Weggooigoed is iemand anders se rykdom

V.l.n.r. is Heylin Williams saam met Willem Stuurman en Heinelize Knoesen op die dag toe Willem sy nuwe rolstoel ontvang het. (Foto verskaf)

Nadat Maroela Media in Julie berig het oor die projek van ʼn Swartlandse welsynsorganisasie om 450 kg plastiekdoppies in te ruil vir ʼn rolstoel vir ʼn gestremde persoon, het lesers oor die land heen met die Swartlandse gemeenskap saamgespan. So is daar binne 65 dae ʼn rolstoel vir Willem Stuurman van Malmesbury verseker, skryf Sarie Marais-Nell.

Vandat Sinethemba se personeel hulle projek bekendgestel het om plastiekdoppies in te samel sodat een van hul gestremde lede ʼn rolstoel kan kry, het slegs 65 dae verloop totdat Willem Stuurman in sy splinternuwe rolstoel kon sit. Hierdie spoedige oorhandiging is moontlik gemaak deur die flinke reaksie van verskeie skole, kindersorgsentrums en kerke regoor die Boland, asook indiwidue wat doppies selfs per koerier Malmesbury toe gestuur het.

Maroela Media-lesers het ook flink gereageer met oproepe vanaf Bethlehem, Gansbaai en Rustenburg,” sê Heinelize Knoesen, Sinethemba se bestuurder.

Sedert die rolstoelprojek op 21 Julie bekendgestel is, het die gemeenskap begin saamstaan. Die behoefte aan plastiekdoppies is afgekondig by kerke, skole, dagsorgsentrums en ʼn klub vir bejaardes.

Uiteindelik het duisende doppies ingestroom soos dit gespaar, van sypaadjies af opgetel, en bymekaargemaak is. Mense het dit aangedra in sakke, flesse, boksies en soms ʼn kattebak vol.

Om die gevoel van afwagting te versterk, het die Sinethemba-span Vrydagoggende inweegsessies gehou, want dan is die Happy Heart-lede teenwoordig. Happy Heart is die klub vir gestremde persone wat onder Sinethemba se vaandel op die dorp bedryf word.

Moenie dink gestremde lede sit net en kyk hoe word die doppies aangedra en in houers gegooi om geweeg te word nie. Dit is behoorlik ʼn saak van eer vir gestremde arms en liggame om self ook hul bydraes in die drom te gooi. Intussen het die afwagting weekliks gegroei, want almal het geweet die eerste van ses rolstoele wat benodig word, sal na Willem (57) gaan.

(Foto verskaf)

Willem het 33 jaar gelede verlam geraak en die rolstoel wat hy tans het kan nie opvou en in ʼn ryding inpas nie.

Terwyl gestremde hande vol doppies rukkerig mik na die plastiekdrom waarin die doppies geweeg word, maak Petri Bosch, die jong entrepreneur wat baie sweet ingesit het om die doppies aan te ry en in te weeg, gemoedelik grappies. Te midde van ʼn ontspanne atmosfeer hoor die gestremde lede en hul ondersteuners weekliks hoeveel kilogramme nou ingeweeg is, en besef elkeen dat die mikpunt van 450 kg vinnig naderkom.

Op Vrydag 23 September het die groot oomblik aangebreek toe ʼn groep ondersteuners en ʼn predikant by die Sinethemba-kantoor vergader het om te deel in die vreugde dat Willem uiteindelik sy eie rolstoel ontvang.

Omdat Erfenisdag die volgende dag gevier sou word, was elke personeellid volgens dié tema aangetrek. Op die koop toe het Willem drie dae tevore vir die eerste keer ʼn bril gekry, want Happy Hearts-personeel het besef dat sy sig aan die verswak is.

Petri Bosch besig om plastiekdoppies wat hy gratis aangery het, af te laai, saam met Heylin Williams. (Foto verskaf)

Hy en twee ander lede is na die Phelophepa mediese trein in die naburige Darling vervoer, waar hulle teen R30 elk ʼn oogtoets en bril ontvang het.

Tydens die oorhandigingsplegtigheid, waar die predikant gebid en Willem ook ʼn toespraak gelewer het, was daar geen droë oog te bespeur nie. Hierna het Heinelize vertel watter groot rol ruimhartige persone gespeel het om nie net een nie, maar vier rolstoele vir Happy Heart-lede moontlik te maak.

“Terwyl ons almal gewag en gewerk het vir Willem se rolstoel, het drie donateurs na vore getree en elk ook ʼn rolstoel vir Happy Hearts-lede geskenk. Twee nuwe rolstoele vanaf Slimsun Swartland Solar Park en die Atlantis Rotariërprojek, plus ʼn goeie tweedehandse stoel van ʼn anonieme donateur verbeter nou vier mense se lewensgehalte,” het Heinelize gesê.

Intussen het instansies buite die Swartland ook betrokke geraak en hope doppies gebring, soos Ysterplaat Primêr (65 km weg), Kenridge Primêr (61 km) in Durbanville, asook die Pinelands-biblioteek (70 km verder). Iemand het selfs ʼn groot besending doppies uit Napier (214 km vanaf Malmesbury) per koerier gestuur.

“Vier van ons lede kan nou groter mobiliteit geniet danksy hul nuwe rolstoele. Onthou, ons lede woon in ʼn omgewing waar die inkomste uiters beperk is en ʼn rolstoel moet nommerpas wees vir die spesifieke persoon wat dit gaan gebruik, vandaar ons groot dankbaarheid. Die projek gaan steeds voort omdat nog twee persone rolstoele benodig,” het Heylin Williams, Happy Hearts se programbestuurder gesê.

Sinethemba is ʼn welsynsorganisasie wat fokus op tuisversorgingsdienste in vyf Swartlandse dorpe. Happy Hearts is een vertakking van Sinethemba en fokus op die fisiese en emosionele welstand van gestremde persone in Malmesbury. Die Sweetheart Stigting is ʼn organisasie sonder winsbejag wat sedert sy ontstaan in 2013 reeds baie mense se lewens met rolstoele verbeter het. Daar is wel baie papierwerk hieraan verbonde om seker te maak dat ʼn nuwe stoel sal pas by die ontvanger. “Om te dink jou weggooigoed raak iemand anders se rykdom,” skryf die Sweetheart Stigting op hul webblad. Die Stigting het laasjaar ʼn nuwe rekord behaal deur 50 rolstoele te gee in ruil vir doppies.

  • Vir meer inligting oor die welsynsorganisasie en sy projekte, of om betrokke te raak, stuur ʼn e-pos aan [email protected].

(Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.