Laerskool skep toevlug vir weerlose kinders

laerskool-generaal-beyers-atterbury-trust

Die Atterbury Trust help om die terapiekamer by Laerskool Generaal Beyers in die weste van Pretoria te befons. Foto: Atterbury Trust.

Dit is vir Atterbury ’n groot vreugde om terug te ploeg in die gemeenskap van Pretoria. Ons het ’n groot behoefte onder skole in Pretoria-Wes geïdentifiseer, veral die Afrikaanse skole wat minimale staatsondersteuning ontvang. Laerskool Generaal Beyers is een van die skole wat al baie jare lank onder ons vleuels is, en ons gee elke jaar ’n skenking wat aangewend kan word waar die behoefte die grootste is. Skoolhoof George Parker vertel van die terapiekamer wat met verlede jaar se skenking ingerig is.

Hoe lank is jy reeds skoolhoof by LGB en hoe het jy by die skool uitgekom?
Ek is hoof van Laerskool Generaal Beyers sedert Januarie 2014. Ek het baie jare by die Distrikskantore gewerk en in 2009 (April) het ek aansoek gedoen om die adjunkhoof-pos en was suksesvol.

Hoeveel kinders is in die skool, en wat is hulle huislike omstandighede?
Ons het tans 1 265 kinders in die skool van wie ongeveer 25% vrystelling ontvang vir skoolgeld. Ons gee daagliks vir ongeveer 250 kinders kos. Slegs 50% van die ouers kan die skoolgeld van R430 per maand wel bekostig. Ons maak geweldig staat op skenkings om ’n goeie diens aan leerders beskikbaar te stel.

Ons kinders is aan die onderpunt van die sosio-ekonomiese grafiek en beleef ongelooflike armoede en maatskaplike probleme. Ons het ’n hoë getal enkelouers wat geskei is of nooit getroud was nie, en ook geweldig baie kinders wat by oumas en oupas grootword of by ooms en tannies. Saamgestelde huise is ook volop. Baie van die kinders in ons skool bly in Wendyhuise wat in mense se agterplase opgerig is. Die uitdaging van die maatskaplike probleme is feitlik onhanteerbaar en die skool kan nie alleen die probleme na waarde aanspreek nie weens tekorte aan geld en personeel.

Sedert wanneer is Atterbury by die skool betrokke, en wat beteken dit vir die skool?
Atterbury Trust is sedert 2003 by ons skool betrokke en gee ’n jaarlikse skenking wat ons gebruik om ’n verskil aan leerders se lewe te maak. Hierdie geld word nie gebruik vir algemene uitgawes nie; ons probeer dit bestee aan projekte wat die lewe van leerders verbeter. Sonder die Trust se bydrae sal ons definitief ’n ondergemiddelde diens aan die gemeenskap lewer. Danksy Atterbury het die weerlose leerders ’n kans op oorlewing.

Hoe besluit julle waarvoor die skenkings aangewend word?  
Sedert ek hoof geword het, het ons besluit om die ouers se bydraes te bestee aan akademie en sport. Alle ander skenkings wil ons gebruik om die weerlose leerders te help om weer die lewe in die oë te kyk en dit met selfvertroue te kan doen. Dus identifiseer ons projekte waarvoor hierdie geld dan gebruik word.

Hoekom het julle besluit op ’n terapiekamer, en wanneer het julle dit ingerig en begin gebruik?
Ek het die geleentheid ontvang om die METT-groep se werksaamhede te sien danksy ons eie skoolsielkundige,Kobus Venter, en dit het die droom laat ontstaan om dieselfde diens by ons skool te vestig. Dit het egter terapieruimte geverg en baie geld as ons wou aanbou. Ons adjunkhoof, mnr. Lombaard, het met ’n blink plan vorendag gekom wat ons min sou kos vir die nodige kamers. Die oomblik toe die Atterbury Trust se skenking van R59 000 inbetaal is, het ons met die projek begin, in Oktober 2015. Die kamers is in Januarie 2016 voltooi en die METT-sentrum kon sy werksaamhede begin in ’n pragtige omgewing. In 2016 is die diens volledig in werking gestel en dus maak ons nou ’n verskil aan die lewe van ongeveer 600 leerders per jaar met individuele en groepterapie.

Hoe word die terapiekamer nou aangewend? Hoeveel kinders gebruik dit weekliks? Is daar ’n voltydse terapeut?
Daar is vier vertrekke wat gebruik word. Ons het weekliks ongeveer 50-100 leerders wat gebruik maak van die fasiliteit. Daar is drie studentterapeute, een maatskaplike werker, ’n opgeleide terapeut asook ’n voltydse opgeleide opvoedkundige sielkundige. Dis ’n ongelooflike voorreg om soveel hulp by die skool te hê. Daar is geen ander “arm” skool in Pretoria wat hierdie dienste van ons kan ewenaar nie. Ander skole wat sulke dienste lewer, is baie meer “gegoed”. Ek kan met alle eerlikheid sê ons verrig wondere met dit wat ons ontvang. Maar dis te danke aan Atterbury Trust; sonder hierdie borgskap sal ons nie hierdie ondersteuningsplan aan die minderbevoorregte leerders kon bied nie.

Watter verskil maak die terapiekamer aan die leerders se lewe?
Die terapiekamers is vir ons weerlose leerders soos ’n toevlug tot hulp. Dit verteenwoordig hoop, liefde en aanvaarding. Dit is die plek waar hulle hulself kan wees sonder om geoordeel te word. Hulle sien die kamers as hulle plek van veiligheid by die skool. Dit is die plek waar stukkende kinders weer heelgemaak word en waar verlore kinders weer hulle pad vind. Dit is die plek waar hartseer verwerk en ’n pad na geluk gevind kan word. Hierdie plekkie is belangriker as enige kantoor in die skool. Nie eens die hoof se kantoor is belangriker as hierdie vertrekke nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Marinda ·

Wonderlike werk Mnr Parker en Atterbury Trust!
Julle maak beslis die wêreld ‘n beter plek.
Blessings.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.