Boelies en slagoffers, die voorkombare probleem

boeliebeleid-boelies

Foto: Argief.

Die afmetings wat hierdie probleem in ons land en skole aanneem, is doodeenvoudig skrikwekkend. En die ergste daarvan is dat dit grootliks voorkom kan word.

Die boelie-slagofferdinamika is ’n verhoudingsprobleem wat dalk al voor geboorte ontstaan. Ek gaan verduidelik hoe dit afspeel in elke lewensfase.

Voor geboorte en eerste maande

Weens verskeie voorgeboortelike stressors soos trauma, verhoudingsprobleme, spanning en onvoldoende voeding kan ’n baba reeds in die baarmoeder angs en onrustigheid ervaar. Hierdie baba word dan as ’n “moeilike baba” gebore – dalk die tipiese koliekbaba, die baba wat nie graag glimlag nie, wat moeilik is om tevrede te hou. Die ouers, die baba se eerste kennismaking met liefde en aanvaarding, sukkel om hierdie situasie te hanteer. Die spanning in die omgewing neem toe en ouers voel toenemend magteloos.

Veeleisende peuterstadium

Magtelose gefrustreerde ouers sukkel om die peuter te beheer. Daar ontstaan ’n patroon van kroniese straf; afsonderingstye (time-outs) en stouthoekies (naughty corners) word ingespan. Lyfstraf en vreesgebaseerde dissipline is al wat die ouers dikwels ken en dit word deurgaans ingespan om die kind met die “sterk wil” te beheer. Omdat hierdie dissiplinemodelle op vrees gebaseer is, laat dit die kind in ’n laer breinstaat, wat die reptielbrein of oorlewingsbrein genoem word. In hierdie breinstaat is daar net een van drie opsies, waarvan die kind een kies: veg, vlug of vries!

Daar ontstaan dus een van drie tipe kinders: Dié wat veg, dié wat vlug en dié wat vries (ingee, wit vlag hys). Ouers voel dat die dissipline werk wanneer hulle ’n kind het wat ingee, want nou het hulle die “sterk wil” onder beheer. Die nadele hiervan is legio, maar dit is nie die tema van hierdie artikel nie.

Ek gaan die res van die artikel aan die “vegters” en “vlugtendes” wy, want hulle word die “boelies” en “slagoffers”.

Die “vegters” se reaksie is van kleins af aggressie in elke situasie waar hulle bedreig voel, terwyl die “vlugtendes” kies om hulleself te onttrek van die situasie en in hulle eie dop te kruip.

Voorskoolse fase

Nou stap die lewe aan … en ons bereik die voorskoolse fase waar hulle na ’n kleuterskool gaan.

Die “vegter”  is geprogrammeer om te veg vir alles wat hy wil hê. Hy kom konstant in die moeilikheid. Weereens word time-outs en naughty corners ingespan en die kind word gebrandmerk as ’n stout kind. Hierdie kind word vinnig kwaad, slaan, skop en gryp. Hy ervaar ander kinders as ’n bedreiging, want hy word stelselmatig geprogrammeer om te veg as reaksie op ander se reaksie teenoor hom.

Die “vlugtende” verkies om nie te veel met ander kontak te maak nie, want dit is “onveilig”. Hierdie kind kruip in sy eie hoekie weg en niemand speel met hom nie. Hy gee maklik moed op en laat toe dat ander hom slaan, skop en sy speelgoed gryp. Hy verwag om sleg behandel te word en dit kom voor asof hy lui en ongemotiveerd is.

Laerskooljare

Alle kinders het ’n behoefte om te behoort. Maar die vegtendes en vlugtendes word nou al reeds deur onderwysers en ander kinders uitgestoot. Die emosionele pyn wat die kind ervaar, word in die brein dieselfde hanteer as intense fisieke pyn en die brein ondergaan verandering. Die breinpaadjies word gevorm om pyn en vrees te kan hanteer. Soos die lewe aanstap, beweeg die vegtendes en vlugtendes baiekeer nader aan mekaar. Die vlugtende word die vegtende se “eiendom” en die vlugtende ontlok baiekeer reaksie van die vegtende, want enige aandag is beter as geen aandag.

Tienerjare

Hierdie kinders word immuun teen gevolge; hulle gee doodeenvoudig nie meer om nie. Die deel van die brein wat op straf en motivering behoort te reageer, het afgeskakel en geen vorm van dissipline sal meer ’n uitwerking hê nie. Wanneer kinders sê “ek gee nie om nie”, sê hulle eintlik “ek voel nie asof enigiemand vir my omgee nie”.

Dit is wanneer hulle deel word van bendes (gangs), want daar ervaar hulle ’n gevoel van “behoort” en aanvaarding. Die boelietegnieke vererger en dinge soos kuberboelies kom ter sprake, veral in die geval van meisies.

Die brein verander in die geval van die boelie sodat hy/sy plesier daaruit put om ander skade aan te doen. Sowel boelies as slagoffers se liggame skei stowwe af wat die emosionele pyn van die lewe uitdoof, soos morfien fisieke pyn uitdoof.

Die boelie se empatie het “uitgeskop” of “van lyn af” gegaan en die slagoffer se pyn word so intens dat hy/sy selfdood toepas of selfs moord pleeg.

Die ironie van hierdie dilemma is dat die boelieprobleem met ’n beleid van geen geduld (zero tolerance) in skole aangespreek word, wat net die “vegtende” se ervaring van verwerping laat styg. Hierdie tegnieke sal nooit die probleem oplos nie. As vrees die manier was om “vegtendes” te laat ophou veg, sou die tronke leeg gewees het.

Nader asseblief ’n deskundige op die gebied van liefdevolle dissipline indien jy vir jou kind die beste hulp wil kry. Ek is bevrees dat metodes waar die straf net vererger met elke oortreding, nooit hierdie probleem sal hokslaan nie. Ons moet begin by die plek waar ons van kleins af problematiese optrede van kinders sien as geleentheid vir meer liefde, empatie, omgee en onderrig, eerder as geleentheid vir straf.

Karin Grobler

Meer oor die skrywer: Karin Grobler

Karin Grobler is ʼn ma, ouer-opleier (parent coach), spelterapeut, pastorale berader, beroepsvrou en ʼn volgeling van Jesus Christus. Sy het in 2013 haar M-Phil graad aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Karin het ʼn produk ontwikkel wat sy Gevoelsmaatjies noem, wat ʼn handige hulpmiddel is om kinders te help om emosionele vaardighede aan te leer. Besoek gerus haar webwerf.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

MM ·

Skors die boelies en moet ook in geen ander skool toegelaat word nie. Reguit verbeterings skool toe. Toe ek op skool was as iemand geskors was, was die leerling nie weer toegelaat in ‘n ander skool nie, maar vandag se kinders word groot gemaak met ….” ag siestog as shame my arme kind” Ek weet van ouers wat nou die slegte vrugte pluk daarvan.

Louis ·

Ek hoor wat Karin sê, maar my mening is nog steeds onveranderd ………………. ons leef in n tydperk van gehoorsame ouers !! n Goeie pak slae op die regte tyd, sal 80% van die probleme oplos, maar kinders word mos deesdae sielkundig groot gemaak en onderwysers het geen regte van dissiplinne nie, want “boetie en sussie” kan mos enige tyd `n klag van aanranding gaan maak ! My kinders het geweet, as die skool my sou laat kom het oor iets wat hulle aangevang het, en ek moes met `n “rooi” gesig voor die skoolhoof gaan sit ………… Eish !!! En hulle het dit baie goed geweet !!! Dit was egter nie eenkeer nodig in al my kinders se hele skool loopbaan nie !! “Spaar nie die roede nie” !!!

Jo'an ·

Stem my kinders het ook geweet n pak op dy tyd en die regte manier. My kinders is geboelie op skool aangerand een het in hosp beland. Die hoof het net gesê hy moet m man begin word. Ekt n klag gelê, boelie is geskors en toe, toe word hoof maar boelie. Ekt hom verkla selfs bewyse gegee toe word Mnr net verplaad. Ek verpes boelies. Wanneer eksien dat n kind geboelie word, al is dit n vreemde kind dan tree ek beslis tussenbeide . Ek duld nie n geboelie nie
Klaar.

PIXIE ·

Hi Louis, pakslae op die regte tyd en die regte plek is beslis die beste medisyne. Dan sal daar minder MOEILIKE kinders in die wereld wees. Moenie ‘n kind oor die kop slaan of deur die gesig klap nie vat hom badkamer toe, laat hom oor die bad se rand le en slaan sy boude aan die brand.

Karin Grobler ·

Ek is geensins ‘n voorstander van “gehoorsame” ouers nie. Die feit is dat ons voorbeeld harder praat as ons woorde. Om geweld met geweld te beveg is ‘n strategie wat wêreldwyd ingespan word, en natuurlik sal die sterkte een wen….my vraag is wat het ons dan gemodeleer? Hierdie geskorsde “boelie” is dan maar net iewers in die samelewing besig om verder verwoesting te saai. My pleidooi is vir empatie en begrip en hulp aan beide boelies en slagoffers. Dit vat heelwat meer energie…maar lewer meer goeie vrug. As geweld en vrees die manier was om boelies te beheer sou die tronke leeg gewees het……

Martin ·

Man, my ondervinding van die ding is dit. Die grootste boelies kan nie vat om geboelie te word nie.
My kind was geboelie op skool. Ek het sommer self daai groot “hero” gaan uitsorteer. Die storie loop vandag, jare later nog in daai skool, Take my word, daar word nie meer in daai pragtige skool geboelie nie. Die regte sielkunde het in die geval goed gewerk, en dit het onse “hero” se ouers nie ‘n sent gekos nie.

Karin Grobler ·

Jy het verseker die geveg gewen….maar dit was ‘n ongelyke geveg om mee te begin. Wat het jou kind in die proses geleer en wat het die ander kind geleer?

Ben ☺☺☺ ·

`n Boelie het maar net `n baie groot minderwaardigheids kompleks – as jy weet wat dit is, kan jy hom terugkry deur dit in die openbaar te noem.

Karin Grobler ·

Dus word ‘n ander boelietegniek ingespan om die aanvanklike tegniek teë te staan

Loeis ·

Wat die skrywer sê, is in ‘n baie groot mate waar. Ek is bewus van onderwysers wat kinders op wie slae geen uitwerking het nie, ‘n drukkie gee, en dit bring soms trane by daai kind te voorskyn (ten minste, op laerskool vlak). Ironies is daar mense wie reken dat so iets van die onderwyseres se kant heeltemaal onvanpas is.

Die probleem is egter baie meer kompleks as wat die artikel dit laat klink, en daar kan verskeie oorsake van boelie gedrag wees.

Iets wat taamlik algemeen is, is groepsvorming in hoërskole, dikwels in die vorm van rugby brigades wie dan oordrewe selfvertroue wys. Dis opmerklik hoe mak daardie selfde (dikwels arrogante seuns) is wanneer hul vriende nie by is nie. Enigeen wie nie deel van die kliek is nie, kan dan maklik ‘n teiken van hul klein ego sindroom word. Weereens is hierdie ‘n taamlike veralgemening, maar is een van die gesigte van die boelie sindroom en dis ‘n ope vraag of trauma die oorsaak daarvan is. Dit is dan daardie selfde mense wie as volwassenes met groot bakkies (gewoonlik met blou balle aan die haak) rondry en hul skool arrogante maniere op ‘n ander manier uitleef (die ooste van Pretoria is ‘n uitstekende voorbeeld daarvan).

Vir ander mag geld of mag (dit kan politieke mag, ‘n belangrike posisie in ‘n besigheid of ander organsiasie wees) ook daardie klein ego so bietjie beter laat voel. Boelie tegniek hoef nie fisies te wees nie.

Boelies kan sekerlik plesier uit hul gedrag ondervind, maar mag dit dalk ‘nodig’ hê om te funsioneer. Weereens kan daar verskeie oorsake wees. Hierdie oorsake gee natuurlik geen persoon die reg om ‘n ander emosionele of ander skade aan te doen nie, en waar nodig, werk ‘n goeie pak slae maar baie goed.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.