Vroue snoer kragte saam in die stryd teen Covid-19

(Foto: Verskaf.)

Met die uitbreking van die nuwe koronavirus (Covid-19) is ʼn tekort aan gesigmaskers oral aangemeld. Dit het ’n groep vroue laat besluit om saam te werk vir mense se veiligheid én liefdadigheid.

Annelise de Vries, eienaar van die vroueklerewinkel Leef Kimono, vertel dat hulle handgemaakte maskers verkoop om die Sher-fabriek, wat gewoonlik hul kimono’s vervaardig, in hierdie moeilike tye te ondersteun. Terselfdertyd baat die welsynsorganisasie Solidariteit Helpende Hand uit die verkope van die maskers.

“Ons wil graag behoeftige meisies en vroue bemagtig tydens hierdie uitdagende tye. Daarom skenk ons alle winste wat gemaak word deur die maskers se verkope aan Helpende Hand se FroueVonds*,” sê De Vries.

Sy verduidelik die Sher-fabriek, soos talle ander, kon nie tydens die afgelope paar weke se staat van afsondering voortgaan met die vervaardiging van klere nie. Die fabriek verskaf tans werk aan 15 Suid-Afrikaners.

De Vries vertel dat die eienaar van die fabriek die afgelope tyd maskers by haar huis vervaardig het in ’n poging om ’n inkomste vir haarself en haar werknemers te verseker. Leef Kimono het besluit om dié maskers te bemark en te verkoop om die fabriek te ondersteun.

“Leef Kimono wil egter die vrouekrag verder uitbrei deur die FroueVonds te ondersteun wat ’n studiefonds vir behoeftige meisies onder die vaandel van die Susanna Smit Studiefonds van stapel gestuur het,” sê De Vries.

(Foto: Verskaf.)

Benette Welman, Helpende Hand se projekorganiseerder van die FroueVonds, sê hulle is dankbaar vir skenkings wat inkom deur ’n masker wat verkoop word.

“In hierdie krisisomstandighede is dit vir almal moeilik om kop bo water te hou. Daarom moedig die FroueVonds die publiek aan om hierdie noodsaaklike item deur Leef Kimono aan te koop. So versterk jy jou onmiddellike veiligheid, maar dra jy ook by tot ’n lewenslange veiligheid wat ons aan behoeftige meisies bied, in die vorm van studiegeleenthede,” voeg Welman by.

Die maskers word volgens gestandaardiseerde veiligheidsregulasies gemaak en is van hoogstaande gehalte. Dit bestaan uit drie lae – linne, katoen en ʼn filtermateriaal. Die maskers is herbruikbaar.

Bestellings kan geplaas word by [email protected] of 076 4288 794. Of besoek Leef Kimono se Facebook-blad vir meer voorbeelde en die koste van die maskers. Bestellings kan in Elarduspark, in die ooste van Pretoria, afgehaal word of maskers kan na enige plek in Suid-Afrika gekoerier word.

*FroueVonds word met opset verkeerd gespel om aan te pas by dié inisiatief se slagspreuk: Want alles loop nie altyd reg nie. Besoek www.frouevonds.co.za vir meer inligting of om ’n skenking te maak. Lees hier op Maroela Media hoe die FroueVonds se Susanna Smit Studiefonds meisies help om verder te studeer.

(Foto: Verskaf.)

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.