Terapie op branderplanke bring hoop vir kwesbare kinders

(Foto: Waves for Change/Verskaf)

Waves for Change is ʼn organisasie wat hom daarvoor beywer om met terapeutiese branderrysessies, geestesgesondheidsdienste aan kinders in agtergeblewe gemeenskappe te verskaf en só die kinders se toekomsblik van hopeloos na een vol hoop te verander, skryf Maretha Botes.

Kinders in ons informele nedersetting word agt keer meer aan traumatiese gebeure blootgestel as kinders wat in welaf woongebiede groot word. Voortdurende en verlengde blootstelling aan trauma en teëspoed ontwikkel in toksiese stres met ʼn negatiewe uitwerking op so ʼn kind se ontwikkeling.

Só sê Nicci van der Merwe van Waves for Change. Waves for Change se fokus is om hierdie kinders te leer hoe om hulle gevoelens, gedagtes en gedrag te beheer, veral wanneer hulle oorweldigende emosies ervaar, soos aggressie, hartseer, woede, angs.

“Hulle leer spesifieke deur nuwe vaardighede hoe om hulle self te kalmeer, en hoe om meer selfbewus te wees oor hulle gevoelens en hoe hulle daarop reageer. Waves for Change gee die kinders ook die geleentheid om nuwe, positiewe, en ondersteunende verhoudings te vorm met ander kinders en ander volwassenes wat vir hulle omgee, spesifiek die afrigters. Kinders leer meer selfvertroue, terwyl hulle pret het.”

Waves for Change het in 2009 as ʼn klein, informele naweek-branderplankryklub vir ʼn handjievol kinders uit Masiphumelele-nedersetting buite Kaapstad begin en in 2011 as ʼn organisasie sonder winsbejag geregistreer.

“Dit was duidelik dat die kinders wat kom branderplank ry het gemaklik gevoel het. Ons het ook agtergekom dat hulle na ʼn ruk begin oopmaak het teenoor die afrigters en oor hul probleme en uitdagings begin praat het,” sê Nicci.

(Foto: Waves for Change/Verskaf)

Sedertdien het Waves for Change ontwikkel in volwaardige, navorsingsgebaseerde branderplankryterapie. Dit is ʼn lae-koste, volhoubare manier om kinders wat sit met toksiese stres te ondersteun.

Jaarliks bereik en ondersteun die organisasie 2 500 kinders en adolessente deur branderplankryterapie. Die kinders wat aan Waves for Change se programme deelneem is almal van gemeenskappe waar hulpbronne skaars is, spesifiek gesondheid en geestesgesondheid dienste, sowel as ʼn skaarsheid aan algemene dienste.

In die Wes-Kaap werk hulle in Houtbaai (Imizamo Yethu, Hangberg), Khayelitsha, en Muizenberg (Masiphumelele, Lavendar Hill, Cape Flats gemeenskappe). Daar is ook twee klubs in die Oos-Kaap by Gqeberha (Port Elizabeth) en Oos-Londen, wat die omringende informele gemeenskappe daar dien.

Elkeen van die kinders wat aan die weeklikse programme deelneem word deur skole, maatskaplike werkers, die Wes-Kaapse departement van onderwys, asook hospitale verwys.

(Foto: Waves for Change/Verskaf)

Waves for Change se spilpunte en opgeleide gemeenskap-branderplankry-afrigters skep ʼn veilige hawe waar kwesbare kinders deel kan wees van ʼn gemeenskap, nuwe vaardighede kan leer, selfvertroue kan bou en positiewe gedrag aanleer wat alles ʼn impak maak op geestesgesondheid. Navorsing het bewys dat dit agt weke neem vir ʼn kind se senuweestelsel om te kalmeer as hulle die program weekliks bywoon, maar vir die voordele wat die program bied om ten volle te realiseer, is dit nodig dat die kinders op ʼn langer termyn deel vorm, wat ooreenstem met die skooltermyn.

Nicci verduidelik hierdie kinders word byna daagliks blootgestel aan trauma wat insluit bendegeweld, mense wat voor hulle geskiet word, honger, middelmisbruik, armoede en verwaarlosing. “Hierdie gemeenskappe het nie toegang tot geestesgesondheidsdienste nie en die kinders kan nie byhou sonder hulp en ingryping nie,” sê sy.

Kinders tussen 10 en 16 jaar kry weekliks vir ʼn jaar lank branderplankryterapiesessies. Hierna word hulle uitgenooi om aan die branderplankryklubs op Saterdae deel te hê onder leiding van die jeug branderplankry-afrigters. Baie van hierdie kinders word self uiteindelik ook branderplankry-afrigters.

ʼn Onlangse studie is op Waves for Hangers se terapieprogram en die uitwerking daarvan op die neem van risiko en interpersoonlike verhoudings onder jeug wat aan geweld blootgestel word gedoen. Die navorser het die aanbeveling gemaak dat branderplankryterapie ingesluit moet word in ingrypings wat kinders se veerkragtigheid en gesondheid op hul pad na die herstel van toksiese stres ondersteun.

(Foto: Waves for Change/Verskaf)

Terugvoer van ouers, skole en gemeenskappe is geweldig positief, sê Nicci. “Ouers en onderwysers deel met ons dat die kinders in ons program gelukkiger is, meer selfvertroue het, meer respek vir ander toon, en meer hoop vir hulle lewens het omdat hulle deel voel van ʼn gemeenskap. Ons hoor ook gereeld dat die kinders van Waves for Change die vaardighede, wat hulle by ons leer, met ander maats of sibbe en familie deel by die huis en skool. Gemeenskappe en ouers het ook al vir ons vertel dat geestesgesondheid nog baie stigma en oordeel in die gemeenskappe het, en dat ons program gemeenskappe help om te besef geestesgesondheid is nie net oor ‘siek’ mense nie, maar dat dit insluit wat sosiale beskermingsfaktore in ons lewens is of moet wees, wat ons help om nie meer ernstige toestande te ontwikkel nie. “Geestesgesondheid is dus belangrik vir ons almal se geheel gesondheid, en nie net vir ‘siek’ mense nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronél ·

As ALLE kinders tog net hierby kan baat………………..ons is 30 jaar in die sogenaamde “demokrasie” en steeds word sekere groepe bevoordeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.