Wiesenhof-koffieliefhebbers skenk indirek R1 m. aan renosters

Ander koffies in die koffiewinkel gaan ook nou by die veldtog betrek word. (Foto: Wiesenhof)

Danksy koffieliefhebbers wat gereeld vir ʼn cappuccino-bederf by die Wiesenhof- en Dulcé Café-koffiewinkels in Suid-Afrika aanklop, kon die ondernemings net meer as R1 miljoen dié week aan die Wilderness-stigting skenk in sy poging om renosterstropery hok te slaan.

Vir elke cappuccino wat dié koffiewinkels verkoop het, is 60 c in ʼn fonds geplaas en het dit net 18 maande geneem om die enorme bedrag te bereik.

Cheryl Reynolds, kommunikasiebestuurder van die Wilderness-stigting, vertel aan Maroela Media dat die geld op twee maniere aangewend gaan word. “Ons werk vir die behoud van Suid-Afrika se renosters, waar ons direk betrokke by teenstropingsveldtogte is, maar ons werk ook aan ʼn jeugontwikkelingsprojek, waar ons kwesbare jong mense in verskeie gemeenskappe bewus maak van die krisis, maar hulle ook oplei om in bewaring te kom werk.”

Reynolds verduidelik dat daar in die Oos-Kaap, waar die stigting se hoofkantoor is, sowat 500 jong mense al opgelei is. “Die jong mense het geen hoop vir ʼn toekoms gehad nie en geen geleenthede gehad waar hulle sou kon werk nie, en nou werk hulle in bewaring.”

Sy meen dat die bewaringsopleiding ook help om renosterstropery in dié provinsie hok te slaan, omdat baie stropers uit desperaatheid en onkunde aan die aktiwiteite deelneem. “Die aantal stroperye in die Oos-Kaap is relatief laag. Ons glo dat ons inisiatiewe tot die lae syfer bydra en ook baie jong mense verhoed om aan die kriminele aktiwiteit deel te neem.”

Deur die Wilderness-stigting se Forever Wild- renosterbeskermingsinisiatief word verskeie ander projekte aangepak om stropery te voorkom. Dit sluit die opleiding van ʼn honde-eenheid in, wat proaktiewe en reaktiewe opleiding insluit. Op die reaktiewe front word daar spesifiek gefokus om die honde met kouespoor-vaardighede toe te rus. Die inisiatief help dat stropers opgespoor word as ʼn renoster reeds dae lank dood is.

Forever Wild help ook ander organisasies om wees-renosters te onderhou en te rehabiliteer, sodat hulle weer in die natuur vrygelaat kan word.

“Dis omdat dit die regte ding is om te doen en ons graag die diere vir toekomstige geslagte wil behou dat ons die inisiatief aangepak het. Ons almal moet en het ʼn bydrae om te lewer,” sê Kobus Wiese, voormalige Springbokrugbyspeler en eienaar van Wiesenhof en Dulcé Café.

kobus-wiese

Kobus Wiese. Foto: Satravelblog.com

Hy vertel aan Maroela Media dat dit as gevolg is van die onkunde van die mensdom dat baie diere nou bedreig is en op die punt is om as spesie uit te sterf. “Die Wilderness-stigting doen fantastiese werk wat opleiding en werkskepping betref en om mense bewus te maak dat die natuur nie onuitputbaar is nie.

“Daar is ʼn absolute tekort aan geld vir hierdie skobus oort werk en dus het ons besluit om ons te beywer om geld in te samel. Die feit dat koffie so ʼn groot medium is, het dit net die regte keuse gemaak. Cappuccino is die gewildste warmdrankie ter wêreld en elke kliënt weet hy maak ʼn bydrae.”

Wiese sê die inisiatief gaan egter nie by cappuccino eindig nie. “Ons het ʼn hele verskeidenheid koffies wat van ingevoerde Arabica-koffiebone gemaak word. Dié reeks gourmet koffies wat espresso, latté, macchiato en dies meer insluit, gaan ook nou by die veldtog om geld vir die Wilderness-stigting in te samel betrek word.

“Ons gaan selfs melkskommels hierby voeg, dat kinders ook van ʼn jong ouderdom bewus gemaak word oor die uitputbaarheid van die natuur.”

Wiese sê die ondernemings is tans ook daarop toegespits om minder plastiek in die winkels te gebruik, ten einde verdere skade aan die omgewing te stuit.

Wat is Wiese se gunsteling-warmdrankie? “Enige koffie wat ek by die Wiesenhof- of Dulcé Café-kettingwinkels kan drink,” terg hy.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

toy ·

Dankie Kobus, dit is lekker om sulke nuus te lees. Dankie vir julle skenking vir hierdie pragtige diere van ons land.

Bizza ·

Mooi so, Kobus. Ons sal jou winkels ondersteun waar ons kan.

WIEBO ·

Baie dankie, ek sal beslis die ondernemings ondersteun, asook die woord versprei vir groter ondersteuning!!

humor ·

Baie positiewe nuus kobus. Maar dink tog ook aan ons boeregemeenskap wat groot, groot koffieverbruikers is. So drie , vier kopppies in die vroee oggend voor hul kraal toe of landderye toe stap.

blom ·

Wonderlike gebaar mnr. Wiese, jy kan meer skenk, jou winkels is peper duur.

Goeie idee - boere ·

Kobus, mooi gedaan. En daar gooi iemand ‘n klip in die bos – wat van ‘n fonds te begin om die nood van boere en veral hul diere (vee en wild) wat erg ly onder die droogte, te help?

Kwagga ·

Baie mooi gebaar Kobus!!!!

Ons besigheid sal ook graag betrokke wil raak by so n projek maar niemand antwoord ons versoeke of eposse nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.