Op hiérdie dag is ’n saadjie geplant…

Duisende inwoners van Kaapstad het die Suid-Afrikaanse rugbyspelers ingewag om die Webb Ellis-trofee van nader te beskou. (Argieffoto: Henk Kruger, AP)

Dis nie waar dat niks in ons land verander het ná die Bokke se Wêreldbeker-sege nie.

Al sê wie, wát.

Geskiedenis bewys dat sport mense bymekaar bring. Dit strek so ver terug as die ontstaan van die Olimpiese Spele in Griekeland in die 9de eeu v.C. Koning Iphitos het op advies van die Orakel van Delphi ’n vreedsame sportkompetisie ingestel om die gewapende konflik wat die land geteister het, tot ’n einde te bring. Hiermee saam het Iphitos afgevaardig dat alle geweld in die landstreek sewe dae voor en vir sewe dae ná die Spele gestaak moet word om te verseker die Olimpiese atlete en hul families veilig na en van die Spele kan reis. Dit is toe in 1994 in die moderne Olimpiese Spele bekendgestel met ’n verwante Verenigde Nasies-resolusie wat twee jaar voor elke Spele afgekondig word.

Dit bring ons terug by 2 November se sege. Dis nou ’n maand ná die dag wat Suid-Afrikaners van oor die hele spektrum mekaar met trane in hul oë omhels het. En steeds het die debat oor óf die Bokke se oorwinning tot nasiebou bygedra het, voortgeduur.

Die EFF se opmerking in die parlement dat die Bokke se Wêreldbeker-oorwinning niks anders as fake unity is nie, het my ontstig, om die minste te sê.  Want wat ons as volk daardie middag in strate, restaurante, sjebiens en ander kuierplekke gesien het, kan nié ge-fake word nie.

Niemand kon onaangeraak gewees het deur daardie spontane vreugdesvulkaan wat uitgebars het nie.

Ons het met ander, “skoon” oë, na mekaar gekyk.

In plaas daarvan dat ons net vir ’n paar dae die vreugde van die triomf laat insink en dit net geniet het, moes sommiges koue water op die vreugdevure gooi en ons almal die (byna kinderlike) uitreik na mekaar, laat betwyfel en bevraagteken.

Was die gevoel van broederskap oor kleur- en kultuurgrense heen wél net ’n vlietende oomblik van euforie?

Ek wou self uitvind en het so oor die afgelope twee weke, waar ek ook al kom, vir ’n hele klompie mense dié vraag gestel.

’n Bejaarde wit oom het die wind uit my seile gehaal met sy erkenning dat hy die middag by sy plaaslike pub, pas nadat Siya sy hande met die blaas van die eindfluitjie in die lug gegooi het, ’n “anderskleurige” omhels het.

“Die oomblik was groot, dame. En daardie drukkie het my ’n knop in die keel gegee.”

Buhle, ’n finansiële raadgewer van Johannesburg (in sy vroeë dertigs) het die heersende sentiment wat reg deur my gesprekke geloop het dalk die beste opgesom:

“Ek voel so lekker in my hart oor daardie dag. Al was dit net ’n paar ure. Ons het almal vir ’n rukkie ons verskille opsygeskuif en gevoel wat kameraderie nou werklik is. Dat ons tóg maar broers is. Vyftien manne het ons in 80 minute as volk verenig! Man, it was special.”

Lizma van Zyl. Foto: Jaco Marais.

Ons sien dalk nie enige verandering in ons dag-tot-dag-lewe nie, maar glo my, daardie warm gevoel in ons harte het êrens ’n lêplek gaan kry.

Opwaarts! Voorwaarts!

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

John ·

Een oomlik van emosionele opwelling bring nie vrede nie… nie op die sportveld of na ‘n sege in ‘n bloedige oorlog nie al word die wonderlike emosie van goed voel daarna oor en oor oorvertel. Ooms wat gelukkig voel na ‘n rugbywedstryd en wag vir die volgende game raak verstar sodra die werklikheid die tv-versper. Ligsinnigheid word nèrens in die Woord as die pad na geluk aanbeveel nie ook nie ‘n langgesig nie. Waarom word eenheid/integrasie so nagejaag? Is dit omdat een party sodoende deur ‘n ander groep deur middel van omhelsing makliker verwurg kan word?

RP ·

Eenheid en integrasie word nagejaag want ons die mensdom vaar beter as ons saam werk. Baklei help niemand nie. Dit beteken natuurlik nie jy moet met alles saamstem wat ander se nie, maar probeer jou hand uitreik en werk saam, dis ons enigste oplossing.

