Video: Stiaan (9) is SA se eie wiskundemasjien

Stiaan Scheepers (Foto: Verskaf)

Stiaan Scheepers, ʼn negejarige seun van Rustenburg in die provinsie Noordwes, het onlangs aan die Junior Mental Calculations Championships in Duitsland deelgeneem om Suid-Afrika te verteenwoordig. Hy het met die tweede plek in dié kampioenskap weggestap.

Stiaan se ma, Elmarie, het aan Maroela Media gesê dat Stiaan eintlik per toeval by wiskundeklasse beland het. Elmarie se man, Louis sr., wat in 2016 oorlede is, wou graag Stiaan se ouer broer, Louis jr., vir ekstra wiskundeklasse stuur voor hy skool toe gaan omdat die standaard so hoog is en baie kinders daarmee sukkel.

“Stiaan was toe maar net twee jaar en 10 maande oud, maar toe ons vir Louis gaan aflaai het, het die juffrou gesê kinders so jonk soos 18 maande kan al met die klasse begin. Ons het toe vir Stiaan ook ingeskryf,” het Scheepers gesê.

Stiaan het begin met die klasse en goed reggekom, maar sy ouers het kort daarna vasgestel dat hy bloedkanker het.

Stiaan het baie verbeter in wiskunde na hy kanker oorwin het (Foto: Verskaf)

“So ses maande in die loop van die program is hy met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer. Hy moes sowat ʼn jaar lank die program staak, want hy het behandeling ondergaan. Vandag is ons baie bly om te kan sê dat Stiaan al vir twee jaar heeltemal kankervry is.

“Nadat hy teruggekom het en weer met die klassies begin het, kon ek sien die kind is mal oor die wiskunde. Hy het van krag tot krag gegaan. Hy het gesit en wiskunde doen, sonder ʼn haar op sy kop, maar hy het dit só geniet,” het Scheepers gesê.

Stiaan het aansoek gedoen vir die Junior Mental Calculations Championships, en toe hy gekeur word, het hy vir sy ma gesê hy wil ʼn trofee huis toe bring.

“Stiaan het verlede jaar ook aan dié kompetisie deelgeneem, maar hy was nog so jonk, en hy het 10de geëindig. Vanjaar het hy gesê: ‘Mamma, ek wil ʼn trofee hê!’ Ek het vir hom gesê hy moet net sy beste gee en dit is genoeg vir my. Die somme wat hulle daar moet doen, is verskriklik moeilik, ek het gedink dit is nóú die jaar dat ek vir Stiaan sal moet leer oor teleurstelling. Maar hy het ons almal verbaas en ek is só trots,” het sy gesê.

Stiaan Scheepers (Foto: Verskaf)

By dié kampioenskap word die deelnemers twee uur gegee om ʼn 27 bladsy lange 2 500-punte-vraestel te beantwoord. Hulle mag nie hul berekeninge neerskryf nie, en moet dus al die somme in hul kop doen. Hulle kry ook slegs een geleentheid om hul antwoord te verander; wanneer hulle dit vir ʼn derde keer op die vraestel verander, word dit verkeerd gemerk.

Optelsomme soos 920056515 + 920513142 +322767078, minussomme soos 93513 – 19558, maalsomme soos 3305 x 9644, en deelsomme soos 7009275 ÷ 77025 word by hierdie toets ingesluit.

Stiaan verduidelik dat hy ʼn soroban (soortgelyk aan ʼn abakus) in sy kop het, en dit is hoekom hy al die somme in sy kop kan doen. Wanneer hy somme doen, beweeg hy sy vingers aan sy regterhand vinnig, want dit is hoe hy die soroban in sy kop se kraletjies oorskuif.

Stiaan het tweedeplek in ‘n internasionale wiskunde-kompetisie gekry (Foto: Verskaf)

“Stiaan het die tweede plek in die Junior Mental Calculations Championships in Duitsland gekry, en hy is maar net nege jaar oud. Die twee wat eerste en derde was, was al 11 jaar oud. So, hy vaar baie goed en het reeds gesê hy wil volgende jaar weer deelneem en dan die wenner wees,” het Scheepers gesê.

Volgens Scheepers is Stiaan ’n baie gedrewe kind in sy alledaagse lewe, en weet waarvan hy hou en waarvan nie.

“Toe hy kleiner was, is ek al ingeroep skool toe omdat Stiaan nie wou teken nie, maar hy het net vir my gesê: ‘Mamma, ek is nie ʼn kunstenaar nie, so ek hou nie van teken nie.’ Hy hou van bordspeletjies, op sy tablet speel, en is baie lief vir albaster speel. Hy hou ook baie daarvan om met ons twee honde te speel.”

Stiaan het self besluit dat hy, ter voorbereiding vir die kompetisie in Duitsland, elke oggend twee uur vroeër gaan opstaan om ʼn toetsvraestel te doen voor hy skool toe gaan.

“Dit is ʼn belewenis om net saam met die kind winkel toe te gaan. Hy sal vir my vra om vir hom iets te koop wanneer ons by die kassier kom, en wanneer ek nee sê, omdat dit nie by ons begroting inpas nie, sal hy vinnig somme doen om vir my te bewys dit kan eintlik wel inpas en dat ons boonop kleingeld sal kry!” het Scheepers vertel.

