Weldoener brei kindertruitjies vir ’n goeie doel

Desiree Oosthuyzen, streeksorganiseerder van Helpende Hand in die Platinum-streek (Foto verskaf)

ʼn Weldoener, wat anoniem wil bly, se kindertruitjies gaan talle kinders se lewe ophelder en boonop vir ’n goeie doel. Sy is in haar 80’s en is ʼn inwoner van ʼn aftreeoord in Pretoria.

Desiree Oosthuyzen, streeksorganiseerder van die Platinum-streek, het onlangs by haar pa gaan kuier wat ook in dié aftreeoord woon. Soos dit nou al die gewoonte is, laai Desiree ’n klompie skenkings op om onder die Ons Winkels in haar streek te versprei.

Desiree het nog nie vantevore die betrokke dame ontmoet nie. Met die verby stap, het sy vir Desiree voorgekeer oor die items wat vir Helpende Hand se Ons Winkels geskenk word.

Sy het vertel dat sy truitjies brei en wou weet of daar iewers iemand is wat nut daaruit sal kan kry. Die dame het drie dogters, maar geen kleinkinders nie.

Sy het erge artritis in haar hande en in ’n stadium het sy al hoe meer gesukkel om haar vingers te kan beweeg. Die dokter het aanbeveel dat sy haar vingers moet begin oefen en sy het begin brei.

Haar dogters voorsien vir haar die wol en een van hulle het van oorsee af die mooiste bypassende knopies gebring.

’n Jaar later is haar hande en vingers reeds baie beter.

Met Desiree se besoek het die dame haar ingenooi en sy was aangenaam verras toe sy by haar voordeur instap en stapels en stapels klaargebreide truitjies in haar leefarea sien. “En daar voor my oë is die mooiste baba- en kindertruitjies! Seker omtrent 50 truitjies. Dit was almal in die mooiste kleure en die breiwerk was baie netjies,” sê Desiree.

Die twee vroue het heerlik gesels en Desiree het haar meer vertel van die Ons Winkels en die verskil wat dit in lewens maak.

Met oë vol trane het sy gereageer dat sy dankbaar is dat sy ’n plek kon kry om nog ’n verskil te maak.

  • Indien jy meer wil uitvind oor die Ons Winkels of jou naaste winkel wil opspoor, besoek die webwerf co.za vir ʼn lys van al 120 winkels landswyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.