“Die mens is n tropdier, dis saamwerk wat klop hier.”

jacques ·

In die goeie ou dae het Naspers vir Jaap Marais en Andries Treurnicht as verkramp beskou. Enigiets regs was volgens hulle verkramp. In hierdie tye gaan die verligtes se oe vinning oop, en word hulle bekeer en sluit graag by die verkramptes aan. Die media (lees laaste paar verligtes) probeer tog so hard om ons te oortuig dat die oorgrootte meerderheid nog steeds verlig is. Ek dink persoonlik die Webb Ellis beker het dit bewys, want ek het nie juis skares gesien juig en jubel hier in my tuisdorp nie. En Durbanville is ‘n konserwatiewe Afrikaanse nedersetting.

Feite ·

Die uiting wat gewone mense oor die kleurgrens heen gegee en teenoor mekaar gewys het, was soveel meer intens en emosioneel omrede gewone mense besef dat hulle deur politici se duistere motiewe daarvan weerhou word om na mekaar uit te reik, hande te vat en SA vorentoe te neem. Dit is n feit dat die politici in die land SA en Suid Afrikaners agteruit laat boer. Wit en swart is almal gyselaars van die politieke, sosiaal maatskaplike en ekonomiese ideologiese lippetaal situasie. Gewone mense ervaar die onderdrukking en sien die mislukkings en agteruitgang, hulle beleef dit en leef dit. Suid Afrikaners het die rugby wereldbeker eufories ervaar omrede dit die enigste sukses verteenwoordig waarmee alle Suid Afrikaners hulself mee kon en graag wou vereenselwig. Gewone Suid Afrikaners wil he Suid Afrika moet n suksesverhaal wees, maar weet ongetwyfeld dat dit polities hulle nooit beskore sal wees nie, daarom dat hulle na enige grashalmpies sal gryp, al is dit net om die gevoel van gemeenskaplike euforie te kan ervaar vir een oomblik in hulle lewe!

Martin ·

Wie ookal hierdie crap skryf leef in n droom wereld en is vreeslik Na-ief. Daar is n absolute haat teenoor die blankes in die land en solank dit aanhou sal geen basie saamstaan om versoening te bring nie. KYK na die res van die wereld en deur due hare. Solank daar kleur verskil is, in sekere gevalle taal verskil sal daar rassisme wees en bes wes oorlog ook. Ons probeer lugkastele bou en daar is geen verf in die wereld om dit mee te verf om werklikheid te word nie. Dis die verkoop can die lewe van die vroegste eeue af.

Thinus Erasmus ·

Ai ai die euphorie van die oomblik! Almal het die bokke se oorwinning aan harde werk, saamstaan en goeie afrigter toegeskryf, maar niemand het gesê: As Rassie dit kon regkry, dan kan André de Reuter ook! Nee daar word net na sy kleur gekyk.

RP ·

Nonsens, dis net die vakbonde wat teen Andre de Ruyter is, almal anders het gese hy is die regte man vir die werk.

Reenboog ·

Die een wat die naam reenboog nasie in die lewe geroep het, yl en is beslis kleurblind. Want daai denkbeeldige reenboog is swart. Die samesyn oor beker oorwinning is net om in ons gesigte te wees en ons soort van bystaanders te laat voel terwyl dit deel is van ons kultuur, geskiendenis, toekoms en voorspoed. Wurm hulle oral in.

Neels ·

Die media probeer so hard om hulle siening van n saak of gebeurtenis op die mensdom af te dwing . Gelukkig is daar nog mense wat helder kan dink . Die media moet hulle liefs besig hou met beriggewing , en ophou om mense op te sweep .

chrisp ·

Die dame praat van nasie bou. Watter nasie?
Die nasie en volk waarvan sy praat is baie meer ge-fake(om haar goeie Afrikaans te gebruik soos dit meestersgraad joernaliste betaam) as die vals eenheid uitlating van die EFF. Inteendeel hulle is baie nader aan die waarheid as die joernalis se hersingskim reenboog droom(die bewyse vir lg le die hele land vol).

Merkur ·

Op die skerwe van die nasiebou moet die Afrikaners weer op die Volksbou konsentreer.

Leon ·

Op die grond is daar geen probleme nie. Die probleem soos wereldwyd, is politici. Hulle maak vuur en blaas dit aan. Hulle sorg dat daar onmin kom. By my maatskappy het ons ‘n “reënboognasie”. Van bo, swart en wit tot onder, swart en wit werk en leef in vrede saam. Ons erken mekaar en mekaar se kultuur. Ons lag saam en ons huil saam.
Ongelukkig is daar groepe mense, en een wat hunker na pensioen, en die ANC, PAC, SAKP, EFF en BLF, wat nooit vrede in Suid Afrika wil bewerkstellig nie. Wat altyd wil konflik hê en wat ‘n burgeroorlog wil hê. Wel, Siener van Rensburg het voorspel hulle sal hulle burgeroorlog kry.

skurweberg ·

Meet altyd die volhoubaarheid van ‘n gebeurtenis soos die, waar die emosionele inpak groter was as die beginsel en uitwerking van die realiteite op die gemoedslewe van individue. Dan gesels ons weer oor hierdie aanname “

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.