Vyf miljoen maaltye in drie jaar uit dié welsynsnetwerk se kombuise

Duisende liters sop word voorberei en aan kerke, weeshuise, halwelose mense en nie-regeringsorganisasie geskenk. (Foto: Verskaf)

Chefs with Compassion, ‘n organisasie sonder winsbejag wat gelyktydig die stryd teen hongerte én voedselvermorsing in Suid-Afrika aanpak, het pas aangekondig dat hulle hul vyf miljoenste maaltyd aan honger gemeenskappe in Suid-Afrika bedien het.

Ondanks hul ongelooflike impak, staar Chefs with Compassion soos talle ander welsynsorganisasies, ‘n voortdurende finansieringskrisis in die gesig.

Die span  het ‘n skarefinansieringsveldtog op Givengain van stapel gestuur waar hulle Suid-Afrikaners uitdaag om hulle te help om hul impak van vyf miljoen maaltye met nog 50 000 uit te brei, deur R500 000 in te samel.

Chefs with Compassion is in 2020, terwyl die Covid-19-pandemie sy tol op duisende se inkomste en welstand geëis het, gestig om voedsame maaltye met oorskietbestanddele aan behoeftige mense te verskaf.

Mense staan in rye om kos van Chefs with Compassion te ontvang. (Foto: Verskaf)

Die organisasie bestaan uit die samewerkende pogings en uitgebreide netwerke van vyf stigtersorganisasies, meer as 30 kombuisspilpunte en verskeie sjefs van restaurante, kookskole, spysenieringmaatskappye en hotelle.

ʼn Hoogtepunt en hoofgeldinsamelingsprojek op hul kalender is die #67000litres-veldtog. Hiermee word 67 000 (of meer) liter sop vir Mandeladag gemaak en aan behoeftiges uitgedeel.

“Met behulp van ons befondsingsvennote uit die korporatiewe sektor, wat ons missie van die begin af ondersteun het, kon ons sedert die pandemie aan die gang bly. Ons hulpbronne loop egter uit en bykomende borge word benodig vir Chefs with Compassion om met hierdie noodsaaklike werk voort te gaan,” meen James Khoza, voorsitter van Chefs with Compassion.

“Sowat 10,3 miljoen ton kos gaan elke jaar in Suid-Afrika tot niet. Dít beteken dat ʼn derde van al die voedsel wat in die land geproduseer word – wat meer as genoeg is om elkeen van die 20 miljoen mense wat honger ly reg oor die land te voed – vermors word,” verduidelik hy.

“Ons is trots daarop dat ons, ons vyfmiljoenste maaltyd bedien het, maar die feit bly staan dat die behoefte aan ons dienste groter as ooit tevore is. Ons doen ‘n beroep op korporatiewe organisasies, die private sektor en die burgerlike samelewing om ons te ondersteun in ons deurlopende stryd teen honger en voedselvermorsing.”

  • Ondersteun Chefs with Compassion se skarefinansieringsveldtog hier. Elke R10 wat geskenk word, help om een persoon te voed.
  • Lees meer oor die organisasie op hul webblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kokerboom ·

Skep liewer werk en verminder so gee van brood en visse. Die middelman as melkkoei is leeg getap deur drakoniese wetgewing deur einste kaders wat armoede vraagstuk aanhelp asook ongewenste onverantwoordelike bevolkingsgroei

Anel ·

Gaan kry daardie 50miljoen wat hulle vir Kuba wil gee! Maar ek dink daar moet op gehou word om mense net te voer. Laat hulle werk en op hou kom kinders te kry, veral as mens na die foto kyk en kyk wie die toue maak. En ek bedoel nou niks leliks nie. Feite is feite. Die mense doen goeie werk, maar nou ja….!

Karel Kobus Kruger ·

Sorrie, niks geld oor nie. Klaar al my geld vir Orania Helpsaamfonds gegee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.