Video: 45 behoeftiges kry weer gawe van sig

Suzette, Ansie en Selma du Plessis, voor Ansie se operasie. Foto: Verskaf.

Altesaam 45 behoeftige mense, meestal Afrikaanssprekende bejaardes, is vandeesweek oor twee dae deur een oogspesialis met gratis katarakverwyderingchirurgie gehelp as deel van Internasionale Ooggesondheid-bewusmakingsweek.

Solidariteit Helpende Hand het in Mei vanjaar deur Maroela Media bekendgemaak dat die aansoeke vir vanjaar se gratis katarakverwyderingchirurgie oop is.

Dit is ’n jaarlikse inisiatief van oogspesialis dr. MC Niemandt van die Intercare Mediese Sentrum in Hazeldean in Pretoria. Dit was die sesde jaar wat Niemandt behoeftiges op dié manier gehelp het, en die tweede jaar wat sy personeel Helpende Hand genader het om behoeftige mense vir die operasies te identifiseer. Die hoofborge wat dié gebaar moontlik maak, is die Intercare Hazeldean en Operation Healing Hands, ’n span dokters in die private sektor wat pasiënte help wat nie onder normale omstandighede mediese dienste kan bekostig nie.

Volgens Benette Rautenbach, Helpende Hand se projekorganiseerder vir bejaardes, is sy kort nadat die nuus bekendgemaak is met aansoeke oorval.

“Ek het nagenoeg 485 navrae per e-pos gekry, waaruit ons presies 104 aansoeke gekry het. Ongelukkig weens tyd- en geldelike beperkings kon byna net die helfte van die aansoekers vanjaar gehelp word,” sê Rautenbach.

Sowat 90% van die mense wat Niemandt vandeesweek weer by Intercare Hazeldean-dagteater die gawe van sig gegee het, het deur Helpende Hand en Maroela Media se samewerking aansoek gedoen.

Niemandt se dryfveer agter dié inisiatief is jaar ná jaar bloot die bejaardes wat dit nie kan bekostig om katarakte van hul oë te verwyder nie aangesien koste van dié prosedure tussen R25 000 en R30 000 beloop. Bejaardes is genoodsaak om hul name op lang waglyste te plaas en te wag en hoop op hul beurt om die prosedure in ’n staatshospitaal te ondergaan.

Helpende Hand was Woensdag daar toe die pasiënte wat Dinsdag hul katarakchirurgie by Intercare Hazeldean ontvang het, se oogklappies afgehaal is en hulle vir die eerste keer in jare weer beter kon sien.

“Sjoe, daai lig is skerp,” het Ansie du Plessis van Bronkhorstspruit dadelik geskerts. Haar dogters, Selma en Suzette du Plessis, het via Facebook op Maroela Media se berig afgekom en deur Helpende Hand aansoek gedoen.

Dr. MC Niemandt groet sy pasiënte. Foto: Verskaf.

“Daarna het ons net gehoop en gebid. Ons wou so graag hê dat ons ma weer mooi kon sien. Sy woon op haar eie. Sy is so ’n sterk, onafhanklike vrou en ’n voormalige verpleegster wat begin sukkel het omdat sy nie meer behoorlik kon sien nie, so dit is vir ons ʼn groot blydskap dat sy nou meer van haar selfstandigheid kan terugkry. Dr. Niemandt en sy span was absoluut wonderlik gewees,” het Selma bewoë gesê.

“Ek is opreg dankbaar en bly om weer te kan sien. Ek sien sommer weer uit na alles en aangesien ek ’n verpleegster was, wil ek almal bewus maak van hoe goed en professioneel hierdie dagteater is. Hulle is fantasties en die personeel is so vriendelik,” het Ansie bygevoeg.

Rautenbach sê Helpende Hand is in die proses om hande met meer oogspesialiste landwyd te vat om meer sulke inisiatiewe van stapel te stuur.

“Die gevolge van katarakte is eindeloos; dit beïnvloed nie net die lyers nie, maar ook hul geliefdes en vriende. Daaglikse aktiwiteite soos lees en kosmaak raak by die dag meer uitdagend, bekendes se gesigte lyk anders en bejaardes se veiligheid kom ook in gedrang. Spoed en doeltreffendheid verminder drasties en alledaagse take en aktiwiteite raak stremmend. Dit het alles ʼn groot invloed op bejaardes se gemoed en kan met chirurgie verlig word, maar vir talle bejaardes is dié soort chirurgie onbekostigbaar,” sê sy.

“Ek het iemand hoor sê die geskenk van sig is meer as net om weer te sien. Dit is die geskenk van werk en ekstra inkomste, van trots om weer self te kan sorg en voorsien. Die geskenk van vryheid om te kan beweeg en die natuur weer te geniet en die geskenk van ʼn stukkie herwinde onafhanklikheid. En daarom sal ons aanhou om hande met rolspelers soos dr. Niemandt, Intercare en Operation Healing Hands te vat om ons bejaardes se las ’n bietjie ligter te maak,” sê Rautenbach.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Bossie ·

Dr Niemandt, ek salueer jou en al die borge betrokke. Baie dankie vir die onbaatsugtige diens wat aan hierdie hulpbehoewende persone gelewer is. Ai, en die tannie van ‘n 100 jaar oud. Ek kan nie aan ‘n groter geskenk dink as om jou sig terug te kry nie. Solidariteit Helpende Hand, baie dankie vir jul betrokkenheid.

Johan de Lange ·

Waar kan ons aansoek doen vir n karerak operasie, my man kan amper niks meer sien nie asb. Dit is dringend

Sophia ·

Johan de Lange, as julle van Pretoria is moet julle na Pretoria-Wes Hospitaal toe gaan en fisies ‘n afspraak gaan maak. Julle gaan lank wag. Die operasies soos hierbo vind net eenmaal (miskien tweemaal) per jaar plaas. Probeer ook Solidariteit se Helpende Hand waar jou naam dan op ‘n lys sal kom, en ook Pretoria Ooginstituut. Hulle kies egter randomly name, so dit is nie te sê julle gaan gekies word nie. Ten minste by Pretoria-Wes sal julle beslis gehelp word, al is dit ook oor ‘n paar maande wanneer jy ‘n afspraak kan kry. Sterkte, ek hoop julle kom reg! Een van my vriende het in altwee oë katarakke, en ons het so gehoop hy sou gekies word maar dit het toe nie gebeur nie. Hy kon darem in Desember êrens ‘n afspraak kry by Pretoria-Wes Hospitaal, so ons hoop en bid dat hy voor Kersfees met altwee oë gehelp sal word.

Rachelle ·

Ek werk saam met ‘n bejaarde oom wat nou vliese en katerakke van sy oë moet laat verwyder.Omdat hy in ‘n baie moeilike finansiele posisie is en nog sy kinders en klein kinders onderhou, kan hy nie hierdie operasie bekostig nie.Waar kan ek aanklop om hulp om hom te help.Die staatshospitaal hier by ons is ongelukkig nie ‘n opsie nie.Baie dankie aan die dokters wat hierdie wonderlike inisiatief laat werk het!

marieta ·

dr… ek wens ek was van die gelukkiges…. ek moet n katarakoperasie kry maar wag al van die begin van die jaar af…. was gese dis dringed maar hulle gee vir sommige mense 2 operasies terwyl ander n jaar moet wag by Tygerberg Hospitaal…. en dan is hulle vies as mens vrou hoe hulle waglyste werk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.