Video: NWU se geliefde Pukki vang graad

AJ Mey tydens die gradeplegtigheid met sy Pukki-kostuum se voete aan. (Foto: Maryke Laas via NWU Pukke)

AJ Mey tydens die gradeplegtigheid met sy Pukki-kostuum se voete aan. (Foto: Maryke Laas via NWU Pukke)

AJ Mey, ʼn 23-jarige student aan die Noordwes‑Universiteit (NWU), wat die laaste drie jaar as die kampus se gelukbringer in die geliefde Pukki-kostuum geskuil het, het Dinsdag sy identiteit onthul én sy BCom-graad in regte ontvang.

Die NWU het slegs een gelukbringer per kampus en dit is tradisie dat die persoon wat as die gelukbringer opgetree het se identiteit ʼn geheim gehou word tot hulle eerste gradeplegtigheid. Die persoon se identiteit word onthul wanneer hy of sy oor die verhoog stap met die voete van die Pukki-kostuum.

Die gelukbringers van die NWU word geheim gehou omdat hulle studentelewe as geheel verteenwoordig en nie een individu, geloof, ras of geslag nie.

Mey vertel aan Maroela Media hy het tydens sy eerste jaar aansoek gedoen om die Pukki te word nadat hy plakkate op die kampus gesien het wat dié gesogte gelukbringerspos bemark het.

“Ek het sedert my gr. 11-jaar op hoërskool geweet ek wil eendag die Pukki wees. Die NWU het by ons skool bemarking gedoen met pamflette wat Pukki se gesig op gehad het en ek het hom altyd op die dorp rond gesien. Ek het altyd gedink ek sal dit geniet om die Pukki te wees en toe hulle dit in my eerste jaar bemark, het ek geweet ek moet die geleentheid aangryp,” vertel hy.

“Ek het gedink ek hoef nie eers te swot nie, ek wil net die Pukki wees,” skerts Mey, wat na afloop van sy gradeplegtigheid die gelukbringersvaandel aan sy opvolger moet oorgee.

Hy sê dit was ʼn lang proses voordat hy uiteindelik in die Pukki-kostuum kon optree. Mey vertel hy het in April 2015 begin met sy Pukki-opleiding en het sy rol tot middel 2018 vervul.

“Jy moet deur ʼn baie streng prosedure gaan, wat stringe onderhoude en oudisies behels, voordat jy uiteindelik gekies word. Hulle vra jou byvoorbeeld om in ʼn afskuwelike, ou tarentaalpak vir leë stoele te dans en hulle opgewonde te kry. Daarna moet jy ook opleiding van bykans ses maande tot ʼn jaar kry, sodat jy kan leer hoe om presies te loop en te dans soos die vorige Pukki.”

AJ Mey het vir bykans drie jaar gereeld dié Pukki-kostuum met trots gedra. (Foto: Facebook via Pukki)

AJ Mey het vir bykans drie jaar gereeld dié Pukki-kostuum met trots gedra. (Foto: Facebook via Pukki)

Mey voeg by dat dit vir hom as ʼn skamerige knaap lekker was om die rol van Pukki aan te neem. “Die oomblik wat ek die Pukki-kop opgesit het, was ek iemand anders. Jy is ʼn legende en ʼn bekende, maar niemand weet wie jy is nie,” lag hy.

Hy vertel hy moes ʼn vertroulikheidsklousule in sy kontrak teken sodat sy identiteit ʼn geheim kon bly. “In my eerste jaar het ek ʼn meisie gehad, maar ek moes vir haar jok oor hoekom ek byvoorbeeld nie saam met haar die Varsitybekerwedstryde kon bywoon nie,” vertel hy.

“My vriende het later begin vrae vra oor waarheen ek verdwyn tydens byeenkomste, maar jy moet dit wegsteek. Daar is ʼn groep van sowat tien mense wat die identiteit van die Pukki geweet het. Jy doen regtig moeite om dit ʼn geheim te hou. My ouers moes egter weet, want hulle moes ʼn vorm teken waar hulle toestemming gee dat ek die Pukki kan wees, want as Pukki is jy uiteraard besig met baie ander dinge as net akademie.”

As Pukki was Mey betrokke by talle liefdadigheidsprojekte en het met behulp van ander studente oor die laaste drie jaar meer as R3 miljoen vir behoeftige studente ingesamel.

“Pukki is ʼn handelsmerk, en in die kostuum is ek net die gesig daarvan. Pukki staan vir omgee en daarom het die ‘i’ van die handelsmerk ʼn hartjie op. Dit simboliseer die omgee-hart van die handelsmerk. As gelukbringer moes ek by elke studente-aksie wat daar is gees bring en mense opgewonde maak en tyd maak om foto’s te neem en Pukki-drukkies uit te deel,” vertel Mey trots.

“Slegs gedurende eksamentye het die organisasie met sekere geleenthede laat weet dat Pukki se gelukbringer dit nie sal bywoon nie, want die akademie kom tog eerste. Ons bly studente en is op die kampus om te swot.”

Vir Mey was dit ʼn besonderse voorreg om die Pukki te kon wees. “Ek kry sommer hoendervleis as ek daaraan dink, net oor jy kan sien waar jy ʼn verskil maak. Daar was een keer ʼn outjie wat siek was wie se groot droom dit was om vir Pukki te ontmoet, en ek het vir hom in die hospitaal gaan kuier. Net om sy gesig te sien was ʼn groot oomblik vir my.

“Ook tye soos wanneer ek as Pukki net agter op ʼn bakkie deur die dorp gery het en dan te sien hoe opgewonde mense raak, is herinneringe wat ek vir altyd sal koester.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

yolandi ·

dit was nou n lekker artikel om te lees, baie dankie pukki

Johan ·

Ek het vir hom skool gegee in graad 8 en 9 ? so trots op die ou

Monique ·

Ek was ‘n student op die Puk vir 4 jaar gewees en was mal daaroor om Pukki op kampus rond te sien stap. Ek kan meet alle eerlikheid se dat Pukki die lekkerste drukkies gee.

mc ·

Ag is dit nou nie net te dierbaar positief nie, baie baie dankie hiervoor en baie baie geluk.

Jacques ·

Kry sommer n knop in my keel dat daar soveel trots en tradissie is , weldone Pukke .

Nita Blignaut ·

Ek stuur die artikel aan my neef Hy sal n goeie Pukkie maak. Hy is nou al by Ovies met soveel aktiwiteite besig en is in Gr8.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.