Video: Vier ossewaens vind tuiste by Voortrekkermonument

Lede van die Rapportryerbeweging en die Voortrekkermonument laai die nuwe waens om na Pretoria te neem. (Foto: Verskaf)

Dit blyk dat die Voortrekkermonument se “ossewalaer” aanhou groei nadat vier nuwe gesogte waens onlangs hul tuiste by dié geskiedkundige monument in Pretoria gevind het.

Die jongste toevoegings tot die Voortrekkermonument se versameling was vir byna 25 jaar in die bewarende hande van Christoffel Jacobus du Toit Viljoen en sy vrou, Jennifer Viljoen.

Dié egpaar bestuur sedert die 1990’s ʼn huismuseum in Lydenburg, Mpumalanga.

Jennifer het besluit om die waens aan die Voortrekkermonument te skenk, 15 jaar ná haar man se afsterwe in 2007, en sê dat daar geen ander plek in Suid-Afrika is wat hierdie waens ’n beter kultuurtuiste kan bied nie.

“Ek skenk die waens graag aan die Voortrekkermonument, want ek weet dat dit daar bewaar sal word. Dit is vir my uiters belangrik dat ons kinders van Jan van Riebeeck af ons korrekte geskiedenis leer, en as die monument dit kan oordra aan hulle – fantasties!”

Frans de Klerk, veldtogkoördineerder vir die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Voortrekkermonument, sê die Viljoens se harte het behoorlik vir erfenisbewaring geklop.

Jaco de Klerk. (Foto: Verskaf)

“Ons is met daardie kenmerkende Boere-vriendelikheid verwelkom, en is boonop met nóg skatte, waaronder ʼn handsaag, deur die Viljoens bederf.”

Volgens De Klerk is die presiese geskiedenis van die ossewaens nog nie bekend nie, maar daar word tans navorsing gedoen om meer daaroor uit te vind.

Die Viljoens se bydrae beteken ook dat die Voortrekkermonument se ossewa-familie nou 18 waens sterk is.

Danksy hulp van die Rapportryerbeweging se Jakaranda-tak het dié ossewaens ʼn “groot trek” van 300 km in ʼn konvooi van Lydenburg tot in Pretoria aangepak.

Maroela Media het vroeër berig dat die oorspronklike Rapportryers (RRB) ʼn klompie perdekommando’s was wat met die inwyding van die Voortrekkermonument in Pretoria op 16 Desember 1949 van dwarsoor die land, selfs vanuit die voormalige Suidwes-Afrika en Rhodesië, na Pretoria gereis het met groeteboodskappe, oftewel rapporte.

Vandag is die hart van die RRB sy projekte, waarvan een van die grootste die Bybelvasvra-kompetisie vir laerskoolleerders is.

Jaco Cilliers van die Voortrekkermonument. (Foto: Verskaf)

Volgens Johan Roos, president van die RRB, is dit vir hulle organisasie ’n baie groot voorreg om by so ’n historiese trek betrokke te kan wees.

“Die samewerking tussen die Rapportryers en die Voortrekkermonument is vir my van kardinale belang, want die Voortrekkermonument word werklik vandag die kultuurtuiste van die Afrikaner. Dit is nie ’n reg nie, dit is uit en uit ’n voorreg en ons moet daarna omsien. Wat vir my ’n riem onder die hart is, is om te sien hoe die jong mans aktief betrokke raak om ons erfenis vir die nageslag te bewaar.”

Jaco Cilliers van die Voortrekkermonument vertel dat dié tog skares deur dorpe soos Lydenburg en Dullstroom getrek het.

“Dit is vir ons ’n groot voorreg om in die posisie te kan wees om hande te kan vat saam met ander kultuurorganisasies en individue wie se harte klop om ons Afrikanererfenis te bewaar. Dit is veral belangrik in ’n jaar soos hierdie, waarin ons die 185ste herdenking van die Slag van Bloedrivier en die Groot Trek herdenk, dat daar bewusmakingaksies en projekte soos hierdie gebeur om die gemeenskap saam te trek,” sê Cilliers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Martie Smartie ·

Ja blykbaar het Toyota die eerste battery modelle met die Drommedaris na Amerika gestuur in 1588

Di ·

So bly daar is nog mense wat omgee vir die Afrikaner se geskiedenis en die bewaring daarvan vir ons nageslagte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.