Ek mag nie op matriekvakansie gaan nie

vakansietyd

Foto: Nubia Navarro (nubikini)/Pexels.com

Iets waarna elke matriek uitsien, is daardie oomblik wanneer jy jou laaste vraestel geskryf en jy letterlik niks het om voor te leer nie. Daai maand of twee waar jy net jouself kan geniet voor die volgende fase van jou lewe begin.

Vir baie begin hierdie aftyd met ’n vakansie. Die vakansietradisie het begin as iets waarmee ouers hul kinders bederf nadat hulle die jaar hard gewerk het.  Dit word ook gesien as ’n geleentheid waar jy vir die eerste keer dalk op jou eie gaan vakansie hou en bietjie verantwoordelikheid moet neem – ’n soort oefenlopie vir die lewe ná skool.

Mettertyd het dit egter ontaard in iets wat baie ouers hoofbrekens gee: dis ’n groot uitgawe ná ’n jaar vol baie ánder uitgawes en voor ’n jaar waar daar nóg meer uitgawes gaan wees. Daarmee saam het baie matrieks na dieselfde plekke begin gaan: Hermanus , Margate en deesdae Plett. Ongelukkig het daar geweldig baie onaangenaamhede plaasgevind en is baie ouers bang dat dit met hul kinders gaan gebeur.

As jou ouers jou nie op ’n matriekvakansie wil of kan stuur nie, is daar tog ander opsies: dalk ’n plek nader aan die huis wat goedkoper is, of ’n plek wat rustiger is met minder moeilikheidmakers naby jou. Onthou, jou doelwit is ’n paar dae van lekker ontspan saam met jou skoolpelle; ’n laaste herinnering voor jul paaie dalk skei. Mens kan daardie ervaring op baie maniere verkry. Wees bietjie kreatief. Onderhandel mooi. Wys jou ouers hulle kan jou vertrou. Spaar bietjie van jou eie geld. En as jy dan gaan, geniet dit! En wys jou ouers dat jy reg is vir die nuwe lewensfase.

Dié artikel is deel van ‘n reeks om matrikulante aan te moedig en te motiveer tydens die eindeksamen.

Terloops, om jou matriekuitslae te kry was nog nooit só maklik nie. Maroela Media het die “Maroela Matrieks”-app ontwikkel om dit vir matrikulante so gerieflik as moontlik te maak om toegang tot hul uitslae te kry sodra dit vrygestel word. “Maroela Matrieks” is beskikbaar vir Android– en iOS-slimfone. Laai die app nou af, dis die eerste stap ter voorbereiding vir jou groot eksamen!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

humor ·

As die vormingsfase reg verloop het, behoort daar geen bekommernis aan die kant van die ouer te wees nie. Wat n plekkie soos Hentiesbaai of selfs soos Torrabaai.

Gemaskerde Sopbeen ·

Ek kon gelukkig op vakansie gaan want in my dae het die St 9’s en hulle ouers vir Matrieks ‘n matriekafskeid in die dorp se stadsaal gehou, en dit het die matrieks niks gekos nie want die St9’s het geld ingesamel deur die jaar. Hierdie jaar was my broer se dogter se matriek-afskeid rok een van die goedkoperes…..teen R5 000,00. En dit nadat jy R55K se skoolgeld betaal het………en nog ‘n vakansie het wat voorlê, en R16K om Januarie by die PUK te registreer….

charmaine ·

Van hulle kan bietjie leer hoe werk die grasmasjien, wasmasjien en die stoof dit moet hulle eeder leer dit is ook deel van groot mens wereld. Daar sal nog baie tyd wees vir vakansies, en by die plekke is daar altyd n gemors.

Skippie ·

Ek het my dogter en haar maats aan die einde van matriek op die Sinfonia laat gaan vir ‘n week, en daarna nog so paar weke in die Kaap geborg.
Was absoluut fantasties, rus en vrede in die ouerhuis na die spanningsvolle eksamen! ?

Jozi ·

@humor – ek stem saam.
My grootste bekommernis was altyd dat hulle net veilig sou reis.
Nie almal se koppies en toppies haak uit by die see nie.
Maar daar gebeur vreeslike goed, dit het ons al gesien, en vir sommiges is dit net die voorspel tot dit wat wag op universiteit.

Magaretha van heerden ·

Na 60 jaar uit die skool het ek eers onlangs verneem van so n vakansie van ons matrieks Dit was gladnie oop vir al;mal nie. Net n paar groot pelle het gegaan. Almal was duidelik nie deel van die “uitverkorenes” nie. Dit is nogal sad om na jare daarvan te verneem. Ek het dadelik begin werk om sodoende vir my eie Universiteits gelde te kon betaal. Snaaks genoeg dit het my nie skade gedoen nie net meer verantwoordelik gemaak. As ek so lees van al die probleme in SA verstaan ek gladnie dat mense nog steeds geld so mors nie. Gee liewer vir die mense wat die armes help of gaan werk met die minder bevoorregtes. Baie goeie ondervinding en dan word jy sommer gou gou groot en verantwoordelik.

Magaretha van heerden ·

Nou my kommentaar gestuur net soos in die verlede sien ek dit gladnie verskyn nie. Enige rede daarvoor?

liefie ·

Nou lag ek daaroor, my ma kon nie wag dat ons losies moet betaal nie, so het ons dadelik begin werk en daar was nie sprake van universiteit nie ten spyte daarvan dat ek ‘n beurs toegeken was. Baie jare terug ……

Jax ·

Nee wat hierdie vakansies na matriek is totaal onnodig! As die mammas en die pappas maar net weet wat die jong klomp regtig aanvang! Ek werk by van daai plekke en skaam my vir die jeug van vandag.
Die hele ding moet gestop word! My broerskind se matriekafskeid rok was duurder as my eie dogter se trourok – beide funksies die jaar gewees! Dit is absoluut belaglik!
Ek het onlangs gelees van die skoolhoof wat gereel het dat sy skool se matrieks in hulle skoolklere afskeid gehou het! 10 uit 10! In my oë moet hy die “skoolhoof van die jaar” toekenning kry! n Man wat op sy voete dink en wat werklik omgee vir sy leerlinge! Ons het baie sulke hoofde nodig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.