Video: Vier Gautengse skole staan saam vir liefdadigheid

Die hoofleiers van Hoërskool Florida, Hoërskool Monument, Hoërskool Randburg en Hoërskool Linden by die Nelson Mandela-kinderhospitaal. (Foto: verskaf)

Vier Johannesburgse skole het hande gevat om opnuut bande van vriendskap te smee en terselfdertyd ’n daadwerklike verskil in hul gemeenskap te maak.

Hoërskool Florida, Hoërskool Monument, Hoërskool Randburg en Hoërskool Linden het vanjaar die SIOS (Saam is ons sterker)-projek van stapel gestuur.

“Johannesburg het so min Afrikaanse skole, maar ons het so ’n ongelooflike omgewing en gemeenskap. Dit het ons laat wonder waarom ons nie iets saam met van die ander skole doen nie,” sê Ané Groenewald, bemarkingsbestuurder van Hoërskool Linden aan Maroela Media.

“Natuurlik wou ons iets doen wat teruggee aan die gemeenskap en nie net vir onsself nie.”

Daar is deur die loop van die afgelope paar maande ’n vragvol speelgoed ingesamel deur die onderskeie skole.

Ná ’n heerlike vriendskapsontbyt wat Maandag by Hoërskool Linden plaasgevind het, het die hoofleiers van dié vier skole die speelgoed na die Nelson Mandela-kinderhospitaal in Johannesburg geneem.

“Daar is ’n groot behoefte by die hospitaal vir finansiële steun, maar eintlik ook vir tyd.”

Die leerders het nie net die reuseskenking by die hospitaal gaan aflaai nie, maar het ook ’n toer deur die hospitaal onderneem en tyd saam met die pasiënte deurgebring.

Saam met die speelgoed het elke skool ook briewe met bemoedigende boodskappe van hul leerders saamgeneem om aan die pasiënte uit te deel.

Die vier skole hoop om deur die jare verder aan die vriendskaplike verhouding te bou en verdere welsynsprojekte van stapel te stuur.

“Ons wil elke jaar ’n uitreikprojek saam aanpak. So maak ons seker dat ons bande smee, dat ons iets vir ons gemeenskap doen en dat ons seker maak dat die Afrikaanse skole in Johannesburg behoue bly en verhoudings kan bou onder mekaar.”

Kyk hier na ’n video van die eerste samekoms van Projek SIOS:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.