here het my van plaas tot plaas geneem om hoop te bring. Ek het die mense glad nie geken nie.

“Dit was verskriklik. Daar was oral net karkasse in die veld van diere wat van honger omgekom het. Een boer het vir my vertel dat dit die verskriklikste ding is om die verwagting in die diere se oë te sien dat hy vir hulle kos en water bring, maar dan het hy niks. Dit het my hart gebreek.”

Die wonder, vertel sy was dat dit oral waarheen sy gegaan het, begin reën het. Tot in die Noord-Kaap en in Noenieput in die Kalahari.

Na gebed is sy Namibië toe gelei waar sy 11 200 km op grondpaaie afgelê het om weereens boere te besoek.

“Ek het vir hulle gesê hierdie woestynland gaan in ʼn fonteinland verander. Toe reën en reën dit.”

Khoisan van Botswana. (Foto verskaf)

Na haar terugkoms was sy moeg, maar ʼn groter avontuur het op haar gewag.

“Ek is Kaap Agulhas toe en het besef dat ek deur Afrika moes ry. Om weer hoop vir die mense te bring. God het ʼn plan met Afrika.”

Die reis was, om dit sagkens te stel, ʼn uitdaging.

Sy het Johan Badenhorst van Voetspore vir raad genader en hy het haar ingelig dat sy ʼn viertrekvoertuig sou benodig vir daardie paaie. Toe leen iemand vir haar een.

Sy was platsak, maar mense het begin bydraes maak en geld in haar bankrekening betaal.

Die grensposte was nogal ʼn kopseer. Daar moes sy lank wag – soms vier tot vyf ure lank en omdat sy ʼn voertuig inneem of uitneem, was daar baie papierwerk.

Nadat sy deur Botswana, Namibië, Zambië, Malawi en Tanzanië gery het, wou sy ook Burundi, Rwanda en Uganda toe gaan maar kon nie omdat daar gevegte tussen die Kongo en Rwanda was en omdat Burundi en Rwanda ook moeilikheid gehad het. Dus was die grensposte toe. Sy moes ook weens onrus in Ethiopië van Kenia af Egipte toe vlieg, maar het later terug Nairobi toe gevlieg en daarvandaan teruggery Kleinmond toe.

Die grootste uitdaging was egter die toilette.

“Die beste raad wat iemand wat Afrika ken my gegee het, was om twee rivierklippies saam te neem en dit onder my hakskene te plaas wanneer ek in die veld sit sodat ek nie plat sit nie.

“Openbare toilette was verskriklik vuil en soms net ʼn gat in die grond. Dikwels is storte bokant hierdie “toilet” en moet jy dus oor die gat stort en seker maak dat jy nie jou voete beweeg en skeef trap nie.

“Die meeste van die plekke het nie warm water gehad nie, en die drukking was laag. By party plekke is daar glad nie water of ʼn kraan in sig nie.”

‘n Uitsig oor die see van Stone Town in Zanzibar. (Foto verskaf)

Kos

Dan was daar die vreemde kossoorte, van rotte tot slange en ietermagog, met die vreemdste souse wat van wilde blare gemaak is wat jy langs die pad kon koop. Sy het dit maar eerder verby laat gaan.

Die “sosatiestokkies” was sommer takke van die bome af. Afgesien van die stede was daar geen winkels waar jy kos kon koop nie. Kaas was onverkrygbaar en gelukkig het sy haar eie koffie saamgeneem. Slegs langlewe-melk was beskikbaar.

“Ek het ʼn klein yskassie gehad, wat op die motorbattery gewerk het, wat ek gebruik het om my voorraad in stede aan te vul.

“Jy kan lewendige hoenders langs die pad koop en dan slag hulle dit op versoek net daar. Die meeste mense slag self. Alles is vuil langs die strate. Hulle slag ook bokke wat hulle in die boom hang. Dan kan jy vir jou ʼn stuk uitkies wat hulle met ʼn panga afsny.

“Daarvoor het ek nie kans gesien nie en by hoender en vis gehou. “Hulle eet ook baie pap, maar in die arm lande word dit van boomwortels gemaak en nie van mielies nie.

