Ywerige jong entrepreneur wil eie tuindienste begin

Hanro Wenke. (Foto: verskaf)

Terwyl ander 11-jariges geld spaar om die jongste Xbox op die mark aan te skaf, het Hanro Wenke gespook om genoeg geld bymekaar te skraap om sy entrepreneursdroom te bewaarheid.

As baba het klein Hanro se pa, Steyn, hom rondgedra terwyl hy gras gesny het. Vandag, 11 jaar later, is Hanro ʼn ywerige jong sakeman met ʼn liefde vir grassny soos min.

“Ek dink dit is waar ek begin lief word het vir grassny, ek het gehou van die masjien se dreuning,” vertel Hanro aan Maroela Media.

En wat wil Hanro graag wees as hy groot is? Die antwoord is maklik vir dié jong besigheidsman: “ʼn Boer!”

“Hy was nog nooit ʼn huiskind nie,” vertel Nicolene, Hanro se ma, aan Maroela Media. “Ek het naderhand nie eers meer gewonder waar hy is nie want hy was altyd buite besig, of om gras te sny, of te boer saam met sy pa.”

Dié gesin het jare lank geboer in Tsitsikamma se wêreld voordat hulle onlangs Jeffreysbaai toe getrek het. Hanro kan, en wil, egter nog nie heeltemal sy wortels lostrek uit die wêreld buite die dorp nie. Nicolene lag wanneer sy vertel hoe dit soms vir haar vreemd is om die dorpskinders deesdae by hulle te verwelkom, “want ons het nie enige PlayStations of dinge nie”.

Hanro met die blaser wat hy voor gespaar het. (Foto: verskaf)

Wat hulle wel het, is ʼn nuwe blaser wat Hanro met sy eie spaargeld aangekoop het, en pa se grassnyer.

Nicolene vertel trots dat benewens Hanro se naskoolse aktiwiteite, wat rugby, krieket en atletiek insluit, bring hy sy vrye tyd in verskeie tuine in die baai se dorp deur. Hy het reeds sowat vier “kliënte” wie se gras hy gereeld sny, en het selfs gekies om sy Desember-vakansie eerder agter die grassnyer as voor die televisie deur te bring.

“Hierdie kind verbaas my werklik,” sê Nicolene. “Hy wys selfs nou al vir sy pa ʼn ding of twee.”

Hy het maande gespaar voordat hy die blaser kon koop, vertel Nicolene, en het nou sy oog op ʼn kantsnyer (weed eater). Tans gebruik hy meestal sy ouers se tuintoerusting om sy grassnywerk te doen, en doen dit eintlik net uit die liefde vir die saak. Sy ouers verskaf ook steeds die brandstof wat hy nodig het vir die toerusting.

(Foto: verskaf)

Sodra hy egter die kantsnyer aangeskaf het, sal Hanro se ouers hom begin toerus met ʼn paar lewenslesse oor geld, en hoe om dit volhoubaar te bestuur.

“Hy kan dan leer hoeveel geld nodig is om ʼn erf skoon te sny. Hy het nog nie heeltemal ʼn idee hoeveel wat kos nie, want ons verskaf nog alles. Dit gaan hom leer om te weet wat mens betaal en wat mens uitkry.

“Ek kan nie vir jou sê hoe trots ek op hom is nie. Ons sal ry en as hy enigsins gras sien wat te lank is, bied hy aan om te gaan sny.

“Ons het al baie keer vir hom gesê dat hy dit nie net verniet kan doen nie. Dit bekommer hom nie, hy het net hierdie liefde vir grassny en tuinmaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ester ·

Pappa en Mamma julle kan trots wees op hierdie seun wat julle grootmaak. Hy sal nog ver kom in die lewe… dit gee hoop vir ons kinders se toekoms.
Well done Hanro!

Karoo ·

Nou dis ‘n lekker storie. Hanro…. dit kan net beter met jou gaan. Skouer aan die wiel ou maat, dis wonderlik dat jy jouself so mooi kan uitleef en so eendag vir jouself sal kan sorg. Wat ‘n wonderlike voorbeeld vir almal.

Republikein in die Wes Kaap ·

Hierdie laaitjie het meer guts as “werklose” BAs, BComs, LLBs, BEngs en MBChBs.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.