Verbruikersake: Ouers moet self besluit oor skoolklere

skoolskoene-2

Argieffoto

Die Mededingingskommissie het al ’n jaar gelede skole aangemoedig om te hou by die riglyne vir skoolklere wat daarop gerig is om teen-mededingende gedrag by skole uit te skakel, maar ouers wat al klaar onder finansiële stres gebuk gaan, kan nie help om te wonder wanneer iemand eintlik iets gaan doen wat die skoolklere eens en vir altyd vir almal goedkoper gaan maak nie.

Hulle besef nie dat hulle self die hef in die hand het nie. Baie ouers weet nie dat hulle die mag het om die skoolklere by hul kinders se skool te verander nie. Hulle kan dit egter net doen as hulle die regte vrae vra.

Nasionale Riglyne vir Skooluniforms

Die department van onderwys het al in 2015 die Nasionale Riglyne vir Skooluniforms uitgevaardig om die gebruik van ’n enkele verskaffer te ontmoedig omdat dit bydra tot ouers se finansiële las, maar baie skole het steeds eksklusiewe kontrakte met net een of twee verskaffers.

Die kommissie het in ’n ondersoek na teen-mededingende gedrag by skole twee jaar gelede gevind dat ’n aantal skole steeds net een verskaffer gebruik wat nie gekies is tydens ’n mededingende en deursigtige proses nie. Die meeste skole het toe ook aangedui hulle is nie bewus van die riglyne nie.

Die Nasionale Riglyne is al in 2006 vir die eerste keer in die Staatskoerant gepubliseer ten opsigte van die Skolewet. Volgens die riglyne speel skoolklere ’n belangrike sosiale en opvoedkundige rol. Openbare skole kan hul skoolklere behou, maar die beskikbaarheid van die skoolklere mag nie toegang tot die skool beperk of met mense se grondwetlike regte inmeng nie.

Volgens die riglyne beskou belanghebbendes skoolklere as ’n positiewe en kreatiewe manier om skoolkinders te identifiseer en dissipline en veiligheid by skole te bevorder. Skoolklere omseil ook groepsdruk om duurder klere te dra en keer diefstal van duur klere en bendegeweld, terwyl dit kinders ook help om beter te konsentreer.

Die Menseregtekommissie het twee jaar gelede gesê geen van hierdie redes word deur empiriese navorsing gesteun nie. Dit is nie ’n gegewe dat kinders wat nie skoolklere dra nie, slegte maniere het, gewelddadig is of lede van bendes is nie.

Net een verskaffer

Teen-mededingende gedrag is sleg vir ouers en nuwe winkels wat toetree tot die mark. Ouers kan nie kies waar hulle die skoolklere wil koop nie en moet tot R350 opdok vir iets so eenvoudig soos ’n wit skoolhemp met die skool se wapen op.

Gewone verbruikers het min geld. Werk is skaars en maandelikse uitgawes neem toe, terwyl salarisse nie tred hou nie. Dit kan tot R3 000 kos om vir ’n graad eentjie skoolklere te koop by ’n eksklusiewe verskaffer. Dis baie geld terwyl generiese skoolklere baie goedkoper is.

Die probleem is dat beter skole gewoonlik meer eksklusiewe en daarom duurder skoolklere het. Ouers, wat hul kinders graag die beste moontlike opvoeding wil bied, moet al klaar duisende rande opdok vir skoolfonds en kan dikwels beswaarlik die skoolklere bekostig.

Skole is nie beboet

Terwyl ander bedrywe, soos die broodbakbedryf, groot boetes moes betaal toe hulle nie aan die Wet op Mededinging voldoen het nie, het die kommissie nie boetes by skole gehef nie, aangesien daar so baie skole en ander oorwegings is wat ’n rol speel. Die kommissie het gesê skole moet fokus op hul primêre doel: om kinders op te voed. Die kommissie wou skole nie betrek by uitgerekte litigasieprosesse nie.

Volgens die kommissie het hy alle belanghebbendes, wat privaat skole, verskaffers, beheerliggame en die regering insluit, betrek en ooreengekom op die implementering van die riglyne. Die kommissie het ook ’n ooreenkoms gesluit met die Federasie van Bestuursliggame van SuidAfrika (Fedsas) om skole op te lei en aan te moedig om aan die riglyne te voldoen.

Ouers kan self iets doen

Ouers kan self iets doen deur die kwessie aan te roer by die beheerliggaam se jaarvergadering aangesien die beheerliggaam besluit oor skoolklere. Al vind hierdie vergaderings gewoonlik later in die jaar plaas, moet ouers nie vergeet hoeveel hulle aan die begin van die jaar moes opdok nie.

Die heel eerste vraag moet wees of die skool ’n ooreenkoms het met ’n bepaalde verskaffer en of daar net een verskaffer is. Hulle moet ook vra of die ooreenkoms gesluit is na ’n deursigtige tenderproses en vir hoe lank die ooreenkoms duur.

Die ooreenkoms behoort met soveel as moontlik verskaffers te wees om ouers die meeste opsies te gee en mededinging aan te moedig en die ooreenkoms moet nie so lank duur dat niemand anders ’n kans kry om te tender nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae