Video: Seun se Afrikaanse toespraak inspireer

Katleho Molakeng, ʼn matriekleerder aan die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria, se inspirerende toespraak het sy skoolmaats so in vervoering gehad. (Foto: Skermgreep uit video)

Katleho Molakeng, ʼn matriekleerder aan die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria, se inspirerende toespraak het sy skoolmaats so in vervoering gehad dat hulle hom ʼn staande toejuiging gegee het.

Molakeng (18) is ʼn Afrikaans‑tweedetaalspreker aan die skool en het derde gekom in die ATKV-redenaarskompetisie in die afdeling vir nie-moedertaalsprekers. Hy het ook die prys vir beste taalgebruiker gewen.

Hy vertel aan Maroela Media dat hy al van laerskool af aan redenaarskompetisies deelneem en sedert gr. 8 elke jaar ʼn podiumplek op die ATKV-redenaarskompetisie inneem.

“Dit is vir my ongelooflik lekker om aan dié kompetisies deel te neem. Ek is destyds aangemoedig om deel te neem en die gogga het vandaar net gebyt.”

Molakeng se toespraak handel oor die tema keuses, waarin hy onder meer verwys na kintsugi, die Japanse kuns om gebreekte erdewerk te herstel met gom wat met verpoeierde goud, silwer of platinum gemeng is. Dié tegniek is geskoei op die idee om foute en onvolmaaktheid te omarm.

“Forrest Gump het gesê dat die lewe soos ʼn boks tjoklits is. Jy dink jy vat ʼn toffie, dan kry jy die jiggie suurlemoen een. Klink of hy in die Covid-era skoolgegaan het, want ons het nooit geweet wat ons gaan kry nie,” skerts Molakeng onder meer in die toespraak.

“Die eerste stuk porselein waarmee ek tydens die inperking gesit het, was my identiteit. Julle weet seker hoe mens weet of ʼn ou in Affies was, nè? Hy sê dit vir jou. Wel, 2020 en 2021 was jare waarin ek meestal in pajamas was. Ek moes in die spieël kyk en vra: Wie is ek sonder my skoolbaadjie aan?” sê hy voorts.

“Dit herinner my aan die artikel van die politieke analis Andile Zulu in Mail & Guardian. Daarin beweer hy dat kinders van kleur dikwels hul identiteit verloor, net om aan die skool se baadjie te konformeer.

“Maar tydens die pandemie was ons almal gestroop van skooldas en pet. My stuk porselein was my identiteit. Ek was weer deeglik bewus van my wortels, my taal, kultuur en familiebande. Ja-nee, ek is weer trots Sotho, Afrikaans én Suid-Afrikaans.”

Katleho Molakeng. (Foto: Verskaf)

Hoewel dié bekkige matriekleerder se toespraak nie die goue of silwer sertifikaat tydens die redenaarskompetisie ingeoes het nie, het sy aktuele en hartroerende boodskap só diep getref dat sy onderwysers gedink het dit is gepas dat hy dié toespraak met sy skoolmaats deel.

Hy sê die staande toejuiging wat hy na afloop van sy toespraak ontvang het, het hom onkant gevang.

“Ek kan nie werklik beskryf hoe dit gevoel het nie. Dit was baie onverwags,” vertel Molakeng laggend.

“Ek het gedink die ouens gaan dink dis net ʼn gewone toespraak, maar hulle reaksie het my verbaas. Dit was ʼn baie spesiale oomblik toe die hele skool se seuns vir my opstaan.”

Molakeng, wat tans op Affies se leerlingraad dien, beplan om volgende jaar BCom-rekeningkunde aan die Universiteit van Pretoria te studeer.

Al is Afrikaans sy tweede taal, is hy baie lief vir dié taal, sê hy.

“Daar is net iets aan die taal wat dit so besonders maak – die manier hoe jy jouself kan uitdruk, mense kan laat lag en ʼn interessante woordeskat kan ontwikkel, is alles redes hoekom ek lief is vir Afrikaans.”

Kyk hier na die video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Oesterbaaier ·

Uitstekende toespraak, hartlik geluk met jou mooi prestasies!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.