Terugploeg verskaf duisende etes

Die span agter die ontwikkeling van Terugploeg se geriewe. (Foto: Verskaf)

Terugploeg se verpakking-, verwerking- en verspreidingsgerief is in die laaste fase van konstruksie en daar word beoog dat die hoofkwartier vanaf November vanjaar ten volle in bedryf sal wees.

Die Terugploeg‑inisiatief het tydens die inperking ontstaan toe Lood Bester en sy vriend Herman Marx van Vibro op ʼn informele grondslag kos aan behoeftige gemeenskappe uitgedeel het. Die projek het vinnig momentum gekry toe ʼn aantal boere betrokke geraak het en vragte kos afgelewer het. Hierdie tonne kos is informeel met behulp van Vibro se vervoernetwerk versprei, maar daar is besef dat die nood geweldig groot is en daar ʼn volhoubare projek van stapel gestuur moet word. Atterbury Trust is genader en Terugploeg word tans onder die vaandel van Atterbury Trust bestuur.

Volgens Zahn Hulme, uitvoerende trustee van Atterbury Trust, is daar sedert die aanvang van die projek reeds meer as 125 ton kos aan ouetehuise, skole en kinderhuise in en om Pretoria uitgedeel. Dit is die ekwivalent van ongeveer 503 000 etes.

“Deursigtigheid en verantwoordbaarheid is vir mense belangrik en die Atterbury Trust word reeds sedert 1998 vertrou as ʼn organisasie wat teruggee-projekte doeltreffend bestuur. Ons loop ʼn pad met organisasies en maak seker dat dit behoorlik bestuur word en die hulp by die regte mense uitkom.”

Die Terugploeggebou is op agt hektaar grond in die ooste van Pretoria opgerig – teen die N4, digby die Rayton‑afrit – wat deur Faan en Dirk van der Walt, die stigters van WeBuyCars, beskikbaar gestel is.

Benewens die kosverwerkingsgeriewe en koelstoor, word ’n groente- en vrugtetuin beplan, asook ’n klerebank.

Bester sê dat ʼn aantal werksverskaffingsinisiatiewe op die perseel beplan word – vleis gaan verwerk word, braaihout gaan gesny, verpak en verkoop word.

“Al hierdie funksies het hande nodig; om die tuine te versorg, die kos te verwerk, die klere wat ons inkry te sorteer, was en stryk, die vragte hout te verpak in braaipakke. Hiermee wil ons werk skep vir die mense uit die gemeenskappe wat ons bedien,” vertel hy opgewonde.

Verder word beoog om ’n lesingsaal in die gebou in te rig, waar kursusse en praatjies aangebied kan word om skoolkinders en volwassenes te inspireer met praktiese raad en opleiding, sodat hulle ook hul eie omstandighede self kan verbeter.

Die amptelike opening van die nuwe Terugploeg‑geriewe word vir Januarie volgende jaar beplan.

Terugploeg se verpakking-, verwerking- en verspreidingsgerief is in die laaste fase van konstruksie. (Foto: Verskaf)

Hoe die publiek kan help

Die Terugploeg-gebou gaan teen einde Oktober vanjaar voltooi word en skenkings in die vorm van onder andere roldeure, heinings, koelkamers, meubels, lugversorgers, kombuistoerusting en vleisverwerkingstoerusting word benodig om die gebou ten volle operasioneel te maak.

Kontantskenkings is ook welkom.

Alle skenkings kwalifiseer vir ’n 18A-belastingsertifikaat, uitgereik deur Atterbury Trust, om dit belastingaftrekbaar te maak.

As jy kan help, of meer wil weet oor Terugploeg, kontak Lood Bester by 082 925 1118 of Jani Doms by 076 313 7212 of epos hulle by [email protected] of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Daleen ·

Briljante gebaar!! Uiters onselfsugtig. Wens ek kon iets gee. Baie sterkte en WELGEDAAN aan die twee inisiatiefnemers!! Dis mos nou TROTS Afrikaans!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.