Monument plaas kollig op bewaring van historiese grafte

Verteenwoordigers van verskeie organisasies het kragte saamgesnoer om die Heldeakker op te knap. (Foto: Verskaf)

Verteenwoordigers van verskeie kultuur- en erfenisorganisasies het Donderdag by die Voortrekkermonument bymekaargekom vir ʼn opleidingsessie oor die bestuur, bewaring en beskerming van historiese grafte.

Die sessie is deur die Erfenisstigting (ES) aangebied en vorm deel van ʼn erfenisbewaringsprojek wat vroeër vanjaar deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) aangepak is, met verskeie organisasies wat kragte saamsnoer om die bestuur van die Heldeakker-begraafplaas in Pretoria te onderneem.

Prof. Anton van Vollenhoven, argeoloog, erfeniskenner en direksielid van die Voortrekkermonument, het ʼn deel van die werkswinkel aangebied en sê dit is belangrik om te weet watter prosedures om te volg wanneer dit by erfenisbewaring kom.

Prof. Anton van Vollenhoven sê dit is baie belangrik om die regte prosedure te volg en die wet in ag te neem voor jy ‘n projek aanpak. (Foto: Verskaf)

Tydens sy gesprek het Van Vollenhoven groot klem op kultuurhulpbronne geplaas en hoe hierdie hulpbronne, soos historiese grafte, deur die wet beskerm word.

“Die verklaring en beskerming van historiese en militêre grafte en begraafplase val onder die beskerming van die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronne Agentskap (SARHA),” verduidelik hy.

Geen herstelwerk, vervanging of verandering mag aan grafte of monumente gedoen word sonder die goedkeuring van dié agentskap nie.

“Dit is baie belangrik om ons erfenishulpbronne te beskerm en daarmee saam ook om dit op die regte, wetlike manier te doen. Die Wet op Erfenishulpbronne van 1999 moet geraadpleeg word en ʼn aansoek deur ’n geregistreerde erfenispraktisyn ingedien word alvorens enige werk aan erfenishulpbronne gedoen mag word.”

Leonie Marais het besoekers meer geleer oor die regte manier om grafte en ander erfenisskatte te hanteer, skoon te maak en bewaar. (Foto: Verskaf)

Leonie Marais, museumkurator en erfeniskenner, het by Van Vollenhoven aangesluit om hierdie opleidingsessie aan te bied. Tydens haar voorlegging het sy die organisasies toegespreek oor hoe om grafte en erfenishulpbronne op die regte manier skoon te maak en te onderhou.

Frans de Klerk, wat die sessie bygewoon het, sê dit was uiters insiggewend.

“ʼn Mens besef nie hoeveel skade alledaagse goed, soos sproeiers en waterskade of om grafte met seep te was of met ’n terpentyn-lappie af te vee, aan ʼn graf kan doen nie. Ek dink daar is heelwat mense wat in hul onskuld en onkunde probeer om grafte skoon te maak en dan per ongeluk meer skade doen, so dit is wonderlik om te kan kers opsteek by kenners om meer te leer oor hoe dit werk, veral wanneer ʼn mens betrokke raak by projekte soos dié van die FAK.”

Lizette Jansen, bestuurder van die ES se Erfenissentrum, sê erfenisbewaring is vir die organisasie van onskatbare belang en daarom het hulle besluit om deel te word van die projek en hierdie werkswinkel aan te bied.

“Die Erfenisstigting het hierdie grafrestourasie-werkswinkel aanmekaargesit vir die organisasies wat betrokke is by die FAK se Heldeakker-projek,” sê sy.

“Dit is vir ons belangrik dat almal wat by sulke projekte betrokke is, deeglik kennis dra van die wet en hoe om te werk te gaan wanneer mense grafte moet restoureer of selfs net skoonmaak, sodat mense die regte metodes gebruik en nie onwetend ons erfenisskatte dalk meer beskadig nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Truman Burbank ·

Ek is trots om te se ek was nog nooit in my meer as 50 jaar by daai son tempel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.