Taalpioniertoer bring hulde aan helde van Afrikaans

Die taaltoergroep by ds. Van der Lingen en Arnoldus Pannevis se graf by Strooidakkerk, Paarl. (Foto: Verskaf)

Ter viering van Afrikaans se 98ste jaar as amptelike taal, wat op 8 Mei plaasgevind het, het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurnetwerke die Paarl-omgewing verken.

ʼn Hoogtepunte van die toer was ʼn besoek aan die Afrikaanse Taalmonument. Die monument op Paarlberg is van ver af sigbaar, soos die argitek, Jan van Wijk, dit wou hê. Die groep het die “Oukraalliedjie” by die waterpoel gesing en die woorde het in die hoofsuil op, in suiwer, mooi Afrikaans weerklink.

“Soos jy op die paadjie by die trappe voor die monument afstap, staan die woorde, ‘Dit is ons erns’,” sê Juanine Kok, kultuurorganiseerder in die Kaapprovinsie.

“Ons het daar gestaan en weer teenoor mekaar bevestig hoe mooi die taal is wat ons praat. ʼn Jong taal, maar ʼn taal ryk in woordeskat en ʼn volwaardige akademiese taal wat nog nie eens ʼn eeu oud is nie.”

Die kultuurnetwerk en hoërskoolleerlinge van die Voortrekkers het op die Taalpioniertoer onderneem om hulde te bring aan die pioniers wat erns met Afrikaans as taal gemaak het.

Die taaltoergroep voor Paarl Gimnasium Laerskool saam met Roné Walsh, Juanine Kok en Elizma Smith. (Foto: Verskaf)

In die Paarl-omgewing is talle geskiedkundige bakens te vinde. Hierdie omgewing word as die geboorteplek van die Afrikaanse taal beskou, en dit is onder meer ook waar die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) tot stand gekom het.

Tydens die toer is daar besoek by Laerskool Paarl Gimnasium afgelê. Op inisiatief van ds. GWA van der Lingen is dié skool in 1858 as kerkskool opgerig met Nederlands as onderrigtaal. Arnoldus Pannevis, eerste yweraar vir Afrikaans, was ʼn onderwyser by die skool en ʼn plein op die skoolterrein heet vandag Pannevisplein. Ds. SJ du Toit se pastorie was op die terrein geleë en sy seun, JD du Toit, beter bekend as die digter Totius, is hier gebore.

In dieselfde hoofweg is die Patriotgebou, wat eens die drukkery gehuisves het waar talle Afrikaanse publikasies gedruk is. By die Strooidakkerk is die laaste rusplekke van ds. Van der Lingen, Pannevis en Gideon Malherbe, een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners.

Dié ywerige Afrikaansliefhebbers het ook by die huis van Gideon Malherbe, vandag bekend as die taalmuseum, aangemeld. Die samekoms was rondom ʼn tafel waar agt manne op 14 Augustus 1875 vergader het om planne te maak om ʼn jong, nuwe taal, Afrikaans, te bevorder sodat die Bybel in hierdie taal vertaal kon word.

‘n Groep Voortrekkers in graad agt voor die Taalmonument. (Foto: Verskaf)

Hierna is beweeg na die buitewyke van die Paarl en Wellington, na die plase waar sommige van die GRA-lede, SJ du Toit, DF du Toit, Petrus Malherbe en CP Hoogenhout, gewoon en gewerk het, en eindelik te ruste gelê is.

Een van die besoekpunte was die Hugenote Gedenkskool, wat op die plaas Kleinbosch geleë is. Dit is die eerste skool wat vir Afrikaanse skoolonderrig opgerig is, en leerlinge soos die digters AG Visser, DF Malherbe en Totius, het hier skoolgegaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Baie mooi en insiggewende skrywe.Waar is die dae toe ons nog taalgeskiedenis as deel van Afrikaans geleer het.Die name genoem in die skrywe is almal vir my bekend en dit is jammer dat

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.