VivA-Uitgewers stel eerste bundel bekend

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se splinternuwe uitgewery, VivA-Uitgewers, het op 12 April amptelik sy digitale deure oopgemaak met die bekendstelling van nie net een nie, maar twee kortverhaalbundels.

Marlie Coetzee, uitvoerende hoof van VivA, het die bekendstelling, wat aanlyn plaasgevind het, ingelui met die woorde: “Dit was harde werk, maar soos julle weet, skrik VivA nie vir harde werk nie. VivA is ook nie bang daarvoor om kreatief en uit die boks uit te dink nie.”

Die eerste bundel met die titel, Aanlyn, is saamgestel in samewerking met Trisa Hugo en Analize Viljoen, die stigters van Boekemakranka. Skrywers kon hierdie tema na goeddunke interpreteer en hulle eie stories, wat in enige genre geskryf is, vertel.

Die 12 kortverhale wat hierin opgeneem is, kom uit verskeie bekende skrywers se penne. Dit sluit Francois Bloemhof, Annerle Barnard, Zelda Bezuidenhout, Daniël Lotter en Dibi Breytenbach, in.

Aanlyn 2 volg op die eerste bundel met dieselfde tema en hierin kan lesers uitsien na kortverhale deur onder andere Sidney Gilroy, Christelle van Rooyen-Wessels, Erla-Mari Diedericks en Connie Luyt. Lesers sal wel nog moet vasbyt totdat dié bundel te koop aangebied word.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn nuwe uitgewery onder VivA se vaandel begin word. Dit volg nadat dié organisasie die uitgewersbedryf die afgelope jaar fyn dopgehou het, na skrywers se bekommernisse en lesers se uitdagings geluister het, kopgekrap en planne beraam het.

“Die volgende groot Afrikaanse skrywer wag om ontgin te word, en ons wil daarmee help. Iewers is daar ’n storie wat ’n kind gaan laat lief raak vir lees, iewers is daar ’n storie wat die emosies van ’n leser perfek sal kan verwoord, en iewers is daar ’n digitale tuiste vir Afrikaanse inhoud by VivA-Uitgewers,” sê Marlie.

Aanlyn kos R220 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die e-boek op VivA-Uitgewers se webwerf aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.