Hoewel Stiaan altyd so gedrewe en mededingend,  het hy ʼn goeie hart.

“Wanneer ek hom hoor bid, weet ek hy is nederig, sy hart is op die regte plek. Hy sê altyd: ‘Jesus, baie dankie vir al my talente en help my om altyd te werk aan my talente. Jesus, help my om altyd my belangrikste werk te doen, wat is om mense oor jou te vertel.’

Stiaan se soroban wat hy verduidelik hy in sy kop het (Foto: Verskaf)

“Maak nie saak wat gebeur nie, hy weet waaroor die lewe gaan, en ek is baie trots op hom.”

Scheepers het ook gesê dat hy maar ʼn gewone kind is, met gewone gevoelens.

“As ek vat waar die ou dingetjie vandaan kom, raak my hart sommer sag. Hy is baie klein gebou, en is partykeer bekommerd dat hy nie gaan groei nie. Hy sal my vra: ‘Mamma, gaan ek ooit groter word?’, dan sê ek net vir hom: ‘Jy is dalk klein, maar jou brein is baie groot’, en dit is goed genoeg vir hom.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Besemryer ·

Wat ‘n pragseuntjie!. Ek is sommer lief vir hom met daai mooie tand en daai ou bekkie! Dan boonop nog ‘n begaafde slimkop ook. Mooiso grootman, jy klink soos ‘n pragtige, liewe mens met jou ideale en drome ferm op dreef! Baie geluk met hierdie uitmuntende prestasie!!!

AW ·

Baie Dankie Baie vir hierdie Deel met ons as Lesers!

Priceless !!

Lena Jonk ·

Baie pragtig Stiaan en baie geluk grootman. Ons is baie trots om nog soiets te sien van so jong seun. Ek sien jy is ook n liewe Jesus kind, dis die mooiste en beste van alles. Jesus sal jou mooi lei op die regte met jou pragtige talent wat Hy jou gegee het. Ons wil weer van jou hoor want weet jy gaan nog n groot sterk en slim man wees. Wiskunde is jou beste vak wat jy ooit kan neem.

jaco ·

Het ek reg gelees: die pa wou die kind laat extra wiskunde klasse doen “omdat dit standaarde so hoog is”. Iewers maak iets nie sin nie. In ons huidige onderwysstelsel word die standaarde dan juis VERLAAG om die slaagsyfer beter te laat lyk.

wiskunde nie vir sussies ·

@jaco het jy onlangs probeer om ‘n kind te help met sy wiskunde huiswerk?
Ek self is ‘n bankamptenaar en doen heeldag somme, maar sukkel my as af wanneer ek die Gr7 leerling wat tans by ons bly probeer help met sy huiswerk.

Dean ·

O wow Stiaan..Jesus het jou geseën met n gelooflike brein…Gees gevulde persoonlikheid en ek is so oortuig daarvan dat ons nog baie baie van jou gaan hoor..lees die verhaal van Dawid en Goliat..hy was maar n klein skaapwagter wat n groot reus verslaan het met een klippie ..sy woorde aan die reus was jy kom met al die wapens en ek kom met die mag van God.. (my woorde)..maak dit altyd jou fondament waarop jy bou en jy sal die grootste man wees wat die mensdom nog gesien het..

Marietjie ·

Baie geluk. Voorwaar ‘n kind wat in mens se hart kruip en almal trots maak.

Didi ·

Stiaan… as mede Rustenburger wil die tannie net sê sy is baie TROTS op jou! Welgedaan!
Nie net oor die wiskunde nie, maar dat jy Kanker gewys het wie is baas!

Tarien ·

Stiaan,
Jy is ‘n voorbeeld vir baie! Jy werk ongelooflik hard, is super goed in Wiskunde, maar bly nederig. Ek leer baie meer by jou die jaar as wat jy by my kan.
Jy is verseker Jesus se oogappel!

E.K. die eerste ·

Laaste paragraaf sê sy mamma ‘Jy is dalk klein maar jou brein is baie groot’ – so ook ‘n groot hart! Hy het al op soveel vlakke gewen – wat ‘n ster!

GM ·

Wat ‘n inspirasie!
Meeste skole probeer kinders in boksies druk, hul sienings afdwing, in plaas daarvan om kinders te leer dat dit okay is om nie van als te hou waarvan iemand anders hou nie. (Na aanleinding van die ouers wat ingeroep word omdat die seun nie wil teken nie). Jou uniekheid is wat jou JOU maak. Mens moet kan leiding gee, sonder om hul persoonlikheid te probeer onderdruk. Daarmee sê ek nie kinders moet doen wat hul wil, of heeltyd hul sin kry nie, maar dalk kan hul die tekensessies vir die outjie bietjie aanpas aangesien hy verveeld raak daarmee. Teken is goed vir breinontwikkeling, so dit moenie heeltemal uitgeskakel word nie, dalk net ‘n bietjie anders aangebied word vir hom. Dis maar my beskeie mening.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.