Wildspasteie pantser swaarkry danksy #HelpJag

Engela Potgieter by kleuters in haar kleuterskool tydens ’n bederfdag wat Helpende Hand onlangs daar aangebied het. Foto: Verskaf.

In die 16 jaar van Lekkergoedland se nederige bestaan in Booysens in die weste van Pretoria, het die eienaar en stigter, Engela Potgieter (65), daagliks met armoede te doen.

“Deur die jare het ek al baie swaarkry beleef, ’n mens kan ’n boek daaroor skryf. ’n Mens sien eerstehands hoe dinge swaar gaan as ouers skei, of ’n pappa of ’n mamma doodgaan – hoe enkelouers sukkel om kop bo water te hou. ’n Mens sien soveel hartseer,” sê Potgieter.

In 2003 het sy besluit om die kleuterskool by haar huis te begin om die swaarkry in haar voorstad direk aan te pak. Sy het met vyf kinders, waaronder haar eie kleinkinders, begin. Vandag sien sy om na 51 kleuters en maak ook seker dat naskoolse leerders daar ’n gesonde bord kos kry voor hulle met hul huiswerk begin. Dit is vir minstens 10 van dié kinders die enigste kos wat hulle op ’n skooldag kry.

“Ons koop onder meer maandeliks die kos aan met die hulp van Helpende Hand se Kosblikkie-projek. Ons het onlangs ook heerlike wildsvleis van Helpende Hand se #HelpJag-projek ontvang. Ek het al die vleis met lekker speserye in ’n stoompot gegooi en gekook tot die vleis van die been af val. Met die vleis het ons frikkadelle en groot wildspasteie gemaak. Die kinders het dit regtig geniet, want hulle het teruggekom vir tweede porsies. So dit sê vir my hulle is mal oor die lekker wildsvleis en dié bederf laat hulle bietjie van die swaarkry vergeet.”

Tannie Engela is nie net ’n moederfiguur vir die Booysens-kinders nie, maar haar kleuterskool verskaf ook werk aan sewe vroue uit die gemeenskap. Van dié vroue is self hulpbehoewend en woon in Wendyhuise. Hulle en hul kinders bad by die kleuterskool en hul klere word daar gewas.

“Die skool borg van die kinders wie se ouers nie geld het om die skoolgeld te betaal nie en van die kinders word deur weldoeners in die gemeenskap geborg. Dit is vir ons belangrik om vir almal ’n gelyke kans te gee; so ’n hulpbehoewende kind sal nie van sy maatjies uitgesonder word nie. Ons versorg selfs ’n hulpbehoewende sesjarige seuntjie wat outisties is.”

Potgieter moet die seun se identiteit beskerm, maar beskryf dié seuntjie as die vriendelikste, liefdevolste seun wat graag vir almal drukkies uitdeel.

“Sy pappa is blind, maar hy is ’n trotse man. Sy mamma is swaksiende met tonnelvisie. Daagliks loop pappa met sy seuntjie van sy huis af met sy loopstok. Hy noem dit hulle ‘bonding time’. Nie een van die ouers verdien ’n inkomste nie en is afhanklik van skenkings om in ’n huurhuisie oor die weg te kom. Hulle maak leë plastiek melk- en koeldrankbottels bymekaar om dit vir geld te verkoop. Die seuntjie moet eintlik in ’n spesiale skool wees, maar daar is nie geld vir ’n private instelling nie. Hy is nou op ’n waglys om by ’n spesiale staatskool ingeskryf te word. Dit is vir ons belangrik om hom ook hier te verwelkom sodat hy tussen ander kinders is, stimulasie kan kry en begin roetine aanleer.”

Potgieter verduidelik al die kinders kry daagliks pap, broodjies en ’n maaltyd en soms selfs ’n soet bederfie voor hulle in die middae huis toe gaan. “Die ouers het dan ’n geruste hart dat hulle goeie kos ingekry het en sal dan in die aande soms net iets ligs opdis, as hulle iets het,” voeg sy by.

Sy raak bewoë as sy oor haar roeping uitgevra word. “Hoekom doen ek wat ek doen? Want ek geniet dit om met die kindertjies te werk met die wete dat ek hul lewens ’n bietjie beter maak. Dit is vir my belangrik om vir hulle ’n veilige hawe skep – waar dit nie net vir hulle lekker is nie, maar waar hulle ook voorberei word vir die grootskool. ’n Mens wens net jy kan meer help,” sê sy.

Margolé Riekert, Solidariteit Helpende Hand se koördineerder van #HelpJag en die Kosblikkie-projek, deel dié storie met die publiek om te wys wat een van die eindprodukte is van jagters en ondersteuners se bydrae tot Helpende Hand se voedingskema, #StopHonger.

“Danksy jagters en die publiek en #StopHonger-ambassadeurs, soos Riana Nel, Steve Hofmeyr en Bobby van Jaarsveld, kan ons vanjaar aan 8 000 kleuters by 87 skole landwyd elke dag ’n gesonde bord kos voorsien. Die nood is egter groot en die behoefte word by die dag al hoe meer. Ons moet nou poog om in 2020 vir 12 000 kinders kos te voorsien. Dit is ’n massiewe 2,4 miljoen etes ’n jaar,” sê Riekert.

#HelpJag is in 2018 van stapel gestuur weens ’n tekort aan ʼn goeie, goedkoop bron van proteïene. Die projek moedig jagters aan om wildsvleis vir Helpende Hand te skenk om dié tekort aan te vul.

Jy kan betrokke raak en Helpende Hand só help om 2,4 miljoen etes vir 12 000 kleuters landwyd te voorsien. SMS die woord STOP na 38969 en skenk ʼn bord kos vir ʼn honger kleuter. Die SMS kos R10. Jagters kan www.helpjag.co.za besoek om by #HelpJag betrokke te raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willebees ·

Baie dankie vir wat jy vir die gemeenskap en kindertjies doen, jy is `n ongelooflike mens!

Transvaalse nooi ·

Daar is derduisende rooibokke in die kruger wildtuin, kan hulle nie ook daarvan skenk nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.