Jong Afrikaners plesierig by Erfenisfees

Marilu Dippenaar het haar eie Voortrekkeruitrusting gemaak vir die geleentheid. (Foto: Verskaf)

Die Voortrekkermonument in Pretoria het Saterdag ʼn Erfenisfees uit die boonste rakke aangebied, met boeredanse, sakresies, konsertinaklanke en koeksisters wat van dié dag ʼn Afrikaner-belewenis gemaak het.

Duisende mense het op die terrein van die monument byeengekom om hulle erfenis te vier. Die Erfenisfees is jaar ná jaar een van die grootste feeste op die Afrikaanse kultuurkalender en hierdie jaar was dit groter en beter as tevore.

Jaco Cilliers, hoof van erfenisbewaring van die Erfenisstigting, sê daar is hoop vir die toekoms van die Afrikaner-erfenis as daar in ag geneem word hoeveel kinders en jong mense by die fees opgedaag en deelgeneem het.

“Jy sien dit ook in die gemeenskappe, veral soos dié van die FAK-kultuurnetwerke, waar die plaaslike gemeenskappe gereeld hande vat om ons erfenis te bewaar,” sê Cilliers.

Benjan Knoetze, een van die feesgangers, het sê dit is vir hom inspirerend om te sien hoe mense, en veral jong mense, nog ou tradisies soos volkspele en boeredanse vier en geniet.

Die span van die plaaslike radiostasie LekkerFM het vroeg kom uitspan en die besoekers heeldag met Afrikaanse musiek vermaak.

Die Voortrekkermonument in Pretoria het Saterdag ʼn Erfenisfees uit die boonste rakke aangebied. (Foto: Verskaf)

In die monument se Senotaafsaal het talentvolle jong musikante ook musiek gemaak en van die gewildste klassieke Afrikaanse klanke deur die dag gespeel.

Besoekers is ook vermaak met alles van volkspele tot boeredanse, swartkruit-demonstrasies, ’n messeskou en ʼn uitstalling van die Pretoria Wewersgilde. Oudergewoonte was daar ook kosstalletjies, ’n biertuin en verskeie tierlantyntjies beskikbaar.

“Dit was baie lekker om vandag saam met my boetie te kon kyk na die kanonne,” voeg Anton van der Walt, ʼn 12-jarige feesganger, by.

“Die lekkerste deel was die boeresport en laserskiet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Watsenaam ·

Dis hoe gedoen word. Baie dankie julle hou die Afrikaanse blankes se naam hoog. Lees elders hier op Maroela hoe die mense van die Kaap erfenis dag gevier het. Dis skandalig soos hulledaar aan-gegaan het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.