Tamelyn is Nababeep se eie koningin

Tamelyn Bock (Foto verskaf)

Deur Elize Perrin

Die eerste Mej. Rolstoel Suid-Afrika. Dit is wat agter die naam van Tamelyn Bock, ʼn boorling van Nababeep in die Noord-Kaap, geskryf staan. Tamelyn het in Desember 2021 die titelhouer geword.

Die pad tot nou

Tamelyn is kleintyd met spinale spieratrofie gediagnoseer. Die toestand tas die senuweestelsel aan en verswak die spiere. Op agtjarige ouderdom het sy die gebruik van haar bene verloor.

“My grootste aanpassing was om nooit aan sportaktiwiteite soos netbal, pretlope of skooltoere te kon deelneem nie,” sê sy.

Skole is nie altyd toegerus vir gestremdes nie en in graad tien het Tamelyn haar skoolloopbaan aan die Athlone skool vir blindes voortgesit. Die geriewe by genoemde skool was vir haar meer toeganklik. Nadat sy haar skoolloopbaan voltooi het, het sy aan die Varsity Kollege in Rondebosch gaan studeer. Hier was sy die eerste student in ʼn rolstoel.

Soos baie ander gestremdes, het Tamelyn ook oor die jare ervaar dat die publiek nie altyd weet hoe om persone in rolstoele te hanteer nie.

“Ek dink mense is baie oningelig oor wat om te sê en hoe om dit te sê,” meen sy. “Sommiges sal ons net aanstaar.”

Een van die slegste ervarings wat sy as gestremde soms teëkom, is wanneer mense haar onderskat; dat hulle dink haar verstand makeer iets.

Alhoewel sy na haar studies in kontrakposte aangestel is, bly ʼn vaste aanstelling haar steeds ontglip.

Tydens die kroningsplegtigheid v.l.n.r.: Nonny Yanke (1ste prinses), dr. Marlene le Roux, Lebchang Manyatsi, ʼn organiseerder, Tamelyn Bock (wenner) en Maureen Makule (2de prinses). Agter: Shama Nathoo, organiseerder. (Foto verskaf)

ʼn Opdraande stryd

Nadat Tamelyn ʼn miskraam op ses maande gehad het, het depressie ʼn werklikheid geword.

“Ek het in daardie stadium moedeloos gevoel en wou myself graag besig hou,” vertel sy. “Ek was ook soekend na iets om my weer rede te gee vir die lewe.”

Haar lewensmaat, Edmund Balie, het die inligting rakende Mej. Rolstoel SA raak gelees en Tamelyn oortuig om in te skryf. Skoonheid, en om ander te inspireer, het haar nog altyd na aan die hart gelê.

“Ek leef tans my passie uit om ander te inspireer,” sê sy. “Die kompetisie het my tyd gegee om ʼn bietjie te heel. Ek sou dit beslis weer doen.”

Een van haar doelwitte met haar inskrywing was om verandering, ten opsigte van gestremdes in die land, te probeer bewerkstellig.

“Ek wil graag ʼn stem vir ander vroue in rolstoele wees, wat dieselfde daaglikse uitdagings as ek in die gesig staar,” verklaar sy.

Tamelyn erken egter dat sy nog nie alles bereik het wat sy wou nie.

“Ek het die hulp van mede-Suid-Afrikaners en die regering nodig om my op hierdie reis te help om die land ʼn beter plek vir vroue in rolstoele te maak,” sê sy. Ongelukkig het sy nog min ondersteuning in die verband ontvang.

“Publieke vervoer, geboue en werkomgewings is in die meeste gevalle nie rolstoelvriendelik nie,” sê sy. “Dit maak dit baie moeilik vir ʼn rolstoelgebruiker om vrylik te kan rondbeweeg en deel van die gemeenskap te voel.”

Haar grootste droom vir gestremdes is om aanvaar en by die gemeenskap ingesluit te word.

“Ook om vrylik in ons land te kan rondbeweeg en permanente werkaanstellings te kry,” sê sy

Die pad van ʼn wenner

Tamelyn en haar lewensmaat, Edmund Balie. (Foto verskaf)

Net soos die beoordelaars beskou Nababeep se inwoners ook hulle boorling as ʼn waardige wenner.

“Hulle is vreeslik trots op my,” vertel Tamelyn.

Tamelyn glo dat sy en die ander finaliste die kompetisie se slagspreuk van Skoonheid sonder hindernisse (“Beauty without barries”) wel onder die publiek se aandag kon bring.

“Alhoewel ons daagliks van rolstoele gebruik maak, is ons nog steeds jong, beeldskone dames wat ʼn positiewe uitkyk op die lewe het en nie maklik opgee nie. Ons wil graag hê ons skoonheid moet raakgesien word ten spyte van ons gestremdhede,” sê sy.

Die reis as eerste Mej. Rolstoel Suid-Afrika is vir Tamelyn iets besonders.

“Ek het baie mense ontmoet en baie gereis na die kompetisie en ook baie mediablootstelling ontvang,” sê sy. “Ek glo daar sal vir my, as eerste Mej. Rolstoel Suid-Afrika-titelhouer, nog meer deure oopgaan. Die kompetisie het my geleer dat ʼn aanhouer wen. Ek ondervind nog steeds uitdagings, maar ek glo dat dit tot ʼn groter beloning sal lei.”

Een van haar onmiddellike uitdagings is om genoeg fondse te bekom om vanaf 23 tot 30 Oktober aan die Mej. Rolstoel Wêreldkompetisie in Mexiko te gaan deelneem.

“Dit is ʼn internasionale kompetisie waaraan ek sal deelneem en het ʼn lys van items soos skoene, grimering, juwele en kostuums nodig. Die grootste uitdaging is die vlugonkoste vir myself en my assistent vanaf Suid-Afrika na Mexiko en weer terug. Dan is daar ook die onkoste vanaf die Noord-Kaap na Kaapstad; die lys gaan net aan.”

Daar is tans ʼn geldinsamelingpoging aan die gang om hierdie droom van Tamelyn te bewaarheid.

“Ek is steeds besig met fondsinsameling en versoek mede-Suid-Afrikaners se hulp om hul ondersteuning te wys vir die inisiatief,” vra sy.

Tamelyn kan gekontak word by [email protected]

Ten spyte van ʼn opdraande stryd om persone betrokke te kry, is Tamelyn steeds entoesiasties oor die voorreg wat sy het om as Mej. Rolstoel Suid-Afrika die land te verteenwoordig. Sy huiwer nie om ander meisies in rolstoele aan te moedig om ook vir die kompetisie in te skryf nie.

“Dit is ʼn wonderlike ondervinding om aan Mej. Rolstoel Suid-Afrika deel te neem,” sê sy. “Ek wil graag ander meisies aanmoedig om in te skryf. Groter dinge kan net daaruit vloei.”

Tamelyn het steeds drome vir die toekoms.

“Ek wil graag modelwerk doen en ook ʼn permanente aanstelling in die koöperatiewe wêreld bekom. En dan bly dit my droom om verandering in ons land te sien ten opsigte van toeganklikheid vir gestremdes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.