TikTok se Malcolm Wentzel verras Thembi met motor

Malcolm en Thembi hou mekaar op hul tone (Foto: Instagram)

Die gewilde plaaslike TikTokker Malcolm Wentzel het onlangs vir sy ewe gewilde huishulp, Thembi Ubisi, met ’n splinternuwe motor dankie gesê vir tien jare van getroue diens.

Malcolm wys gereeld sy kaskenades saam met Thembi op TikTok aan sy meer as 300 000 volgelinge en Suid-Afrikaners is gaande oor dié twee se pittige verhouding.

Malcolm vertel dat hy en Thembi ʼn baie spesiale verhouding het en al ʼn lang pad saam stap.

“Thembi het aanvanklik by een van my ondernemings gewerk, maar toe vra ek haar of sy nie in my huis sal kom uithelp nie. Nou is sy al tien jaar by my. Sy was daar deur baie goeie tye, maar ook deur baie slegte tye.”

Hy sê Thembi sou destyds sy beursie wegsteek as hy te veel dobbel en sy sigarette gevat sodat hy kan ophou rook.

“Sy is een uit ʼn miljoen. Sy is hardegat, maar sy is goed vir my kinders, sy is snaaks en baie wys. Sy het diep in my hart ingekruip,” sê hy.

Daarom het Malcolm dit vanjaar goedgedink om Thembi behoorlik te bederf deur vir haar ʼn motor te koop om dankie te sê vir alles wat sy al vir hulle gesin gedoen het.

Thembi by haar nuwe motor (Foto: Skermgreep uit die video)

Hy het gesê sy moet saam met hom ry sodat sy hom kan help met iets. Toe hy by ʼn motorhandelaar stilhou het sy saam uitgeklim en ʼn kar met ʼn groot rooi stik voor haar sien staan.

“Toe sy daar instap en sien wat aan die gang is, het sy dit verloor. Jy kan jouself indink – sy kry ʼn kar op die ouderdom wat die meeste mense al aftree, terwyl daar soveel jong mense is wie se ouers op 18 reeds vir hulle ʼn kar koop.

“Die vrou het nog elke dag taxi en bus gery. Sy moet vroeg soggens opstaan om die taxi te haal, en sy was nog altyd betyds. As jy kyk na wat sy al alles vir my en my kinders beteken het, en tien jaar se lojaliteit, is om vir haar ʼn kar te koop beslis die moeite werd.”

Malcolm sê hy en Thembi wil ʼn boodskap uitdra deur hul video’s en verhouding dat mense van verkillende rasse en agtergronde steeds positief oor mekaar kan voel en mekaar kan respekteer.

“Respekteer net mekaar en hanteer ander soos wat jy hanteer wil word. As julle mekaar goed gun, mekaar help en mekaar vertrou, dan het jy ʼn wenkombinasie. Ek en Thembi het ons verskille, maar ons het geleer om mekaar te waardeer,” sê Malcolm.

Malcolm sê Thembi het ʼn lisensie om haar nuwe motor te bestuur, maar dat sy nog skrikkerig is vir bestuur. Daarom help hy haar nog om gewoond te raak daaraan. Hy het ook gesorg dat haar motor versekering het en dat dit op haar eie naam geregistreer is.

Hy sê dit was nog altyd vir hom belangrik om ʼn oop hand te hê en om goed vir mense te doen, veral mense wat vir hom werk.

“Dit gaan maar oor menslikheid en hulpvaardigheid teenoor jou medemens. God verwag tog sekere goed van ons, en om ons naaste lief te hê is een daarvan. ʼn Mens hoef ook nie ʼn kar te koop om te wys jy het jou naaste lief nie, maar wys net menslikheid teenoor almal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Michele ·

Wat n great storie! Ek volg al n rukkie vir Malcolm en Thembi op TikTok.

Duck ·

Hou op wonder, die man kan met sy geld doen (hy het verskeie ondernemings) wat hy wil en ek is seker hy het baie ander persone al ook gehelp (Chuck) en gaan ook nog baie help in die toekoms. Doen so voort Malcolm!

erica ·

Ai weet jy dis vir my so hartseer dat Malcolm nou gekritiseer word oor die karretjie wat hy gekoop het, mense staan bietjie een dag 4 uur op en stap tot by die naaste taxi en ry dan stad toe om 7 uur by die werk te wees en dan nou ‘n vrou by dit alles, die risiko is groot om beroof te word of selfs langs die pad verkrag te word, nee wat man dis die beste wat Malcolm kon doen vir Thembi ooit, en die twee het so ‘n goeie verhouding sy is soos sy ma vir hom en ek wens uit my hart dat ek dit ook kon doen vir my huishulp wat al 7 jaar by my werk. Ek lag altyd te lekker vir die twee en mens kan sommer sien hulle het baie respek vir mekaar

Racheltjie Debeer ·

Wow, jy is die beste baas! Daar is baie ander werkgewers wat gerus by jou kan leer oor hoe om hul werknemers met respek te behandel.
Jy sal oorvloedig geseën word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.