“Slaptjips, wat ook langs die pad verkoop word, is baie gewild. Hulle skil die aartappels net daar en kook dit dan in ʼn groot konka met olie. Maar dis baie lekker. Ek het daarvan geleef.” Gelukkig is vars groente, avokado’s, piesangs, pynappels en eiers egter volop.

Mense

Die mense was besonder vriendelik en het haar met groot respek behandel. Hulle het dit fassinerend gevind dat sy vrou-alleen deur Afrika gereis het. Die kaart met haar roete wat op haar voertuig was, het ook baie aandag getrek. Sy het die Masai veral interessant gevind.

“Jy sal honderde kilometers ver ry en dan skielik ʼn Masai – hulle leef baie afgesonderd – met ʼn selfoon sien. Almal in Afrika het selfone en die data is spotgoedkoop, maar sein is nie altyd beskikbaar nie.”

Die Masami van Arshad in Tanzanië. (Foto verskaf)

Daar is vir haar sulke mooi kulturele dinge. “As jy by ʼn rondawel in ʼn dorpie aankom, was die gasvrou jou hande en voete wat vuil word van die rooi grond. Dis hoe hulle mekaar dien. “Hulle harte is oop. Ek het nêrens onveilig gevoel nie.”

Wilde diere

Julita se roete wat sy deur die vasteland gereis het. (Foto verskaf)

Wilde diere is ook nog volop. “As jy in Kenia op hul nasionale pad ry, sal jy sommer skielik sien hoe ʼn trop olifante of kameelperde die pad kruis. Daar is geen heinings nie en die diere kan dus vrylik beweeg.”

Daar was ook baie noue ontkomings. “Ek was in die Serengeti in my daktent toe ek ʼn leeu naby my

tent hoor beweeg. Ek het gebid dat ek nie omgee om dood te gaan nie, maar ek wil asseblief tog nie deur ʼn leeu doodgebyt word nie.” Sy het op YouTube gekyk hoe mens wiele omruil en ʼn daktent

opslaan. Gelukkig het sy nooit voertuigprobleme gehad nie.

Tuiskoms

Sy het ʼn helde-ontvangs gekry toe sy uiteindelik weer terug in Kleinmond was. “Toe ek by die dorp inry, het die polisie, die verkeerspolisie en die brandweer my ingewag en tot by die stadsaal begelei waar vriende en familie my ingewag het. Dit was omtrent ʼn tranetrekker. Ek het eintlik gevoel asof ek dit nie verdien het nie.

“Ek is daarna huis toe begelei. Dit was besonders, want my dorp se mense het liefde teenoor my betoon.”

ʼn Verdere verrassing is dat sy as een van die mees inspirerende vroue van die Overberg benoem is.

Tog het sy gevoel asof sy skielik nie meer hier inpas nie. “Ons in Suid-Afrika leef in ʼn verbruikerswêreld. Afrika doen dinge van niks af. Hulle verstaan dat hulle van ʼn Opperwese afhanklik is wat die natuur beheer. Dan besef jy eintlik hoe klein jou wêreld is.

“Ek het soveel hoop vir Suid-Afrika, vir ons mense en vir Afrika waarna as die “donker kontinent” verwys word. Ek sê: ‘Strooi. Afrika is die kontinent van lig. Ons aanbid nog die Here en Hy is tog lig’.”

Hoewel sy asemrowende natuurtonele aanskou het, het die reis nie vir haar oor besigtiging gegaan nie, maar oor die mense. Wat van vrees? Sy het aanvanklik besef dat daar ʼn moontlikheid was dat sy dalk nie sou terugkeer nie. Maar nee, sy het nêrens in Afrika onveilig gevoel nie.

Sy verwys na ʼn Engelse gesegde wat lui: “There is no courage without fear”.

Julita by die Victoria-watervalle. (Foto verskaf)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Treurwilger ·

Julita Kok se Afrika-avontuur is ongelooflik dapper!
Sy het meer moed as enigiemand wat ek ken.
Die punt oor die “verbruikerswêreld” waarin ons leef, is só waar.

Niklaas ·

Edel werk , maar sy is gelukkig daar was geen voorvalle nie. Dapper vrou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.