Video: Só lyk Akademia se Centurion-kampus

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, was een van die Solidariteit Beweging se hoofde wat vir ʼn dag weer sy studenteskoene aangetrek en ʼn toer van die nuwe Centurion-kampus afgelê het. (Foto: Lize-Mari Verster)

Die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia het Vrydag (26 Februarie) sy splinternuwe kampusaanbod aanlyn bekendgestel. Studente sal heeltyds op dié veilige en vriendelike kampus in Centurion studeer, terwyl hulle aan ʼn verrykende studentelewe deelneem.

“Akademia is gereed om dié behoefte aan te raak, en ons glo dat die geskiedkundige gebeurtenis hoop skep vir voornemende studente wat ʼn gehaltekwalifikasie in Afrikaans wil voltooi,” meen Paul Vogel, operasionele hoof van Akademia.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, was een van die Solidariteit Beweging se hoofde wat vir ʼn dag weer sy studenteskoene aangetrek en ʼn toer van die nuwe Centurion-kampus afgelê het.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het nie net sy studenteskoene aangetrek nie, hy het sommer met die intrapslag klasgedraf. (Foto: Lize-Mari Verster)

Hermann sê dat eerstejaarstudente wat vanjaar by Akademie instap werklik baanbrekers gaan wees. “Hulle gaan nuwe tradisies vestig wat studente nog jare lank gaan help vorm. Dit is ʼn besondere groep eerstejaars. Ek meen, hoeveel mense kan sê dat hulle die eerste groep studente op ʼn splinternuwe kampus was?”

Akademia se kampus is regtig iets om op trots te wees, sê Hermann. Hy beskou die “regte biblioteek met regte boeke” as een van die hoogtepunte van Akademia se nuwe kampus.

“ʼn Regte biblioteek is tog nodig, al is dit net ʼn plek waar ʼn mens kan gaan sit en leer. Dit wys ook dat dit ʼn regte universiteit is,” sê hy. Natuurlik het studente ook toegang tot die universiteit se stelsel met hordes e-boeke en ander elektroniese materiaal.

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, was ook vir ʼn dag pure student toe sy haar klasdrafskoene afgestof en saamgetoer het. (Foto: Christa Steyn Bezuidenhout/Maroela Media)

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, was ook vir ʼn dag pure student toe sy haar klasdrafskoene afgestof en saamgetoer het.

“Die gevoel wat ek van die nuwe Akademia-kampus kry, is dat dit baie modern en vars is, maar terselfdertyd het dit die gevoel van ʼn universiteit met gesag,” vertel sy. “Daar is ʼn waardigheid wat by my die indruk wek dat studente regtig met kenne hoog gelig sal kan sê dat hulle deel is van hierdie nuwe Afrikaanse universiteit.”

Lombaard sê dit is veral die inhoud van die kursus in joernalistiek wat haar beïndruk: “Ek kan sien dat daar moeite gedoen is om dekade oue joernalistieke beginsels in te werk in die opleiding, maar terselfdertyd ʼn vars, nuwe aanslag te volg wat verseker dat studente in ʼn splinternuwe digitalemedia-omgewing met al sy uitdagings bekwaam gaan wees om hulle werk te kan doen. Die graad is gegrond op stewige joernalistieke beginsels.”

Die kampus is sentraal in Centurion geleë, binne loopafstand vanaf die Gautrein-stasie en ʼn inkopiesentrum. Dit is ingerig met hoëspoedinternet, ʼn biblioteek, kafeteria, studenteverblyf, sewe lesinglokale, sekuriteit en ʼn lieflike ouditorium. ʼn Propvol studentekalender word beplan om te verseker dat hierdie studente aan ʼn opwindende studentelewe kan deelneem. Studente sal aan aktiwiteite soos ʼn eerstejaarskamp, gholfkompetisies, debatvoering, aksiesport, pretstappe, dramaklasse, ʼn erfenisvereniging en ʼn damestee kan deelneem ­– om maar net ʼn paar te noem.

Jeani van Heerden, ʼn boorling van Witbank in Mpumalanga, wat ingeskryf het vir die BSc-graad in wiskundige wetenskappe. (Foto: Christa Steyn Bezuidenhout/Maroela Media)

Soos wat die tyd aanstap, maak studente hulself stadigaan tuis op die kampus. Een van hulle is Jeani van Heerden, ʼn boorling van Witbank in Mpumalanga, wat ingeskryf het vir die BSc-graad in wiskundige wetenskappe.

Benewens dié graad word nog vyf kwalifikasies tans op die Centurion-kampus aangebied: BA (kommunikasie en joernalistiek), BCom (ekonomie en regte), BCom (finansiële en bestuursrekeningkunde), BCom (ondernemingsbestuur) en BSocSci (politiek, filosofie en ekonomie).

