Vrou is beskermengel vir 12 katkolonies

(Foto: Verskaf)

Deur Maretha Botes

Die wilde katkolonies, in Engels bekend as ferals, in Vanderbijlpark ken die stem van hul mense-engel, Farzana Ismail, ál te goed. Wanneer Farzana verskyn met ʼn sak vol kos en hul waterbakke hervul met koel, skoon water, kom die katte een-vir-een stert in die lug te voorskyn en weet hulle, hul kan sorgeloos hulle magies trommeldik vreet.

Farzana, ʼn voltydse dosent aan die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT), sorg tans vir twaalf katkolonies op die dorp. Haar aandag is in 2015 op die wilde katte se lot gevestig tydens ʼn eksamensessie waar sy toesighouer was.

“ʼn Kat het dié dag die lokaal binnegestap asof dit aan hom behoort. Die studente was dadelik angstig en dit het ʼn ruk geneem om hulle tot bedaring te bring. Ek het besluit om vir die kat kos uit te sit, min wetend dat daar in werklikheid ʼn paar kolonies op die kampus was!”

Farzana het kort hierna ʼn liefdadigheidsorganisasie sonder winsbejag, The Feral Cat Carer NPC, gestig om so vir verskeie kolonies te sorg. Kort voor lank het mense van haar uitgevind en haar van die ánder kolonies in die dorp bewus gemaak. “Nou trek ons al by twaalf,” sê sy.

Sy het geen kennis gehad oor hoe om vir die katte te sorg nie. “Dis een ding om ʼn troeteldier tuis te versorg, maar ʼn klomp wilde katte is ʼn heel ander ding,” sê sy. Na baie navorsing en raad van veeartse, het Farzana begin verstaan dat ʼn mens nie sommer só ʼn kat uit sy kolonie haal en huis toe neem, tensy daar ʼn goeie rede, soos siekte of besering of ouderdom, is nie. Jy moet ook nie dink jy gaan nou eensklaps ʼn huis vir elke kat in ʼn kolonie vind nie, want dit is nie realisties óf moontlik nie. Dus moet jy die katte mooi dop hou en observeer. As daar siekte of beserings is, sit sy vanghokke uit en kry sulke katte by ʼn veearts. Sy laat die katte ook steriliseer en laat hulle weer vry in hul onderskeie kolonies.

(Foto: Verskaf)

Daar is wel ʼn paar van hierdie katte wat diep in haar hart gekruip het en wat sy nou tuis versorg. Tommy Boy is ongeveer 10 jaar oud en nadat van die koloniekatte op kampus op ʼn wrede manier doodgemaak is vroeër die jaar, het Farzana besluit om hom liewer huis toe te neem. Dié mannetjie is stadig maar seker besig om in ʼn ware huiskat te verander. Dan is daar Honey, ʼn reuse-gemmermannetjie met ʼn heuningkleurige pels – ʼn aandagvraat wat mal is oor maagkrappies. Kota, wat geluk in Japannees beteken, is skamerig en observeer dinge eers vanuit die blombedding waar dit lekker koel is.

Vir die katte wat by haar woon, het Farzana reuse-hokke gebou wat aan die huis grens. Só kan die katte die binnenshuise area sowel as die tuin geniet, en is daar geen gevaar dat hulle begin rondloop en dalk raakgery of vergiftig word nie.

Wanneer sy uitgaan om die kolonies te versorg, en daar dalk mense is wat staan en kyk, knoop sy graag ʼn geselsie met hulle aan. “Dit is vir my belangrik dat mense bewus is dat hierdie katte wel ʼn waardevolle toevoeging tot ons gemeenskap is. Dink net hoeveel slange, rotte en muisplae ons sal hê sonder hulle.

Ek glo ook wanneer ander sien dat iemand hierdie katte met liefde versorg, dit vir hulle sal wys dat die katte wel met respek en liefde hanteer moet word.”

Die onsinnige uitmoor van ʼn hele paar katte op kampus die jaar was vir Farzana geweldig traumaties. Baie van die katte is vermink en vir dood gelos. Sy kan steeds nie begryp waarom iemand so wreed kon wees nie. “Ek kon ʼn paar red en kon mense kry wat hulle nou versorg. Baie van daardie katte woon al jare op kampus. Die ‘slagoffers’ was katte wat redelike vertroue in mense gehad het en maklik sou kom as jy kos neersit of ʼn bietjie aandag wou gee.”

Haar navrae oor die slagting het op niks uitgeloop nie en geen poging is aangewend om dit te ondersoek nie.

(Foto: Verskaf)

Haar grootste uitdaging is en was nog altyd befondsing. Elke kolonie vreet daagliks ʼn 10 kg pak katkos, en sy maak byna daagliks ʼn draai by die veearts met ʼn kat of drie. Die bedrae wat sy noem is astronomies en sy maak net staat op skenkings. Sy verwelkom enige skenking – ook kos – en wil mense graag motiveer om nie slegs eenmalige skenkings te maak nie, maar wel maandelikse skenkings te oorweeg. The Feral Cat Carer NPC is ʼn deursigtige onderneming en geld word slegs vir die onderhoud van die katte aangewend.

Farzana is beslis die katte se engel, en maak die lewe vir dié gediertes ʼn bietjie makliker. Sy ontsien geen moeite wanneer ʼn kat in nood is nie. As jy graag ʼn skenking wil maak, kan jy Farzana skakel by 082 285 6269 of haar Facebookblad besoek by The Feral Cat Carer NPC.

Maretha Botes en haar dogter kuier by Farzana en die wilde katte wat sy aangeneem het. (Foto: The Feral Cat Carer NPC/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ronel ·

Ag wat se awesome lewe moet dit wees, om elke dag met die katte te werk! Katte is die wonderlikste diere, absoluut mal oor hulle!

Daisy ·

Ek het op ‘n stadium 27 gehad.
Het uiteindelik 12 oorgehou
Die laaste en oudste een is in Augustus kattehemel toe – sy was amper 20 jaar oud.
Volgens my die beste troeteldiere ooit

trotsNAMSA ·

Ek was ‘n “honde meisie” tot ‘n rooi kat uit die Hemel in my agterplaas beland het. Ek is dol oor diere maar die lewe is wreed teenoor diere. Twee gelede ‘n engel kat gevind wat deur “jy weet wie” oor hom gery het.
Gelukkig kon ek hom veearts toe neem om sy lyding te verkort. Sy mense ouers het ek ook opgespoor en nou het hulle vrede. Farzana, jy is ‘n mense Engel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.