Hoe om nou die storms in jou lewe te oorbrug

Die sakevrou Elma McKenzie. (Foto: Hanneri de Wet, Leef-tydskrif.)

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds (so gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg loop nie), poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig om hul eie lewe te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word. Die sakevrou Elma McKenzie, wat 40 jaar gelede Placècol-kosmetikareeks in Suid-Afrika begin het, vertel hoe sy in hierdie uitdagende tye sterk staan en inspirasie van God kry.

Elke krisis is God se geleentheid

In 2003 was ek op ’n bootvaart tussen Cork en Cardiff. Dit was ’n vreesaanjaende nagvaart op ’n uiters stormagtige see wat die skip onbeheersd oor die geweldige groot branders rondgeslinger het. Biddend het ek gewonder of ons dalk op die volgende Titanic vaar. Sommige reisigers het strompelend voortgegaan as of alles normaal was en ander was doodbang en gevul met vrees. Ek het geweet: God ís in beheer en ook op hierdie stormagtige see is Hy die Stuurman van ons lewe.

Ons het almal verskillende emosies in hierdie onvoorspelbare Covid-19-pandemie ervaar. Die skielike aankondiging van die grendeltydperk het ons min tyd gegee om deeglik daarvoor te beplan. Die onsekerheid van hoe lank nog; vrees of fobie; die magspel en onverstaanbare regulasies; werkverliese en finansiële skade; isolasie en weg van ons geliefdes en al die sielkundige implikasies van eensaamheid, spanning en onsekerheid. Dan besef ’n mens opnuut weer dat ons enigste sekerheid net in die Here is.

My lewensmotto is: “Elke krisis is God se geleentheid”. So sal Hy ook deur die grendeltyd, deur Covid-19 en deur ernstige krisistye met ons wees. Dit help nie om ’n mens te verknies, te kla of jou gedagtes met negatiwiteit te vul nie. Dankbaarheid stimuleer ’n positiewe gesindheid. Ek onthou woorde van ’n Hallelujalied uit my kindertyd: “Tel jou seëninge, tel hul een vir een. Seëninge jou deur God verleen”, en dit inspireer dankbaarheid ook in moeilike tye.

Dankbaarheid vir ’n huis, ’n warm bed, ’n bad, ’n yskas met kos, ’n selfoon met baie kontakpersone en vriende, die internet, die radio en TV… en die belangrikste van alles is die Woord van God.

Die grendeltyd het alles tot ’n stilstand gedwing – maar ook tot ’n geseënde stilstand om meer tyd in gebed deur te bring en om die Here se stem te hoor. Om weg te kyk van jou eie ervaringe en te fokus op hulle wat dit nie het nie. My hart bloei vir mense wat sonder kos is, wat wonder waar hulle gaan bly, hulle wat koudkry, hulle wat geen werk of genoeg geld het nie en gevolglik geen hoop meer oor het nie. Hulle vir wie die lewensstorm net té veel was!

Ek kon nie self aktief by Solidariteit Helpende Hand se uitreikaksies betrokke wees nie, maar het probeer om donasies in te vorder. Ons Afrikaners se gesindheid van liefde, omgee, welwillendheid en om ander in nood te help, is absoluut prysenswaardig.

Dit is goed as ’n mens selfstandig kan funksioneer. Ek het self gedurende die grendeltyd my huis silwerskoon gemaak; self gras gesny en die tuin onderhou (sukkelende, maar dit is gedoen!); kar gewas en alles netjies gehou.

Verstandelik is ek verryk deur al die baie verskillende webinare, aanlynkursusse, baie meer leestyd en tyd om self artikels en lesings te kon skryf. Ek het die Placècol-kosmetikareeks 40 jaar gelede in Suid-Afrika begin en dit het ook gelei tot ’n hele aantal virtuele personderhoude gedurende die inperkingstyd.

Ek is ’n ouer enkellopende vrou, maar ’n mense-mens. Ek was fisiek alleen, maar nooit “alleen” nie, want ek beleef die Here se tasbare nabyheid. Maar ek “moet” ook baie interaksie met mense hê. Daarvoor is ek ekstra dankbaar vir die video-oproepfunksie op my selfoon. Dit was my verbintenis met my kinders, my dierbaarste kleinkindertjies en al my vriende.

Die omslag van die FroueVonds A5-dagbeplanner vir 2021. (Foto: Verskaf.)

Dit is ook baie belangrik om roetine te behou, te oefen, mens daagliks goed te versorg (al sien niemand jou nie) en om gesond en gebalanseerd te lewe.

Die meeste sakeondernemings is swaar deur die inperking getref. Nog nooit in die geskiedenis was mense verbied om te werk nie. Ek is besonder jammer vir jonger mense wat moontlik baie sakeskuld moet afbetaal, hul huise en voertuie moet afbetaal, baie mediese uitgawes het en mense wat dalk hul werk verloor het.

Ons streef almal na sekuriteit en stabiliteit. Die Covid-19-pandemie het waarlik die mat onder ons mense se voete uitgepluk. Dan dink ek terug aan my ouma se verhale van hoe swaar dit gedurende 1931 tot 1933 tydens die Groot Depressie en erge droogte met hulle gegaan het. Daarna volg die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945)… en die Afrikaner het weer opgestaan – die land herbou, hard gewerk en in God vertrou.

Al sou ons nou platgeslaan wees, al sou ons ons stabiliteit en sekuriteit verloor het, dalk van ons geliefdes verloor het, ons het steeds ons Hemelse Vader – die almagtige God.

Hy wat die storms op die see en in ons lewens kan stilmaak en daarna vra: “Waar is julle geloof dan?”

  • Bestel nou jou FroueVonds A5-dagbeplanner vir 2021 met inspirasiestukke uit die pen van Lynette Beer. Met die aankoop verseker jy dat die FroueVonds studiegeleenthede vir behoeftige meisies en vroue moontlik kan maak. R50 van elke dagbeplanner word teruggeploeg in die FroueVonds. Plaas jou bestelling hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Androclus ·

AMEN PRYS DIE HERE,WANT AAN SY LIEFDE IS DAAR VIR ONS GEEN EINDE NIE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.