Van Heerden is besonder opgewonde oor die nuwe hoofstuk en sien met groot ywer daarna uit. “Dit is vir my opwindend om hier te wees. Ek kan nie wag om my tasse uit te pak en die kamer in te rig soos wat ek dit wil hê nie.”

Sy vertel dat dit te danke aan haar stiefma se betrokkenheid by Helpende Hand is dat sy van Akademia gehoor het. Van Heerden het deur die katalogus geblaai toe die graad in wiskunde haar aandag getrek het.

“Ek het onmiddellik geweet dat ek op die een of ander manier by dié universiteit moet inskakel. Dit voel asof ek een van die eerstes was wat ʼn aansoek ingestuur het,” vertel Van Heerden. “Ek het dus maande gelede al vasgestel dat dit goedgekeur is en toe die kampusverblyf se aansoeke geopen het, het ek ook dadelik my aansoekdokumente ingestuur.”

Akademia is ingerig met ‘n biblioteek waar studente kan sit en leer. (Foto: Christa Steyn Bezuidenhout/Maroela Media)

Van Heerden is ʼn trotse ambassadeur vir Akademia wat opgewonde is oor die geleentheid om saam met haar medestudente geskiedenis te maak wanneer hulle binnekort die eerste groep gaan wees wat op die kampus studeer.

Personeel is reeds in die proses om Akademia se kampusaanbod uit te brei om aan die behoefte vir selfs meer kwalifikasies te voldoen. ʼn Deeglike ontwikkelingsproses word gevolg wat akkreditasie deur die departement van hoër onderwys en opvoeding se Raad op Hoër Onderwys insluit.

Akademia is sedert 2012 bekend vir sy suksesvolle nauurse onderrigleermodel wat verskeie studierigtings in Afrikaans deur die gebruik van gevorderde tegnologie aanbied. Dié onderrigleermodel, met byna 2 000 studente, groei ook teen ʼn snelle pas en word elke jaar met nuwe kwalifikasies aangevul.

Dié instelling het in Junie 2020 die nuus bekendgemaak en het sedertdien met die kampusinrigting gewoeker. Akademia maak gereed om op 15 Maart ongeveer 250 eerstejaarstudente vir hulle oriëntering te verwelkom. Aansoeke om op hierdie spoggerige kampus te studeer is nog oop tot 2 Maart om 12:00.

Vir meer inligting oor Akademia besoek die webwerf op www.akademia.ac.za of stuur ʼn e-pos na [email protected] of ʼn WhatsApp na 0861 222 888.

Vyf hoofde van die Solidariteit Beweging het hulle klasdrafskoene afgestof en ʼn toer van die nuwe Centurion-kampus afgelê. Kyk hier na die video, wat deur Forum Films vervaardig is, oor hoe hulle studentwees op dié kampus ervaar het:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

quartus ·

Wonder hoe lank dit gaan neem voordat Julius en kie gaan gal braak oor Akademia.

Anoniem ·

quartus…so teen einde 2021 wanneer hulle in hulle hordes daarop aandring om verniet hier klas te draf.

daniel ·

Hy het alreeds kapsie gemaak, maar mens kan mos nie teen feite stry nie.

OW ·

Baie geluk.Mag die instelling van krag tot krag gaan.Dit gaan nog die grootste afrikaanse Universiteit in die wêreld word,soos wat Tukkies jare gelede was.Sterkte.

Hennie ·

Woderlike prestasie dié geboue! Maar nog meer belowend is die feit dat die kursusse en die biblioteek modern en toegerus is om die studente te bevoordeel! Báie studente sal onder ‘n boom klasdraf en presteer indie die die dosente goeie onderrigters is wat studente verstaan en die kursus inhoud ontwikkel is om sukses! Baie dankie vir, en sterkte met hierdie nuwe kampus met die oog op hoop, drome en ontwikkeling!

Kokkie ·

Sjoe, dis wonderlik. Ek wens ek was jonk sodat ek ook daar kon gaan student wees. My allerbeste wense vir julle. En mag julle van krag tot krag gaan en die hele wêreld wys watter krag in Afrikaans gesetel is. Baie geluk en sterkte met elke geringe treetjie wat Akademia gee.

MakersMark ·

Trots Afrikaner. Ander landsgenote wil wiskunde, chemie en fisika “decolonize”. Prinsiepe waar die hele wêreld op gebou is. Sterkte aan hulle. Maar terwyl hul besig is daarmee bou die Afrikaner ‘n wêreldklas akademiese instansie wat klas gee in afrikaans en twee europese tale. Dalk moet die eff uitgedaag word om dieselfde te doen ipv om te eis dat rykdom wat ander gebou het aan hul uitgedeel moet word. Dis maar uiteindelik die verskil – intellektuele vermoë om op die lang termyn eie rykdom te skep.

Genis ·

Trots en sommer Windgat Afrikaans! Ons kan, ons gaan, en wil… Opbouende blanke nasie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.