Video: ‘Hondjiebus’ het internet aan’t blaf van plesier

Mo Mountain Mutts se passasiers is gereed vir hul rit. (Foto: Instagram/Mo Mountain Mutts)

ʼn Egpaar van Alaska in die VSA het pas een miljoen TikTok-volgelinge sterk geword danksy hul oulike, en ietwat harige, busdiens.

Mo en Lee Thompson se hondestap-onderneming, Mo Mountain Mutts, is in Skagway, Alaska, gebaseer en hulle neem van dié dorp se vierpotiges vir hul daaglikse stappie op ʼn spesiaal ingerigte passasiersbus.

Nuus oor die egpaar se “hondjiebus” het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei danksy Mo Mountain Mutts se Instagram- en TikTok-rekening, waar die egpaar hul oulike video’s van die honde deel.

ʼn Onlangse video wat spesifiek wys hoe die honde opgelaai word en nes mense in die bus klim om hulle sitplekkies in te neem het veral hondeliefhebbers se harte gesteel. Tot op hede het dié video meer as 9 miljoen trefslae op TikTok.

@mo_mountain_mutts

You guys asked to see the dogs getting on the bus #foryou #dogs #puppybus #alaska

♬ original sound – Mo_Mountain_Mutts

Die egpaar deel ook dikwels foto’s en video’s waarin die honde in die sneeu baljaar.

Mo, ʼn voormalige onderwyser, het aan KTOO, ʼn plaaslike nuuskanaal in Alaska, vertel dat sy aanvanklik net as afleiding tydens pouses aangebied het om van haar kollegas se honde vir hul daaglikse stappie te neem.

“Dit was net ʼn rimpeleffek van ‘haai, ek het gehoor jy is regtig goed met honde. Kan jy my help?’ Toe het ek ʼn tweede stapsessie nodig gehad, want ek het begin om honde saam te groepeer volgens hul persoonlikhede. Ons het dus ons oggendbemanning en ons middagbemanning gehad. Toe het dit net gegroei tot die punt waar ek hulp van Lee nodig gehad het.”

Vervoer het ook vinnig ʼn uitdaging begin word soos die egpaar se vierpotige kliëntebasis gegroei het. Daarom die besluit om ʼn passasiersbus by ʼn plaaslike onderneming te koop.

As deel van Mo Mountain Mutts se daaglikse optelroetine doen die honde ʼn kort gehoorsaamheidsoefening wanneer hulle die bus binnekom, waarna elkeen sy of haar aangewese sitplek inneem en met ʼn spesiale harnas vasgemaak word.

Die honde baljaar graag in die sneeu tydens hul stappies. (Foto: Instagram/Mo Mountain Mutts)

Ongeveer 12 honde sluit vir elke busrit aan en word op grond van hul persoonlikheid, ouderdom en maniere gegroepeer. Elke “passasier” ontvang ook ʼn gesonde hondebederfie vir die rit.

Indien die ysige weer dit toelaat, vergesel die egpaar se agt maande oue baba, Vern, ook dikwels sy ouers op dié hondestappies.

@mo_mountain_mutts

Thank you for riding with Mo Mountain Mutts, please enjoy your #complimentaryliver #busrides #puppybus #alaska #dogs

♬ original sound – Mo_Mountain_Mutts

Tans beplan die Thompsons nie om hul onderneming verder uit te brei nie, maar wel om hul groeiende sosialemediaplatforms te gebruik om nog ʼn ekstra inkomste te verdien. Mo bied ook aanlyn opleidingsessies vir hondeienaars aan.

“Ek loer soms in die truspieël en sien al die honde wat agter sit. Dan dink ek by myself, ek kan nie glo ons doen dit vir ’n lewe nie.”

Bronne: People!, KTOO, Instagram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chantel ·

Dis so ougat. Ek het die video gesien en die hondekinders is so opgewonde soos kinders

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.