Welwillendheid span kroon op dié Kersfeesrit

Kersvader kerjakker saam tydens die ‘Krismis vir kinders’-rit. (Foto: Verskaf)

“Fisiese geskenke is verganklik, maar liefde wat ʼn mens in die vorm van jou tyd gee, het ewigheidswaarde. Dit is hoe ons hoop om met die jaarlikse Kersfees-gemeenskapsprojek (CCP) ʼn lig in behoeftige gemeenskappe se lewens te skyn.”

Só sê Sonet Stofberg, skakelbeampte van GrootFM 90.5 wat ʼn mediavennoot van die ‘Krismis vir Kinders’-veldtog is.

Hoewel die insamelingsfase vir vanjaar se projek reeds afgehandel is, en boonop met oorweldigende sukses, is daar steeds maniere om by hierdie inisiatief betrokke te raak.

“Ons is oorstelp van vreugde oor die groot aantal skenkings wat tot dusver ingesamel is. Dit is vir ons ʼn riem onder die hart om te kan sê dat ons reeds die teiken van R750 000 verbygesteek het.

“Om items soos lekkers, Bybels, koffie, koekies, skryfbehoeftes, en goed soos pillehouertjies vir bejaardes in te samel, is een deel van die projek. Wat ons nou benodig is vrywilligers wat saam met die nooddienste kan ry en help om geskenkpakkies uit te deel,” brei Stofberg uit.

Inwoners van Pretoria kan inskryf om in die gemak van hulle eie motors saam met die konvooi te ry, mits dit uniek vir Kersfees versier is. ʼn Stewige kontantprys is boonop op die spel vir die beste en mees unieke voertuig.

“Wat elke jaar vir my uitstaan, is nie die geskenke nie, maar die oomblikke wat jy met mense deel. Wanneer jy iemand wat minder as jy het, in die oë kan kyk en besef wat jou tyd en moeite vir hulle beteken.”

GrootFM 90.5 pak die veldtog in samewerking met die Community Christmas Project (CCP), ʼn nie-winsgewende organisasie wat deur Best Care-ambulansdienste gestig is, aan. In 2022 is 32 000 geskenk- en bederfpakkies aan behoeftige kinders, ouer mense en selfs troeteldiere in Pretoria en omliggende areas uitgedeel.

Oor sowat 18 dae gaan nooddienswerkers en vrywilligers weer Kersvader speel wanneer duisende geskenkpakkies aan behoeftige gemeenskappe in die noorde en weste van Pretoria en die Moot-area oorhandig gaan word. Dié projek se doelwit is om vanjaar minstens 52 000 geskenkpakkies uit te deel.

Die verrigtinge skop op 2 Desember in Queenswood af, waarna die konvooi na Kilnerpark en die volgende dag na die Moot beweeg. Daarna sal inwoners van Waverley bedien word, gevolg deur Villieria, East Lynne, Wonderboom Poort, Booysens, Claremont, Daspoort, Hermanstad, Pretoria-Noord (Walmer) en Danville.

Op 16 Desember beweeg die konvooi en vrywilligers na Mountain View, en daarna na Suiderberg, Pretoria Tuine, Andeon, Kameeldrif-Wes en Voortrekkerhoogte. Die jaarlikse projek eindig op 19 Desember in Capital Park.

Diegene wat skenkings wil maak, moet liefs eers in verbinding tree met CCP by [email protected]. Die CCP-projek se webblad kan ook hier besoek word vir meer inligting. Klik op “Get involved” vir meer inligting oor hoe om aansoek te doen om by die konvooi in te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Seder op die horison ·

Ek staan in verstomming dat mense geld vra en dan daardie geld gebruik vir n lekker beloning. Mense kry swaar ly honger en julle gee geld weg. Gaan hierdie regtig oor die stomme minderbevoorregte

JJB ·

Verduidelik asseblief vir my wat het Vader Kersfees (wat deur CocaCola op gedroom is) te doen met Kersfees? Moenie ons kinders so mislei nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.