WATter woord pluk jy uit Afrikaans se boord?

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Wat het Hannes van Wyk en Amanda Strydom gemeen? Hulle sal in 2021 en 2022 as beskermerheer en -vrou vir die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se Borg ʼn Woord-veldtog optree.

“Kom pluk vir jou ʼn woord in ons lieflingtaal se boord,” is Strydom se boodskap aan taalgebruikers. Sy moedig mense aan om hul liefde vir Afrikaans te wys deur ook woorde te borg of te koop.

“Ek het ‘piekfyn’ gepluk en daar’s nog baie vir jou oes – watter een kies jy?”

Van Wyk sê op sy beurt dat Afrikaans die taal is waarin hy dink, droom, liefhet, lewe en werk. Sy keuse is “die eenvoudige woordjie ‘ma’”.

“Afrikaans is my taal en my trots. Voel jy dieselfde? Borg of koop dan ʼn woord wat vir jou uitstaan en help so om die toekoms van ons hartstaal te verseker,” sê Van Wyk.

Die WAT kondig jaarliks om en by Internasionale Woordeboekdag, wat op 16 Oktober gevier word, die nuwe beskermheer vir hierdie veldtog aan. Dit is begin uit ʼn nood wat ontstaan het toe die staat sy subsidie aan woordeboeke drasties ingekort het.

Die veldtog is in 2010 van stapel gestuur met David Kramer as beskermheer en word as een van die suksesvolle geldwerwingsinisiatiewe van die WAT beskou.

Amanda Strydom borg “piekfyn” vir WAT se Borg ʼn woord-projek. (Foto: Woordeboek van die Afrikaanse Taal/Facebook)

WAT se woordveldtog het ook ten doel om bewusmaking oor die waarde van woorde te skep, verduidelik dr. Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT.

“Die doel met hierdie veldtog is om mense bewus te maak van die waarde van woorde – die mooie, die skoonheid van woorde,” sê hy. “Elke mens het ʼn besonderse woord, en ons wil hê mense moet bewus word van daardie woorde en dit hulle eiendom maak deur dit te borg of te koop.”

Oor die vraag of slegs bestaande woorde geborg kan word, vertel Botha soos volg: “Jy kan enige denkbare woord borg. Dit hoef in geen woordeboek te wees nie.” Enige nuutskeppings wat dus tussen familie, vriende en sosiale omgewings ontstaan het, kan ook geborg word.

Volgens Botha word beskermhere vir die veldtog aangewys op grond van hulle positiewe bydrae tot Afrikaans en omdat mense wat lief is vir Afrikaans met hulle identifiseer.

Dit is die eerste keer sedert die ontstaan van hierdie veldtog dat daar ʼn beskermheer én -vrou gekies word. Vorige beskermers sluit in David Kramer, Charlene Lackey, Marita van der Vyver, Nataniël, Dave Pepler, Deon Meyer, Karen Zoid, HemelBesem, Tracy Lange, Laurika Rauch en Dawie Roodt.

Hoe koop jy ʼn woord?

Woorde kan teen R100 per woord geborg word en elke deelnemer ontvang ʼn sertifikaat met sy naam en die woord of woorde wat hy of sy borg. Jy kan ook ʼn woord vir R5 000 koop en niemand anders mag dan daardie woord borg of koop nie. As jy R5 000 skenk vir ʼn woord, ontvang jy ʼn 18A-belastingsertifikaat. Alle deelnemers wat woorde borg, kry ook ses maande gratis toegang tot die aanlyn weergawe van die WAT en indien jy ʼn woord koop, kry jy gratis toegang vir vyf jaar.

Een prys van R25 000, geborg deur Sanlam, kan gewen word. Almal wat woorde borg of koop, kom vanselfsprekend vir hierdie prystrekking in aanmerking.

Indien jy ʼn woord wil borg, gaan na www.wat.co.za en klik op Borg ʼn Woord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.